2020-02-20
2 Kronieke 20:15 NLV
Vierdens, leer om in geloof te ontspan. Let op hoe God op Josafat se gebed gereageer het: ‘…die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’ Baie van ons maak onsself moeg deur te probeer om God se gevegte in ons eie krag te probeer wen. Wanneer ons nuutgebore is, is ons ywerig om die wêreld vir Jesus te wen en wil ons op eie houtjie sy koninkryk meebring. Dan, wanneer ons hard op eie stoom gewerk het, slaan die realiteit toe. Ons kruip teleurgesteld op ons hande en knieë terug, omdat ons dink dat ons God in die steek gelaat het. Die waarheid is egter dat ons nie God omhoog hou nie – Hy hou ons omhoog! Ons het Hom nie in ons hande nie, Hy het ons in sy hande! Hy sê vir ons om in geloof te ontspan en Hom toe te laat om sy werk deur ons te doen. Paulus skryf: ‘Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle die leefstyl van ‘n Christen volg’ (Kolossense 2:6 NLV). Met ander woorde, onthou hoe jy aanvanklik ‘n gelowige geword het – deur eenvoudige geloof in die voltooide werk van Christus – en hou dan aan om in eenvoudige geloof te lewe. Jy het nie ‘n Christen geword omdat jy na perfeksie gestrewe het en goeie werke gedoen het nie. Goeie werke het niks daarmee uit te waai nie! Verlossing is ‘n gratis geskenk. God het nie nodig dat ons dinge bestuur nie; Hy het alles onder beheer en wil hê dat ons ontspan en Hom toelaat om deur ons te lewe. Oorwinning in die lewe is ‘n gawe van God! ‘Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons één is met Christus, altyd saamneem in sy triomftog…’ (2 Korintiërs 2:14 NLV).
Sielskos: Pred 1-4; Matt 15:29-39; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14
2020-02-19
2 Kronieke 20:3 NLV
Derdens, neem jou probleme na die Here toe. Gebed is dikwels die laaste uitweg waaraan ons dink. Hoekom is dit so? Omdat ons ons probleme self wil oplos. ‘n Diaken het een dag vir die pastoor gesê: ‘Pastoor, ons het ‘n probleem wat ons nie kan oplos nie. Ons het alles probeer en niks werk nie.’ Die pastoor het gesê: ‘Wel, al wat ons dan kan doen is om daaroor te bid.’ Die diaken het geantwoord: ‘Pastoor, is dit wraggies ons laaste opsie?’ Wanneer jy voor die lewe se gevegte te staan kom, moet gebed jou eerste uitweg wees, nie jou laaste nie! Soms wanneer die probleem nie net deur gebed opgelos kan word nie, lei God jou na ‘n tweede element toe: om te vas. Het jy dit al probeer? Om te vas is nie iets mistiek of geheimsinning nie; dit gaan oor fokus! Dis om te sê: ‘Here, ek kan sonder kos en ander dinge gaan, maar ek kan nie hierdie probleem sonder U oplos nie. Dus, in plaas daarvan om te eet, gaan ek U aangesig soek totdat ek ‘n antwoord het.’ Kornelius, ‘n nie-Jood, het vir vier dae gevas en gebid en God vir leiding gevra. God het toe vir Petrus na sy huis toe gestuur om die evangelie met die nie-Jode te deel en in die proses die verloop van die geskiedenis verander (sien Handelinge 10). Die Nuwe Testamentiese kerk het gevas, gebid en God vir leiding gevra om te weet wie om in leierskapsposisies aan te stel. So is een van die mees dinamiese evangelistiese spanne van alle tye, Paulus en Barnabas, gebore (sien Handelinge 13:2-3). Wanneer jy ernstig genoeg raak om oor jou probleem te vas en te bid, sal God vir jou die oplossing wys.
Sielskos: Rom 15-16; Matt 15:15-28; Ps 28; Spr 5:3-6
2020-02-18
2 Kronieke 20:12 NLV
Tweedens, erken jou eie ontoereikenheid. Die enigste mense wie God nie kan help nie, is diegene wat dink dat hulle nie sy hulp nodig het nie. Koning Josafat het gesê: ‘…Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.’ Ons oë is gereeld op alles en almal – behalwe God – die Een wat ons probleme kan oplos, gevestig. Hou jou oë op die Here en jy sal bo jou omstandighede uitstyg. Onthou, dis ‘…Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige’ (Sagaria 4:6 NLV). Jy kan nie die Christelike lewe in jou eie krag leef nie, want jy het ‘n tekort aan krag. Jy het die krag nodig wat jy ontvang wanneer jy God se Gees toelaat om deur jou te lewe. Dink aan ‘n handskoen. Op sy eie, is dit slap en magteloos. Wanneer ‘n hand egter die handskoen vul, word dit bruikbaar en effektief. Jesus het gesê: ‘Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang…’ (Handelinge 1:8 NLV). Jesus het dikwels na die Heilige Gees as ‘die Raadgewer’ verwys, so wanneer jy nie weet wat om te doen nie, staan op sy belofte: ‘en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (Johannes 14:26 NLV). As jy in jou eie krag veg, sal jy verloor. Wanneer jy egter krag uit God se Gees wat in jou leef put, sal jy wen.
