God het alreeds voor jou uitgegaan

2020-02-05
Deuteronomium 31:8 NLV

Voel jy vandag angstig omdat jy nie weet wat op jou wag nie? Israel was op pad na ‘n goeie situasie, die Beloofde Land, toe. Hulle het nou net uit ‘n slegte situasie gekom: 430 jaar van sielsvernietigende, rugbrekende, hooplose slawerny. Nou sou hulle vry wees om hulle eie huise te besit, hulle families groot te maak, werk te doen waarvan hulle hou en goed daarvoor betaal te word. Die Beloofde Land was egter nie sonder probleme nie. Daar was vestings van vyande wat een vir een verower moes word, wat tyd sou neem. ‘Die Here jou God sal daardie nasies een vir een voor jou uit verdryf. Jy sal hulle nie sommer almal eensklaps kan verdryf nie, want as jy dit doen, sal die wilde diere te vinnig vir jou vermeerder’ (Deuteronomium 7:22 NLV). Bevind jy jouself vandag in ‘n soortgelyke situasie? Begin jy met ‘n nuwe verhouding, ‘n nuwe werk, ‘n nuwe bediening of ‘n onbekende area waar jy nie al die antwoorde het nie? Is jy angstig omdat jy nie presies weet wat dit alles sal behels nie? Moenie wees nie! Hier is die woord vir jou vandag: ‘Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie… Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie’ (Deuteronomium 31:6-8 NLV). Dra hierdie beloftes saam met jou. Wanneer jou selfvertroue en geloof begin wankel, lees hulle, staan op hulle en maak staat op God om sy Woord te eer.

Sielskos: Jes 42-44; Matt 12:22-37; Ps 108; Spr 3:31-32