2020-02-02
Eksodus 15:26 NLV
Hoekom word elke persoon vir wie gebid word nie gesond nie? God sê nie vir ons nie. Ons weet dat vertwyfeling en ongeloof sy wonderbaarlike krag in ons lewens kan verhinder. Toe Jesus na sy tuisdorp waar die mense Hom die beste geken het teruggekeer het, lees ons: ‘As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke verrig’ (Matteus 13:58 NLV). Daar is egter aspekte van genesing wat ons nooit ten volle sal verstaan nie. Paulus skryf: ‘…Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat’ (2 Timoteus 4:20 NLV). Hoekom sou Paulus, wat die dooies opgewek het, ‘n siek vriend agtergelaat het in plaas van om te bid en hom te genees? Daar is baie dinge van God wat ons nie weet nie, maar daar is een ding wat ons wel weet: ‘…Ek is die Here wat julle gesond sal hou.’ Omdat Hy gesê het: ‘Ek is die Here, Ek verander nie…’ (Maleagi 3:6 NLV), en ‘Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV), kan ons na Hom vir genesing, gebaseer op sy Woord, gaan. Een van die laaste stellings wat Jesus gemaak het voor Hy die aarde verlaat het, was: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Glo jy dat God steeds mense vandag genees? As jy doen, gehoorsaam dan hierdie Skrifgedeelte: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan…’ (Jakobus 5:14-15 NLV). Die woord vir jou vandag is: Moenie moed opgee nie – glo God vir jou genesing.
Sielskos: Luk 6:27-36; Eks 23:1-9; Rom 12:14-21
2020-02-01
Lukas 22:40 NLV
Jy kan jou beste gesig opsit in ‘n poging om ander mense te oortuig dat jy beter doen, maar diep binne-in jou weet jy in watter areas jy die meeste in die versoeking kom en misluk. As jy regtig eerlik met jouself is, is die kans goed dat jy telling in jou gedagtes hou. Ander mense mag jou dalk ‘n A of ‘n B op jou rapport gee, maar jy druip jouself. Wanneer dit te gereeld gebeur, kom jy op die plek waar jy begin dink: ‘Wat is die punt om God om vergifnis te vra? Ek gaan net dieselfde sondes oor en oor pleeg en weer na Hom toe moet teruggaan.’ Daar is egter ‘n oplossing. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Hou aan bid dat julle nie in die versoeking beland nie’ (sien Matteus 26:41 NLV). Met ander woorde, bid voor die versoeking kom en jy sal krag kry en bewapen word om dit te hanteer. ‘Maar ek het al daaroor gebid!’ antwoord jy. Bid dan meer! Voor Jesus die storm op die see van Galilea gekalmeer het, het Hy die hele nag in gebed deurgebring. Skakel jou televisie, jou rekenaar, jou selfoon en enige ander afleidings af en spandeer tyd met God. Jy kan ‘n punt in gebed bereik waar jy ‘weet’ dat God jou die krag wat jy nodig het gegee het en dat oorwinning verseker is. Paulus het gesê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). Wat het jy nodig sodat jy nie sal misluk nie? God se genade om jou te vergewe – en sy hulp om versoeking teen te staan. Bid dus voor die versoeking kom en God sal jou ‘n oorwinnaar maak.
Sielskos: Jes 30-33; Matt 11:20-30; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26
2020-01-31
1 Johannes 1:9 NLV
Ten spyte van ons beste bedoelings en pogings, skiet ons te kort aan God se vereistes (sien Romeine 3:23). Wat is dus die antwoord? ‘As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede. As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ‘n leuenaar. Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie’ (1 Johannes 1:8-10 NLV). Wanneer dit by God se vergifnis kom, is dit beter om te weet as om te voel. God se vergifnis werk as volg: Bewustheid van sonde lei tot oortuiging van sonde. Oortuiging van sonde lei tot belydenis van sonde. Belydenis van sonde lei tot reiniging van sonde en reiniging van sonde lei tot vrymoedigheid voor God (sien 1 Johannes 3:21-22). Jy sê: ‘Ek voel nie waardig om God se vergifnis te ontvang nie.’ Jy sal nooit waardig daarvoor wees nie! God se vergifnis is nie op jou waardigheid gebaseer nie, maar op Christus s’n! God is ook nie soos jou ouers nie; Hy dring nie daarop aan om jou vir ‘n tydperk te straf sodat jy jou les kan leer voor Hy jou vergewe nie. Dit sou beteken dat jy deel daaraan gehad het om sy vergifnis te verdien. Jy ontvang dit deur genade en slegs deur genade (sien Efesiërs 2:8-9). ‘Genade’ beteken ‘onverdiende guns.’ Wanneer God jou dus vergewe, eer Hom deur jouself te vergewe en aan te beweeg.
