2020-01-27
Genesis 16:9 NLV
Die Bybel sê: ‘…Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar weggeloop het. Die engel van die Here het haar by ‘n fontein in die woestyn op pad na Sur gekry. Die engel sê vir haar: ‘Hagar, diensmeisie van Sarai, waar kom jy vandaan? Waarheen gaan jy?’ ‘Ek loop weg van my meesteres,’ antwoord sy. Toe sê die engel van die Here vir haar: ‘Gaan terug na jou meesteres toe en wees aan haar onderdanig.’ Die engel van die Here sê ook: ‘Ek sal vir jou ‘n groot nageslag gee wat nie getel kan word nie’ (verse 6-10 NLV). Hagar het die engel gehoorsaam en toe haar seun Ismael gebore is, het God gesê: ‘Wat Ismael betref, Ek sal hom ook seën soos jy gevra het. Ek sal hom seën met ‘n ryke nageslag wat ‘n groot nasie sal word; twaalf heersers sal uit hom voortkom’ (Genesis 17:20 NLV). Die meeste van ons hou nie van die idee om onderdanig te wees nie; en God het vir Hagar daardie dag na ‘n moeilike plek teruggestuur. Toe sy egter gehoorsaam was, het Hy haar geseën. God, wat die einde van die begin ken en goeie dinge uit die slegte meebring, het jou beste belange op die hart. Selfs al is dit moeilik, sal Hy jou seën wanneer jy gehoorsaam is. Hy sal jou die genade en krag gee om dinge in jou lewe te bereik wat nie op ‘n ander manier moontlik sou wees nie. Deur te probeer om uit jou huidige situasie te ontsnap, mag jy dalk weghardloop van die les wat God jou wil leer en die belonings wat aan die ander kant daarvan wag. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Gaan terug en wees onderdanig.’
Sielskos: Jes 8-11; Matt 10:11-20; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10
2020-01-26
Filippense 1:23 NLV
Wanneer die dood iemand wie jy liefhet kom haal het. Satan sal probeer om jou met berouvolle gedagtes oor dit wat jy vir jou geliefde gedoen en nie gedoen het nie toe hulle nog hier was, te martel. Moenie na hom luister nie! Die Bybel noem hom ‘die aanklaer’ (sien Openbaring 12:10). Verbly jouself eerder dat julle eendag vir ewig in die hemel herenig sal word. Gee jouself toestemming om te rou en wanneer die rouproses eindig, staan op God se Woord: ‘Liewe broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ‘n toekomsvooruitsig nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf het én opgestaan het, moet ons ook glo dat God dié mense wat gesterf het terwyl hulle in Jesus glo, saam met Jesus sal terugbring’ (1 Tessalonisense 4:13-14 NLV). ‘Ons liggame wat in die grond geplant word, is maar heel gewoon, maar hulle sal in glansende heerlikheid opgewek word. Hulle is maar baie broos wanneer hulle geplant word, maar hulle sal vol krag wees wanneer hulle opgewek word’ (1 Korintiërs 15:43-44 NLV). ‘Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en vertrou ook ten volle op My. In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak… Ek kom terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is’ (Johannes 14:1-3 NLV). Paulus skryf: ‘om te vertrek en persoonlik by Christus te wees… is vir my verreweg die beste.’ Leun vandag op hierdie woorde van die Skrif en vind vertroosting daarin.
Sielskos: Luk 10:25-37; Ef 4:31-32; Gen 50:15-21
2020-01-25
Psalm 34:19 NLV
Wanneer iemand jou hart gebreek het. Wanneer iemand vir wie jy lief is jou hart breek en jou vertroue verraai, is jy op ‘n weerlose plek. Die Vyand sal die ervaring gebruik om jou sover te kry om vier dinge te doen wat jou seerder sal maak, jou geestelik sal ontspoor en God se seën van jou sal steel: 1) Jy isoleer jouself en vervreem en vermy ander mense. 2) Jy verloor jou sin van vertroue en verdink die beweegredes van almal wat jy ontmoet. 3) Jy laat bitterheid toe om ‘n impak op jou verhouding met jou familie en diegene in jou sirkel van invloed te hê (sien Hebreërs 12:15). 4) Jy slaan terug en vergeld kwaad met kwaad (sien 1 Tessalonisense 5:15). Moenie dit doen nie! Staan eerder op God se Woord: ‘Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is.’ ‘…Ek sal hulle gehuil in blydskap verander. Ek sal hulle troos. Ek sal hulle vreugde gee in die plek van hartseer’ (Jeremia 31:13 NLV). ‘Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig… dat gevangenes vrygelaat sal word, die blindes sal sien, die onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (Lukas 4:18 NLV). ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Het iemand verkeerd teen jou opgetree? Vergewe hulle – en hou aan om hulle te vergewe totdat jy vryheid in jou gedagtes ervaar. Dis ‘n daaglikse gewoonte wat soms soos drie treë vorentoe en twee treë terug voel. As jy egter jou oë op Jesus hou, sal jy daar kom.
