2020-02-14
1 Johannes 2:19 NLV
Daar is sommige mense in die lewe met wie ons goed oor die weg kom en ander met wie ons nie doen nie. In sommige gevalle is ons nie veronderstel om met hulle oor die weg te kom nie! Kom ons wees duidelik: Jy moenie liefdeloos, ongevoelig of veroordelend wees nie. Paulus sê: ‘Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense (Romeine 12:18 NLV). Ons praat hier spesifiek van die mense wat God ons beveel om van weg te breek. Wanneer dit by die mense kom wat nie in jou lewe hoort nie, is daar twee dinge om te oorweeg. Eerstens is daar die openbaring. Die Bybel sê: ‘Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie.’ Net soos jy nie olie en water kan meng nie, is daar mense wat eenvoudig net nie in jou lewe hoort nie. Tweedens is daar skeiding. Paulus het gesê: ‘Moenie saamspan met ongelowiges nie… watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis? Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial?.. Dit is soos God gesê het: ‘Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.’ Daarom: ‘Gaan van hulle af weg en hou julle eenkant, sê die Here… dan sal Ek julle ontvang.’ En ook: ‘Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, sê die Here die Almagtige’ (2 Korintiërs 6:14-18 NLV). Wanneer God vir jou sê dat ‘n verhouding nie reg is vir jou nie, luister na Hom en gehoorsaam Hom.
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19
2020-02-13
Jona 1:12 NLV
Dis ‘n fout om aan iemand vas te klou as God sê dat jy hulle moet laat gaan. Totdat jy God gehoorsaam, sal die storm waarin jy jouself bevind, aanhou erger word. Dit was die geval met Jona. Die Bybel sê: ‘Die storm het al hoe hewiger geword; daarom het hulle hom gevra: ‘Wat moet ons met jou doen sodat die see kan bedaar?’ Jona het hulle geantwoord: ‘Gooi my in die see en dit sal kalm word. Ek weet ék is die oorsaak van hierdie groot storm.’ Die matrose het egter nog harder geroei en die land probeer bereik. Hulle was nie suksesvol nie, want die see het net al hoe onstuimiger geword. Hulle het die Here aangeroep en gesê: ‘Ag, Here, moet tog nie dat ons weens hierdie man vergaan nie. Moet ons nie verantwoordelik hou vir sy dood nie. Here, U het gedoen soos U wou.’ Toe het die matrose Jona opgetel en in die see gegooi. Die onstuimige see het dadelik kalm geword’ (verse 11-15 NLV). God het ‘n plan vir die ‘Jonasse’ in jou lewe en hulle mag dalk eers die bodem moet tref voor hulle weer kan begin styg. So lank as wat jy hulle probeer red, word God se plan gedwarsboom en vertraag. Jona se probleem was nie dat Hy God nie liefgehad het nie, maar dat hy nie God se wil wou doen nie. Dus het God tot die uiterstes gegaan om sy aandag te kry, om sodoende die stad Nineve te red. Jy het geen idee wat God vir die persoon wat Hy jou vra om te laat gaan, in gedagte het nie. As hulle een van sy verloste kinders is, wil Hy hulle voorspoedig maak (sien Jeremia 29:11). Dis hoekom Hy hulle wil red – so laat hulle gaan!
Sielskos: Rom 3:21-6:23; Matt 14:1-12; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22
2020-02-12
1 Johannes 2:20 NLV
Het jy al ooit ‘n gesprek met iemand in jou gedagtes gevoer? Eers bespreek jy die een kant van die kwessie en dan die ander. Dink dus hieroor: As jy ‘n gesprek met jouself in jou gedagtes kan hê, dink jy nie God kan ook ‘n gesprek met jou in jou gedagtes hê nie? Die probleem is dat ons gedagtes dikwels onbetroubaar is omdat ons dit met soveel gemors besoedel; daarom twyfel ons aan sy vermoë om met ons deur ons gedagtes te praat. Sodra God jou verlos, begin Hy om jou denke te vernuwe (sien Romeine 12:2). Paulus skryf: ‘…’Wie kan verstaan wat die Here dink? Wie kan Hom raad gee?’ Óns kan hierdie dinge egter verstaan, want ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV). Wanneer God jou red, begin Hy om sy gedagtes deur jou te dink. Hy praat deur verskeie kanale – jou gedagtes is net een daarvan. Die Bybel sê: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). God sal jou wil rig en in jou ‘n begeerte skep om die dinge te doen wat Hom behaag. Hy volhard ook in sy leiding. Wanneer ‘n begeerte om iets te doen aanhoudend terugkeer, mag dit dalk God wees wat jou lei. Dis hoekom dit noodsaaklik is om jou gedagtes te monitor en te beskerm. Jesus het gesê: ‘Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het’ (Johannes 15:3 NLV). Reinig jou gedagtes elke dag met God se Woord en stel jouself in om te hoor wat Hy vir jou sê.
