Jy moet medelye betoon (2)
2020-02-10Jakobus 5:11 NLV
Wanneer dit by Christelike medelye kom, leer die Bybel ons nog twee dinge. Medelye: 1) Verstaan die behoeftes van ander. Paulus skryf: ‘…Jesus… Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer…’ (Hebreërs 4:14-15 NLV). Jesus verstaan – hoe gerusstellend is dit nie! Dit maak nie saak watter situasie, uitdaging of teenspoed ons onsself in bevind nie, Jesus sê: ‘Ek verstaan. Ek was al daar.’ Druk? Verwerping? Pyn? Versoeking? Laster? Leuens? Valse beskuldigings? Hy verstaan, want Hy het dit self ervaar. 2) Reageer op die behoeftes van ander. Dis nie net genoeg om die behoeftes van ander te herken en te verstaan nie. Jy is op ‘n praktiese vlak tot aksie geroep; anders is jou medelye betekenisloos. Jesus het op siek mense met genesing, op honger mense met kos en op verlore mense met die goeie nuus van die Evangelie, gereageer. Medelye het nie beperkings nie. Dit borg ‘n honger kind, help iemand wat langs die pad gestrand is om ‘n wiel om te ruil, bring ‘n maaltyd na iemand wat rou se huis toe en luister geduldig na iemand wat ‘n vriend nodig het. Medelye maak jou hande vuil; dit skryf tjeks uit, offer jou eie agenda, skedule, begeertes en drome op om aan die behoeftes van ander mense te voldoen. Die Bybel sê: ‘…God [het] Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf… Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die duiwel swaargekry het, want God was by Hom’ (Handelinge 10:38 NLV). Wat is jou grootste belang in die lewe – om goed te lyk of goed te doen? As jy meer soos Jesus wil wees, ken jy reeds die antwoord op daardie vraag!
Sielskos: Jes 58-62; Matt 13:24-35; Ps 134; Spr 4:5-13