Staan op God se Woord (1)

2020-01-21
Jeremia 1:12 NLV

Wanneer jy voor gevaar te staan kom. Dawid het gesê: “Ek sal vir die Here sê: ‘U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.’ Verseker sal Hy jou red uit die strik van die voëlvanger, en van die plaag wat vernietig. Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ‘n skild. Jy sal nie bang wees vir die skrik van die nag, of die pyle van die dag; vir die plaag wat in die donker kom, of die ramp wat teen die middag verwoes nie. Al sou duisend langs jou val, of tienduisend om jou sterf, naby jou sal dit nie kom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou, en die straf van die goddelose sien. As die Here jou toevlug is, as die Allerhoogste jou skuilplek is, sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie jou voet teen ‘n klip stamp nie. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. ‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom verlos; omdat hy my Naam ken, sal Ek hom beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel. Ek sal hom ‘n lang lewe gee, en hy sal my verlossing sien'” (Psalm 91:2-16 NLV). Let die frase: ‘Ek sal vir die Here sê’ op. Wanneer jy God se Woord oor jou lewe spreek, stel jy die krag daarin vry. Staan van vandag af vas en verwag dat God sy Woord sal eer!

Sielskos: Eks 33-35; Matt 8:28-34; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22

Wen-wen verhoudings

2020-01-20
Filippense 2:4 NLV

As jy net vir iemand iets gee om te sien wat jy daaruit kan terugkry, sal jy teleurgestel word. Die Bybel sê: ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.’ Wanneer jy jouself aan ‘n ander persoon vir daardie persoon se ontwikkeling en welstand oorgee, gee jy waarlik en sal God jou daarvoor seën. As jy ‘n ouer is of getroud is, sal jy dit uit persoonlike ervaring weet. Wat waardeer jou man of vrou die meeste? Geld in die bank, of jou tyd wat jy vrylik gee? Wat dink jy sal jou kinders eerder wil hê? ‘n Speelding, of jou volle aandag? Die mense wat vir jou lief is sal eerder vir jou, as die dinge wat jy hulle kan gee, wil hê. Dis wys om in jouself en jou loopbaan te belê, maar dit moet nooit ten koste van diegene wat die meeste saak maak, gebeur nie. As jy sukses in jou loopbaan behaal, maar jou geliefdes faal, sal jou sukses hol en jou spyt eg wees. Salomo was beroemd vir sy rykdom en wysheid. Tog het hy geskryf: ‘Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. En ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ‘n gejaag na wind nie…’ (Prediker 2:11 NLV). Leer uit sy foute. Moenie in goed belê nie, belê in verhoudings. Hier is hoe dit met die meeste verhoudings gaan: ‘Ek wen, jy verloor – ek wen slegs een keer. Jy wen, ek verloor – jy wen net een keer. Ons altwee wen – ons wen baie kere.’ Wanneer jy goed aan ander doen, belowe God dat goeie dinge na jou toe sal kom (sien Efesiërs 6:8).

Sielskos: Eks 30-32; Matt 8:18-27; Ps 89:1-14; Spr 2:20

Dis hoe dit werk!

2020-01-19
Genesis 4:4-5 NLV

Kain het die grond bewerk, die saad geplant, die oes bymekaar gemaak en aan God die vrugte van sy harde werk geoffer. Hy het gedink dat God beïndruk sou wees en dat Hy verplig sou voel om hom te seën. Dis egter nie hoe dit werk nie! Abel, aan die ander kant, het vir God gesê: ‘Ek het niks gedoen nie. U het die lam wat ek offer geskep. Ek gee net aan U terug wat u s’n is en vra U om dit te seën.’ En God het dit gedoen! Jy kan baie van ‘n persoon leer oor die wyse hoe hulle God benader. Sommige van ons maak asof God ons iets skuld. Ander van ons is so beïndruk met ons geestelike status en prestasies dat ons Hom met verhewe woorde en hoogdrawende frases benader. Dit beïndruk God egter nie! ‘…Die Here het Abel en sy offer aanvaar…’ Abel het nie, soos sy broer, krediet vir enigiets gesoek nie. Hy wou gehad het dat God al die glorie ontvang. Dis die tipe offer wat God se hart roer en sy rykste seëning op ons lewens uitnooi. Wat offer jy dus vandag aan God? Jou prestasies? Jou hoë stand in die geloofsgemeenskap? Jou selfvertroue? Jou vlak emosies? As dit die geval is, moenie die moeite doen nie! Die enigste ding wat Hy van jou vra, is om nederig jou hart vir Hom oop te maak en Hom toe te laat om jou in Jesus se beeld te omskep. Wanneer jy dit doen, gebeur daar iets wonderliks. Hy sal jou offer ontvang en respekteer, jou seën en jou toerus om ander te seën, wanneer jy jou eie selfbelang ontken en aan God ‘n aanvaarbare offer bring. Dis hoe dit werk!