Sielskos: Rom 1:1-3:20; Matt 13:47-58; Ps 141; Spr 4:18-19
2020-02-11
1 Petrus 3:8 NLV
Hoe betoon mens medelye? Jy kan dalk, byvoorbeeld, uitvind hoekom iemand so gestres of depressief is. Wat is in hulle gedagtes en hoe kan jy help? Of miskien is ‘n vriend met ‘n siekte soos hoë bloedruk, diabetes, artritis of kanker gediagnoseer. Wat moet jy doen? Miskien beplan jou broer of nefie ‘n uitspattige troue of het nou net ‘n groot huis in ‘n luukse woonbuurt gekoop. Miskien is ‘n kollega pas bevorder en die ander kollegas is jaloers en gegriefd daaroor. Maar jou broer is opgewonde oor sy troue, jou nefie kan nie wag om in sy nuwe huis in te trek nie en jou kollega kan nie uitgepraat raak oor sy nuwe verantwoordelikhede nie. Raak saam met hulle opgewonde! Miskien het iemand wat jy ken pas ‘n geliefde aan die dood afgestaan en jy weet nie wat om te sê nie. Moenie iets sê nie, wees net daar! Die Bybel sê: ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle’ (Romeine 12:15 NLV). Met ander woorde, as iemand seer het, wees saam met hulle seer en as hulle bly is, wees saam met hulle bly. Dis hoe jy medelye betoon. Ons kom soms hard en onsensitief voor in ‘n poging om heilig te lyk. Paulus het hierdie kwessie as volg aangespreek: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld’ (Kolossense 3:12 NLV). Sommige van ons moet harder hieraan werk as ander. As kind van die Here kan jy egter nie anders nie. ‘…Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.’ Dit sluit jou in!
Sielskos: Jes 63-66; Matt 13:36-46; Ps 138; Spr 4:14-17
2020-02-10
Jakobus 5:11 NLV
Wanneer dit by Christelike medelye kom, leer die Bybel ons nog twee dinge. Medelye: 1) Verstaan die behoeftes van ander. Paulus skryf: ‘…Jesus… Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:14-15 NLV). Jesus verstaan – hoe gerusstellend is dit nie! Dit maak nie saak watter situasie, uitdaging of teenspoed ons onsself in bevind nie, Jesus sê: ‘Ek verstaan. Ek was al daar.’ Druk? Verwerping? Pyn? Versoeking? Laster? Leuens? Valse beskuldigings? Hy verstaan, want Hy het dit self ervaar. 2) Reageer op die behoeftes van ander. Dis nie net genoeg om die behoeftes van ander te herken en te verstaan nie. Jy is op ‘n praktiese vlak tot aksie geroep; anders is jou medelye betekenisloos. Jesus het op siek mense met genesing, op honger mense met kos en op verlore mense met die goeie nuus van die Evangelie, gereageer. Medelye het nie beperkings nie. Dit borg ‘n honger kind, help iemand wat langs die pad gestrand is om ‘n wiel om te ruil, bring ‘n maaltyd na iemand wat rou se huis toe en luister geduldig na iemand wat ‘n vriend nodig het. Medelye maak jou hande vuil; dit skryf tjeks uit, offer jou eie agenda, skedule, begeertes en drome op om aan die behoeftes van ander mense te voldoen. Die Bybel sê: ‘…God [het] Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf… Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die duiwel swaargekry het, want God was by Hom’ (Handelinge 10:38 NLV). Wat is jou grootste belang in die lewe – om goed te lyk of goed te doen? As jy meer soos Jesus wil wees, ken jy reeds die antwoord op daardie vraag!
Sielskos: Jes 58-62; Matt 13:24-35; Ps 134; Spr 4:5-13
2020-02-09
Lukas 10:33 NLV
Baie woordeboeke definieer medelye as simpatie, jammerte of kommer – almal emosionele reaksies. Die medelye van Jesus oorskrei emosie en word ‘n aksie. Christelike medelye: 1) Herken die behoeftes van ander. ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:3-4 NLV). Let op dat jy meer van ander as van jouself moet dink. As jy selfgesentreerd is, sal dit tyd neem vir hierdie konsep om in te sink. Let ook op dat jy na ander mense se belange moet omsien. Soms is daardie ander mense in ‘n gemors vasgevang en nie maklik om lief te hê nie. Wat, byvoorbeeld, van die mense in die tronk? Jy sê: ‘Wel, hulle het gekry wat hulle verdien.’ Dit mag dalk die geval wees, maar het jy altyd gekry wat jy verdien, of is jy net nie uitgevang nie? Dink daaroor! Wanneer jy iemand wat siek is of in die tronk is besoek, sê Jesus: ‘…het julle dit vir Mý gedoen’ (Matteus 25:40 NLV). In Lukas 23:43, het Hy medelye aan ‘n veroordeelde krimineel aan die kruis bewys en hom gered. Jy moet nie kies en keur aan wie jy medelye bewys nie! Die Bybel sê: “‘n Mens sou medelye hê met ‘n vriend in nood. Maar julle beskuldig my sonder enige vrees vir die Almagtige” (Job 6:14 NLV). Moeder Teresa het gebid: “Laat my toe dat ek, selfs al is jy onder die onaansienlike kleed van woede, misdaad of kranksinningheid vermom, jou mag herken en sê: ‘Jesus, U wat ly, hoe soet is dit om U te dien.'”
Sielskos: Luk 19:11-26; Ps 36:5-9; Heb 10:19-23