Sielskos: Jes 4-7; Matt 10:1-10; Ps 100; Spr 3:7-8
2020-01-24
1 Korintiërs 10:13 NLV
Wanneer jy jou huweliksbeloftes verbreek. Jy oortree God se Woord, breek jou eggenoot se hart, lewe met die vrees om uitgevang te word en ruil korttermyn plesier vir langtermyn pyn. Voor jy dus betrokke raak, soek God se hulp en staan op sy Woord. ‘Respekteer die huwelik in alle omstandighede. Wees getrou aan julle huweliksmaats. God sal almal wat immoreel lewe en in die huwelik ontrou is, in die oordeel bring’ (Hebreërs 13:4 NLV). ‘Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, alles wat julle onwaardig maak om God te ontmoet, wellus, slegte begeertes en gierigheid…’ (Kolossense 3:5 NLV). ‘…Ons moet nie betrokke wees by… seksuele en losbandige uitspattigheid… nie. Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek’, en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie’ (Romeine 13:13-14 NLV). ‘Vlug dus weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ‘n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie… Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is teen ‘n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggame verheerlik’ (1 Korintiërs 6:18-20 NLV). ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). As jy met die idee speel om ‘n affair te hê, of as jy alreeds in een is, of as jy probeer om uit een te kom, staan vandag op die Woord van God en glo Hom vir ‘n oorwinning.
Sielskos: Jes 1-3; Matt 9:27-38; Ps 96; Spr 3:5-6
2020-01-23
1 Korintiërs 9:25 NLV
Wanneer jy probeer gewig verloor. Studies bevestig dat meer as die helfte van die mense in die westerse wêreld vandag oorgewig is. As jy een van die baie mense is wat teen ‘n gewigsprobleem en die herhaalde siklus van mislukking wat daarmee gepaardgaan stry, is daar vir jou goeie nuus: God kan jou die stryd help wen! Dikwels gaan dit nie oor wat jy eet nie, maar wat aan jou knaag. Ons ooreet om vertroosting en verligting van stres en angs te kry, maar dis ‘n korttermyn oplossing en dit werk nie. Die Psalmdigter het reguit na die wortel van sy probleme gegaan: ‘Deursoek my, o God en ken my hart; toets my onrustige gemoed. Kyk of daar enige gebrek by my is, en lei my op die ewige pad’ (Psalm 139:23-24 NLV). God kan die angstige gedagtes binne-in jou verlig. Die Heilige Gees is die beste berader in die wêreld. Wanneer jy jouself aan Hom oorgee en Hom vra om in jou te kom bly, ontdek jy dat: ‘…as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV). Hy kan jou die krag gee om jou eetlus te beheer en volgens die volgende Skrifgedeelte te begin lewe: ‘Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV). Maak dus die volgende jou gebed vandag: ‘Here, U alleen kan my gesond maak. U alleen kan my red sodat ek veilig kan wees. U alleen prys ek!’ (Jeremia 17:14 NLV). Die woord vir jou vandag is: met God se hulp kan jy gewig verloor en dit vir altyd afhou.
Sielskos: Eks 39-40; Matt 9:14-26; Ps 91; Spr 3:3-4
2020-01-22
Psalm 119:50 NLV
Wanneer jy in pyn is. Soms lig God jou uit jou situasie uit. Ander kere, dra Hy jou daardeur en maak jou sterker deur sy liefde en getrouheid aan jou te bewys. Soms verlig Hy jou van die pyn; ander kere onderskraag Hy jou te midde daarvan. As jy vandag in pyn is, lees hierdie beloftes uit God se Woord en staan daarop: ‘Laat u troue liefde my nou vertroos soos U aan u dienaar beloof het. Laat u medelye my oordek sodat ek kan lewe…’ (Psalm 119:76-77 NLV). ‘Draai u gesig na my en bewys genade aan my, want ek is alleen in diepe nood. Die kwelling van my gedagtes word al meer. Verlos my tog uit hierdie ellende! Kyk na my pyne en kwellinge, en vergeef tog al my sondes’ (Psalm 25:16-18 NLV). ‘Wanneer mense roep om hulp, hoor die Here. Uit al hulle moeilikhede red Hy hulle. Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is. Die regverdige kan baie rampe ervaar, maar uit elkeen van hulle red die Here hom. Want die Here beskerm selfs elke been. Nie een van hulle sal gebreek word nie’ (Psalm 34:18-21 NLV). ‘Here, U alleen kan my gesond maak. U alleen kan my red sodat ek veilig kan wees. U alleen prys ek!’ (Jeremia 17:14 NLV). Let op, God se beloftes vernuwe en vertroos ons in al ons probleme. Jou Bybel is ‘n voorskrif van die Groot Geneesheer self; en die etiket op die bottel lees: ‘Neem soos nodig vir pyn.’
Sielskos: Eks 36-38; Matt 9:1-13; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2