Sielskos: Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168

Hoe om ‘n gevestigde volwassene groot te maak

2020-01-18
Psalm 102:29 NLV

Wanneer jy ouers oor hulle hoop vir hul kinders se toekoms uitvra, sal jy woorde soos gelukkig, gevestig en selfversekerd hoor. Dit is mooi sentimente, maar dis nie gewaarborg nie. Wat maak egter so ‘n volwassene? ‘n Kindertyd gevul met trofeë en goeie punte? ‘n Lewe op die platteland, ver van die misdaad van die stad af? Verrykende aktiwiteite soos reis en musiek? Die waarheid is dat geen een van hierdie dinge latere geluk voorspel nie. Dit beteken nie dat jy nie jou kinders moet aanmoedig om te studeer en uit te blink nie; dit maak wel ‘n verskil om ouers te hê wat kennis waardeer. Die belangrike kwaliteite is egter nie uiterlik nie, maar innerlik. Die sielkundige, dr Edward Hallowel, sê dat kinders twee noodsaaklike vaardighede moet ontwikkel om veilig te voel: 1) Die vaardigheid om teenspoed te oorkom. 2) Die kapasiteit om vreugde in stand te hou. Hy sê: ‘Die lewe is vol teleurstellings. Slegs deur die eerste keer te faal en aan te hou probeer, sal ‘n persoon die meeste uit sy vaardighede put.’ Hoe leer jy egter jou kinders om vreugdevol in die aangesig van teenspoed te wees? Daar is net een manier om dit te doen: Stel hulle aan die bron van vreugde bekend. Jesaja het gesê: ‘Ek is bly in my God! Want Hy het vir my klere van redding aangetrek…’ (Jesaja 61:10 NLV). Dawid het gesê: ‘…in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). Jeremia het gesê: ‘…U woorde het my bly gemaak…’ (Jeremia 15:16 NLV). God het ons nooit ‘n lewe sonder probleme beloof nie maar sy Woord sê: ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… vreugde…’ (Galasiërs 5:22 NLV).

Sielskos: Eks 28-29; Matt 8:10-17; Ps 84; Spr 2:16-19

Die regte brandstof vir jou gedagtes?

2020-01-17
Romeine 12:2 NLV

Ons prestasie word deur dit wat ons verbruik, bepaal. Dis hoekom jy versigtig moet wees met wat jy jou liggaam, jou kinders, jou troeteldiere en selfs jou kar voer. Dit waarmee jy jou gedagtes voer is net so belangrik, veral wanneer jy hierdie twee lewenswette oorweeg: 1) Die wet van kognisie. Jou gedagtes beïnvloed jou emosies en jou gedrag. Jesus het gesê dat ‘n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie en dat ‘n slegte boom nie goeie vrugte kan produseer nie (sien Matteus 7:18). Met ander woorde, goeie denke kan nie slegte resultate produseer nie, net soos slegte gedagtes nie goeie resultate kan produseer nie. 2) Die wet van blootstelling. Die Bybel sê: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ Jy sal altyd aan dit waaraan jy die meeste blootgestel word, dink. As mens kyk na die geweld, belusting en gierigheid wat deur die media uitgebeeld word, is dit g’n wonder dat misdaad en onsedelikheid hoogty vier nie. Jy kan nie net sê: ‘Ek gaan hierdie tydskrif lees, hierdie program kyk, na hierdie musiek luister, maar dit sal my nie affekteer nie.’ Sosiale wetenskaplikes bevestig wat God nog altyd sê – dit affekteer jou wel! Waar jy gaan, wat jy lees (of nie lees nie), wat jy kyk en die drome wat jy het, vorm jou gedagtes. Paulus skryf: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (Kolossense 3:16 NLV). Wanneer jy dus die regte brandstof vir jou gedagtes nodig het, onthou: ‘[God se] boodskap kan julle geloof sterk maak en dit kan julle help om te weet dat God vir julle die dinge sal gee wat Hy belowe het om vir al die gelowiges te gee’ (Handelinge 20:32 ABA).

Sielskos: Eks 25-27; Matt 8:1-9; Ps 81; Spr 2:11-15

Soeke na ‘n lewensmaat

2020-01-16
2 Korintiërs 6:14 NLV

‘n Os en ‘n donkie het altwee ‘n stert, twee oë en vier bene. Wanneer jy hulle egter saam inspan, sal hulle nie oor die weg kom of goed saamwerk nie. Hulle sal inderwaarheid in twee verskillende rigtings trek, omdat God hulle met baie verskillende geaardhede en eienskappe gemaak het! Met hierdie prentjie in jou gedagtes, is hier raad oor hoe om ‘n goeie lewensmaat te soek. Skoonheid vergaan gou, kies dus iemand wat ander, minder opsigtelike eienskappe het. Byvoorbeeld: 1) Dink na oor hulle maniere en die manier wat hulle die kelner by die restaurant behandel. 2) Watter belangstellings het hulle? 3) Deel hulle jou geestelike waardes en oortuigings? 4) Is hulle waarlik geïnteresseerd in dit wat jy te sê het? 5) Hoe behandel hulle mense wat hulle nie probeer beïndruk nie? Sodra die nuutheid van die aanvanklike aantrekkingskrag getaan het, moet daar iets meer wees, anders is die verhouding gedoem. Maak ook seker dat jy die kieser en nie die gekose een is nie. Dink wat jy regtig wil hê en moenie jou hart aan iemand toevertrou voor jy eers hulle geskiktheid bepaal het nie. Die enigste manier om dit te doen is om hulle vrae te vra en X-straal visie te ontwikkel, sodat jy hulle motiewe deur hulle optrede kan lees. As jy ‘n ingeligte besluit gaan maak om jou lewe en die mees intieme, weerloosste dele van jouself (letterlik en figuurlik) met hom of haar te deel, moet jy jou oë en al jou ander sintuie oopmaak en regtig na die ander persoon kyk. Stop. Kyk. Luister. Bid. Dis die Bybelse formule om ‘n wyse besluit te neem wanneer jy ‘n lewensmaat kies.

Sielskos: Eks 22-24; Matt 7:15-29; Ps 79; Spr 2:9-10