‘Spitstyd’

2020-02-16
Psalm 29:11 NLV

Hoekom word laatmiddag wanneer jy huis toe ry en wanneer niks beweeg nie ‘spitstyd’ genoem? Die ware spitstyd begin wanneer ons by die huis kom. Vroegaand is ‘n tyd wanneer almal honger en humeure kort is. Twee werkende ouers kom gewoonlik geïrriteerd en moeg by die huis aan, maar hulle kinders is onsimpatiek en het onmiddellike aandag nodig. Dis ‘n resep vir konflik. Daar is egter dinge wat jy kan doen om hierdie spitstydbom te ontlont. Eerstens, bel jou kinders voor jy jou werk in die middag verlaat. Dit kan jou ‘n voorsprong gee om enige moeilikhede wat dalk by die huis aan die broei is, te hanteer. Tweedens, wend ‘n doelbewuste poging aan om gedurende die pendeltyd huiswaarts, jouself van die verantwoordelikhede van die werk en die sorge van die dag los te maak. Derdens, is dit wys om soveel as moontlik van die aandete in die oggend of die vorige aand voor te berei, sodat aandete nie te veel tyd neem nie. Prutpot maaltye wat al heeldag prut, of etes wat direk van die yskas in die oond kan gaan, sal druk op ‘n tyd wanneer die stres die grootste is, verlig. Hoe gouer almal kan eet en hulle bloedsuiker kan verhoog, hoe beter. Spandeer dan tyd saam met die kinders voor huiswerk- en badtyd begin. Julle kan dalk met die hond gaan stap of in die tuin met ‘n bal speel. Sit uiteindelik die kinders in die bed en neem ‘n paar oomblikke van stilte vir julleself. Daar is nie ‘n maklike manier om vyf aande ‘n week deur spitstyd te kom nie, maar met ‘n bietjie beplanning kan dit minder stresvol wees. Onthou ook hierdie belofte wanneer jy in spitstyd oorweldig word: ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede.’

Sielskos: Jes 40:9-11; Jes 42:1-4; Ps 18:31-35