Sielskos: Jes 26-29; Matt 11:10-19; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24
2020-01-30
Psalm 22:4 NLV
Die plek waar jy woon is jou huis. Wanneer jy God dus prys, sê jy: ‘Maak U tuis, Here.’ Waar woon God? Hy het baie verskillende adresse en elkeen van hulle is ‘lofprysing.’ Net soos ons ‘n dieper intimiteit met die mense met wie ons ons lewens by die huis deel, geniet, net so skep lofprysing ‘n sin van intimiteit tussed God en ons. Net soos woorde van liefde en waardering twee mense nader aan mekaar bring, so bring woorde van lofprysing jou nader aan God. Die Japanese het ‘n wonderlike gesegde om dit te verduidelik. Net soos hulle keiser eens op ‘n tyd op ‘n troon rondgedra is en die mense sou stop en voor hom buig, sê hulle: ‘Wanneer ons God prys, skep ons ‘n sitplek en Hy kom af en sit daarop.’ Vyf keer in twee opeenvolgende teksverse word ons beveel om God te prys. ‘Prys God, prys Hom; prys ons Koning, prys Hom! Want God regeer oor die hele aarde. Sing vir Hom ‘n pryslied! (Psalm 47:6-7 NLV). Wanneer God dieselfde opdrag vyf keer in twee verse herhaal, doen Hy dit om seker te maak dat jy die boodskap kry. Jy sê: ‘Maar ek kan glad nie sing nie, ek klink soos ‘n kattekoor.’ Luister na ‘n CD van lofprysing en neurie saam. Die Psalmdigter het geskryf: ‘U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Ek wil U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef’ (Psalm 63:3-4 NLV).
Sielskos: Jes 22-25; Matt 11:1-9; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20
2020-01-29
1 Timoteus 4:15 NLV
Een dag het ‘n vriend van Chuck Swindoll by sy studeerkamer aangekom om hom in liefde aan te spreek (sien Efesiërs 4:15). Die man het gesê: ‘Ek dink nie jy sal moreel of eties val nie. Wat my bekommer is dat jy in die versoeking mag kom om toe te laat dat jou tyd met God en jou tyd wat jy aan die bestudering van die Skrif spandeer, al hoe minder belangrik vir jou word. Ek wil jou aanmoedig, moenie toelaat dat dit gebeur nie.’ Swindoll het sy woorde ter harte geneem en hierdie vyf beloftes aan homself neergeskryf. As jy ernstig daaroor is om toegewyd aan Christus te wees, moet jy ook hierdie beloftes aan jouself maak: ‘1) Ek beloof om aan te hou om oorspronklike en harde werk in my studeerkamer te doen. Diegene wat ek geroep is om te dien, verdien my beste pogings. 2) Ek beloof om ‘n hart vir God te onderhou. Dit beteken dat ek gereeld en vurig sal bid en toegewyd aan Hom en my roeping sal bly. 3) Ek beloof om toerekeningsvatbaar te bly. Dis nie net gevaarlik nie, maar ook onbybels om die lewe as ‘n godsdienstige alleenloper aan te pak. 4) Ek beloof om getrou aan my familie te wees. My vrou verdien my tyd, liefde en onverdeelde aandag. Ons volwasse kinders verdien dieselfde. 5) Ek beloof om net myself te wees. Om aan te hou lag en vreemde sêgoed te hê. Om ‘n vriend te wees en ‘n paar foute elke maand te maak.’ Om toegewyd aan Christus te wees maak jou nie vreemd, veroordelend, anti-sosiaal of geïsoleerd van die wêreld nie. Nee, dit maak jou die beste weergawe van jouself wat jy kan wees – en die een wat God wil hê jy moet wees.
Sielskos: Jes 17-21; Matt 10:32-42; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18
2020-01-28
Spreuke 1:5 NLV
Soos jy jou foute in die lewe ondersoek, besef jy dat dit jou denke was wat die foute veroorsaak het en dis hoekom jy moet aanhou om jou eie denkwyses uit te daag. Hoe doen jy dit? Deur te leer om die manier wat ander mense dink te waardeer en om jouself aanhoudend aan mense wat anders as jy is, bloot te stel. Jy sal soos die mense met wie jy die meeste tyd spandeer, dink. Wanneer jy met mense tyd spandeer wat buite die boks dink, is jy meer geneig om nuwe moontlikhede te ondersoek. Ons kom egter maklik in die versoeking om op die manier van dink wat in die verlede gewerk het staat te maak – selfs wanneer dit nie in nuwe situasies werk nie. Wanneer dit jou doelwit is om die sukses wat jy reeds geniet het, te beskerm, slaan jy remme aan op die proses wat jou tot selfs groter sukses kan lei. Om aan ‘n goeie tradisie vas te hou is ‘n goeie idee. Jy moet egter onthou dat elke tradisie oorspronklik ‘n nuwe of selfs ‘n rewolusionêre idee was, maar dat elke tradisie nie noodwendig ‘n goeie idee vir die toekoms sal wees nie. Wanneer jy aan dit wat reeds in plek is vashou, staan jy verandering teë – selfs as die verandering ten goede is. Dis hoekom dit belangrik is om jou eie denkwyses uit te daag. Dr John Maxwell skryf: ‘In jou vroeë jare sal jy nie so verkeerd wees soos mense dink jy is nie. In jou latere jare sal jy nie so reg wees soos mense dink jy is nie. En deur al die jare sal jy beter wees as wat jy gedink het jy kan wees.’
Sielskos: Jes 12-16; Matt 10:21-31; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12