2020-02-08
Kolossense 3:12 NLV
Omdat die mense wat ons elke dag teëkom oplet wat se klere ons dra, sê die Bybel: ‘Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: …vriendelikheid…’ Soms is vriendelikheid egter die laaste ding in ons gedagtes. Dink hoe dikwels jy al verby ‘n motoris wat langs die pad gestrand is gery het sonder om te stop of selfs aan te bied om vir hulp te skakel. Of jy het toegelaat dat die besigheid en druk van werk veroorsaak dat jy kortaf met ander is. Ons moet soos die jong man wees wat in die groente en vrugte afdeling in ‘n supermark gewerk het. Op sy eerste dag by die werk, het ‘n vrou na hom toe gekom en gevra om ‘n halwe kop blaarslaai te koop. Hy het probeer om haar daarvan te laat afsien, maar sy het daarop aangedring. Uiteindelik het hy gesê: ‘Ek moet met my bestuurder gaan praat.’ Hy het na die agterkant van die winkel geloop en nie agtergekom dat die vrou hom volg nie. Toe hy die bestuurder opspoor, het hy vir hom gesê: ‘Daar is ‘n simpel ou vrou wat net ‘n halwe kop blaarslaai wil koop. Wat moet ek vir haar sê?’ Toe hy die geskokte uitdrukking op sy bestuurder se gesig sien, het hy besef dat die vrou agter hom staan. Hy het toe omgedraai en in sy galantste stem gesê: ‘En hierdie oulike dame wil die ander helfte koop.’ Nadat generaal Robert E. Lee uit die militêre diens uitgetree het, het hy die president van Washington Kollege in Lexington, Virginia, geword. Een dag het ‘n nuwe student na sy kantoor toe gekom en vir ‘n afskrif van die kollege se reëls en regulasies gevra. Die ou generaal het geantwoord: ‘Seun, ons het nie ‘n reëlboek nie. Ons enigste reël is vriendelikheid.’ Oefen vandag dus om vriendelik te wees.
Sielskos: Jes 53-57; Matt 13:10-23; Ps 125; Spr 4:3-4
2020-02-07
Prediker 5:17-18 NLV
Jy sal twee-derdes van jou volwasse lewe spandeer om ‘n inkomste te verdien en God wil hê dat jy dit moet geniet. Probeer besef dat God ‘n doel het met jou waar jy jou tans bevind. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede’ (Psalm 37:23 NLV). Wanneer jy dit verstaan, sal jy begin om jou in jou werk te verbly eerder as om dit te haat en begin glo dat God ‘n plan vir jou toekoms het. Dit mag dalk ‘n ander werk wees, ‘n bevordering by jou huidige werk, of om jou vaardighede te verbeter, wat daartoe sal lei dat jy vervuld sal voel, omdat jy weet dat jy ‘n waardevolle deel van die span is. Dus, met een oog op die huidige en ‘n ander een op die toekoms, moet jou doelwit wees om jou verantwoordelikhede met doeltreffendheid en professionalisme te vervul en die Een wie se Naam jy dra, te verheerlik. Leer alles wat jy kan in jou huidige posisie – alles wat jou vaardighede kan opskerp en jou karakter kan bou. Berei jouself voor vir dit wat God vir jou in gedagte het. Wat daarvan as ander mense jou oorsien of jou onderwaardeer? Dawid se familie het nie gedink dat hy gekwalifiseerd is om Israel se volgende koning te wees nie, maar God het ‘n ander opinie gehad. Hy het ook die laaste woord gehad. Daar is ‘n belangrike les wat jy hieruit kan leer. Wees getrou en probeer uitblink waar God jou geplaas het, en wanneer die tyd reg is, sal Hy jou seën en jou bevorder. ‘…God is die regter wat verneder of verhef’ (Psalm 75:8 NLV).
Sielskos: Jes 49-52; Matt 13:1-9; Ps 67; Spr 4:1-2
2020-02-06
Efesiërs 5:2 NLV
In Amerika sal jy soms motors sien met ‘n plakker wat aandui dat hulle kind ‘n ‘erestudent’ by ‘n spesifieke skool is. Terwyl ons almal goed oor die suksesse van ons kinders voel, kan twee potensiële probleme voorkom. Eerstens, is daar die natuurlike irritasie van die ouers wie se kinders sukkel of minder talentvol is. Een ma het ‘n plakker op haar kar geplak wat gelui het: ‘My kind kan jou erestudent opdons.’ ‘n Tweede probleem kom voor wanneer die trots van die familie op die skouers van ‘n onvolwasse kind rus. Jou kind is nie ontwerp om daardie vlak van druk te hanteer nie! Hulle moet weet dat hulle as gevolg van hulle eie unieke waarde geliefd is en aanvaar word. John McKay, die groot voetbalafrigter by die Universiteit van Suid-Kalifornië, het ‘n seun gehad wat ook ‘n suksesvolle voetbalspeler in die universiteit se span was. Toe iemand in ‘n onderhoud vir McKay vra om kommentaar oor sy seun se prestasies te lewer, het hy die volgende gesê: ‘Ja, ek is tevrede dat John Jr ‘n goeie seisoen hierdie jaar gehad het. Hy het hom goed van sy taak gekwyt en ek is trots op hom. Ek sou egter net so trots op hom gewees het indien hy glad nie gespeel het nie.’ Wonderlike antwoord! Sy seun sou nie sy pa se respek verloor as die volgende jaar mislukking en teleurstelling meebring nie, want sy plek in sy pa se hart was veilig en onafhanklik van sy prestasie. Dis die tipe liefde wat jou kinders van jou nodig het. ‘Ja, leef ‘n lewe van liefde. Christus het julle mos ook so liefgehad…’ Christus se liefde word nie op prestasies gebaseer nie; dis onvoorwaardelik, onbreekbaar en nimmereindigend. Joune moet ook so wees!
