Beheer jou woede

2020-01-11
Spreuke 29:11 NLV

Woede is soos ‘n vuur: Wanneer dit beheer word, kan dit warmte en gemak meebring. Wanneer dit egter buite beheer raak, kan dit alles in sy pad vernietig. Die Bybel sê: “‘n Dwaas bars uit in woede. Iemand wat wys is, hou homself in toom.” Jy kan woede verbaal of deur stilte uitdruk. Wanneer jy stilte as ‘n wapen gebruik om iemand seer te maak, wend jy jou tot emosionele manipulasie en kinderagtigheid. Kan jy onthou hoe jy as kind gesê het: ‘Ek gaan nie meer met jou praat nie,’ wanneer iemand geweier het om te doen wat jy wil hê? Dit mag dalk aanvaarbare gedrag vir ‘n kind wees, maar nie vir diegene wat tot geestelike volwassenheid geroepe is nie. As jy geneig is om gereelde woedeuitbarstings te kry, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes om ter harte te neem: 1) ‘…Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem’ (Spreuke 16:32 NLV). 2) “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang. Hy stel sy eer daarin om ander se oortredings oor te sien” (Spreuke 19:11 NLV). 3) ‘Moenie gou kwaad word nie; ergenis hoort by dwase’ (Prediker 7:9 NLV). 4) ‘…Wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie’ (Jakobus 1:19-20 NLV). ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Vra dus vir God om jou te help om jou woede onder beheer te kry.

Sielskos: Eks 10-12; Matt 6:1-8; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2