Sielskos: Rom 12-14; Matt 15:1-14; Ps 5; Spr 5:1-2
2020-02-17
2 Kronieke 20:12 NLV
Met God se hulp, het koning Josafat nie net een leërmag oorwin nie, maar drie! Sy oorwinning leer ons hoe ons die lewe se gevegte kan wen. Eerstens, identifiseer die vyand. Baie van ons het nie die vaagste benul wie die ware vyand is nie. Ons dink dis die persoon wat ons werk, ons eggenoot of ons geld wil wegneem. Baie keer is die vyand egter ons eie houding! Dis nie soseer dit wat gebeur wat ons onderkry nie, maar ons reaksie op die situasie. Voor jy op ‘n persoonlike vlak kan wen, moet jy eers die vyand identifiseer. Let op hoe Josafat gereageer het toe hy gehoor het dat ‘n groot leërmag teen hom opgetrek het. Hy was ‘baie ontsteld’ (verse 2-3 NLV). Dis ‘n tipiese menslike reaksie. Ons sien ‘n groot probleem en raak paniekerig en vreesbevange oor wat met ons gaan gebeur. Vrees is inderwaarheid nie net sleg nie, tensy ons dit op die verkeerde manier hanteer. Ons kan dit gebruik om ons te motiveer om die probleem te oorwin en ons nader aan God te bring. Dis wanneer ons moedeloos raak, tou opgooi, kwaad word en begin vra: ‘Hoekom ek, Here?’ wat vrees ons verslaan. As jy vandag in ‘n situasie is wat jou met vrees en angs vul, onthou – God reageer nie op behoefte nie; Hy reageer op geloof. Plaas dus vandag jou geloof in sy onwrikbare Woord en staan op sy belofte: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). Onwrikbare vertroue in God se Woord is wat sy hulp meebring.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Matt 14:22-36; Ps 149; Spr 4:25-27
2020-02-16
Psalm 29:11 NLV
Hoekom word laatmiddag wanneer jy huis toe ry en wanneer niks beweeg nie ‘spitstyd’ genoem? Die ware spitstyd begin wanneer ons by die huis kom. Vroegaand is ‘n tyd wanneer almal honger en humeure kort is. Twee werkende ouers kom gewoonlik geïrriteerd en moeg by die huis aan, maar hulle kinders is onsimpatiek en het onmiddellike aandag nodig. Dis ‘n resep vir konflik. Daar is egter dinge wat jy kan doen om hierdie spitstydbom te ontlont. Eerstens, bel jou kinders voor jy jou werk in die middag verlaat. Dit kan jou ‘n voorsprong gee om enige moeilikhede wat dalk by die huis aan die broei is, te hanteer. Tweedens, wend ‘n doelbewuste poging aan om gedurende die pendeltyd huiswaarts, jouself van die verantwoordelikhede van die werk en die sorge van die dag los te maak. Derdens, is dit wys om soveel as moontlik van die aandete in die oggend of die vorige aand voor te berei, sodat aandete nie te veel tyd neem nie. Prutpot maaltye wat al heeldag prut, of etes wat direk van die yskas in die oond kan gaan, sal druk op ‘n tyd wanneer die stres die grootste is, verlig. Hoe gouer almal kan eet en hulle bloedsuiker kan verhoog, hoe beter. Spandeer dan tyd saam met die kinders voor huiswerk- en badtyd begin. Julle kan dalk met die hond gaan stap of in die tuin met ‘n bal speel. Sit uiteindelik die kinders in die bed en neem ‘n paar oomblikke van stilte vir julleself. Daar is nie ‘n maklike manier om vyf aande ‘n week deur spitstyd te kom nie, maar met ‘n bietjie beplanning kan dit minder stresvol wees. Onthou ook hierdie belofte wanneer jy in spitstyd oorweldig word: ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede.’
Sielskos: Jes 40:9-11; Jes 42:1-4; Ps 18:31-35
2020-02-15
Filippense 2:14 NLV
In ‘n ou Peanuts strokiesprent, kondig Lucy aan: ‘Goeiste, maar ek voel mislik vandag.’ Haar jonger boetie Linus, altyd die vredemaker, antwoord: ‘Miskien kan ek help. Kom sit hier voor die televisie dan kry ek vir jou iets om te eet. Soms moet ons net ‘n bietjie gepamperlang word om beter te voel.’ ‘n Paar minute later bring Linus vir Lucy ‘n toebroodjie, ‘n paar koekies en ‘n glas melk. ‘Is daar enigiets wat ek vir jou kan kry? Iets waaraan ek nie gedink het nie?’ vra hy. ‘Ja,’ snou Lucy hom toe, ‘daar is een ding waaraan jy nie gedink het nie. Ek wil nie beter voel nie!’ Die waarheid is dat sommige mense nie beter wil voel nie – hulle wil net aandag hê en hulle kry dit deur te kla. Ken jy so iemand? Die Bybel sê herhaaldelik vir ons om weg te bly van ‘n klaagspul af. Jy moet eerlik met jouself wees en jouself afvra: ‘Hoe baie van wat ek sê fokus net daarop om oor die situasie te kla, in plaas daarvan om dit te probeer verbeter? Het ek my lewe om mense wat dieselfde voel gebou, mense wat heel waarskynlik ontsteld sal wees as ek besluit om te groei en ‘n beter houding aan te neem?’ Jesus het gesê dat die waarheid ons sal vrymaak (sien Johannes 8:32). Sodra jy gewillig is om die waarheid oor jou houding in die gesig te staar en iets daaraan te doen, sal jou lewe begin verbeter. Nog ‘n gedagte – Paulus sê: ‘Wees altyd vol blydskap… Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag’ (1 Tessalonisense 5:16-18 NLV). Dit is God se wil – doen dit dus!
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Matt 14:13-21; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24