Vind tevredenheid in jou werk

2020-02-07
Prediker 5:17-18 NLV

Jy sal twee-derdes van jou volwasse lewe spandeer om ‘n inkomste te verdien en God wil hê dat jy dit moet geniet. Probeer besef dat God ‘n doel het met jou waar jy jou tans bevind. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede’ (Psalm 37:23 NLV). Wanneer jy dit verstaan, sal jy begin om jou in jou werk te verbly eerder as om dit te haat en begin glo dat God ‘n plan vir jou toekoms het. Dit mag dalk ‘n ander werk wees, ‘n bevordering by jou huidige werk, of om jou vaardighede te verbeter, wat daartoe sal lei dat jy vervuld sal voel, omdat jy weet dat jy ‘n waardevolle deel van die span is. Dus, met een oog op die huidige en ‘n ander een op die toekoms, moet jou doelwit wees om jou verantwoordelikhede met doeltreffendheid en professionalisme te vervul en die Een wie se Naam jy dra, te verheerlik. Leer alles wat jy kan in jou huidige posisie – alles wat jou vaardighede kan opskerp en jou karakter kan bou. Berei jouself voor vir dit wat God vir jou in gedagte het. Wat daarvan as ander mense jou oorsien of jou onderwaardeer? Dawid se familie het nie gedink dat hy gekwalifiseerd is om Israel se volgende koning te wees nie, maar God het ‘n ander opinie gehad. Hy het ook die laaste woord gehad. Daar is ‘n belangrike les wat jy hieruit kan leer. Wees getrou en probeer uitblink waar God jou geplaas het, en wanneer die tyd reg is, sal Hy jou seën en jou bevorder. ‘…God is die regter wat verneder of verhef’ (Psalm 75:8 NLV).

Sielskos: Jes 49-52; Matt 13:1-9; Ps 67; Spr 4:1-2