Sielskos: Jes 45-48; Matt 12:38-50; Ps 120; Spr 3:33-35
2020-02-05
Deuteronomium 31:8 NLV
Voel jy vandag angstig omdat jy nie weet wat op jou wag nie? Israel was op pad na ‘n goeie situasie, die Beloofde Land, toe. Hulle het nou net uit ‘n slegte situasie gekom: 430 jaar van sielsvernietigende, rugbrekende, hooplose slawerny. Nou sou hulle vry wees om hulle eie huise te besit, hulle families groot te maak, werk te doen waarvan hulle hou en goed daarvoor betaal te word. Die Beloofde Land was egter nie sonder probleme nie. Daar was vestings van vyande wat een vir een verower moes word, wat tyd sou neem. ‘Die Here jou God sal daardie nasies een vir een voor jou uit verdryf. Jy sal hulle nie sommer almal eensklaps kan verdryf nie, want as jy dit doen, sal die wilde diere te vinnig vir jou vermeerder’ (Deuteronomium 7:22 NLV). Bevind jy jouself vandag in ‘n soortgelyke situasie? Begin jy met ‘n nuwe verhouding, ‘n nuwe werk, ‘n nuwe bediening of ‘n onbekende area waar jy nie al die antwoorde het nie? Is jy angstig omdat jy nie presies weet wat dit alles sal behels nie? Moenie wees nie! Hier is die woord vir jou vandag: ‘Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie… Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie’ (Deuteronomium 31:6-8 NLV). Dra hierdie beloftes saam met jou. Wanneer jou selfvertroue en geloof begin wankel, lees hulle, staan op hulle en maak staat op God om sy Woord te eer.
Sielskos: Jes 42-44; Matt 12:22-37; Ps 108; Spr 3:31-32
2020-02-04
Prediker 9:9 NLV
Drie dinge gebeur in ‘n goeie huwelik: 1) Jy leer jouself ken. Om te groei, moet jy in staat wees om realisties na jouself te kyk en die beste plek om dit te doen, is in ‘n huis gevul met liefde. Dit laat jou toe om eerlik oor jou foute en jou tekortkominge te wees. Dis ‘n veilige plek om te faal. Dit skep ‘n omgewing gevul met begrip en ondersteuning. Die mense die naaste aan ons, vorm ons. Toe Moeder Teresa die Nobelprys vir vrede gewen het, is sy gevra: ‘Wat kan ons doen om wêreldvrede te bevorder?’ Sy het geantwoord: ‘Gaan huis toe en wees lief vir jou familie.’ As jy die wêreld wil verander, moet jy by die huis begin. 2) Jy begin jou karakter ken. ‘n Huis wat om Christus gesentreerd is, help nie net om jou kinders se karakters te vorm nie, maar dit versterk ook joune. Karakter word op die keuses wat jy maak en die gewoontes wat jy kweek, gebou. Omdat jou familie jou primêre omgewing skep, beïnvloed dit daardie keuses en gewoontes. Sterk families moedig ons aan om goeie keuses te maak en die regte dissiplines te ontwikkel. 3) Jy het ‘n veilige hawe. Dit voel of die pas van die lewe daagliks hewiger raak. Om op oorvol paaie te bestuur is stresvol. Die werkplek is veeleisend. Die skoolterrein is ‘n toenemend vyandige omgewing. Waar kan jy skuiling vind? Theodore Roosevelt het gesê: ‘Ek sal eerder met my familie tyd spandeer as met enige van die wêreld se belangrikes.’ Sy huis was ‘n veilige hawe te midde van die lewe se storms – en joune kan ook wees. Die vraag is: Wat doen jy om dit so te maak?
Sielskos: Jes 38-41; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30
2020-02-03
Spreuke 18:22 NLV
As jy oor sestig is, is die kans goed dat jy in ‘n era grootgeword het waar jy nie baie geskeide paartjies geken het nie en waar die onderwerp taboe was. Nou word jou kinders in ‘n wêreld groot waar huwelike elke dag misluk. As jy nie wil hê dat jou huwelik een van hulle moet wees nie, moet jy: 1) Leer om jou liefde te wys. Die sielkundige William James sê: ‘Die diepste beginsel in die menslike natuur is die drang om gewaardeer te word.’ As ons nie by die huis gewaardeer voel nie, is daar ‘n goeie kans dat ons glad nie gewaardeer voel nie, want oor die algemeen vervul die wêreld nie daardie begeerte nie. Die beste ding wat jy vir jou eggenoot en jou kinders kan doen, is om hulle te waardeer en hulle lief te hê – nie as gevolg van hulle prestasies nie, maar eenvoudig omdat hulle joune is. 2) Aandag gee. Eerwaarde Theodore Hesburgh, president Emeritus by die Universiteit van Notre Dame, het gesê: ‘Die belangrikste ding wat ‘n pa vir sy kinders kan doen, is om hulle ma lief te hê.’ Dit werk altwee kante toe. Toewyding, nie emosie nie, is wat jou daardeur dra. As jy beplan om net getroud te bly so lank as wat jy voel jy verlief is, kan jy maar net sowel nou tou opgooi. Soos enigiets wat die moeite werd is, benodig ‘n goeie huwelik konstante aandag. 3) Beskerm julle tyd saam. As jy voel dat jy eerder by die werk moet wees wanneer jy saam met jou familie is en andersom, is iets verkeerd. Belê ‘n familievergadering en besluit hoeveel tyd julle saam moet spandeer. As jy daardie tye prioritiseer en beskerm, sal jou huwelik floreer.
Sielskos: Jes 34-37; Matt 12:1-14; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28