2020-03-04
Josua 1:11 NLV
God het vir Josua gesê: ‘…oor drie dae gaan julle deur die Jordaan trek om die land wat die Here julle God vir julle gee, in ontvangs te neem.’ Wat God betref, het die Beloofde Land reeds aan sy mense behoort. Toe Hy egter vir hulle gesê het om die land ‘in ontvangs’ te neem, het dit beteken dat hulle daarvoor sou moes veg. Daar het een-en-dertig konings gebly – heersers met hulle eie leërmagte. Daar was sewe groot stede en reuse om te oorwin. Hier is dus die vraag: 1) Glo jy dat God vir jou die gawes, hulpbronne en krag gegee het om jou lewensdoel te vervul? 2) Is jy gewillig om daarvoor te baklei? Jy sal dit nie met jou eie krag wen nie, maar die goeie nuus is dat jy nie hoef nie. God het gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen’ (vers 9 NLV). God sal vir jou die vermoë gee om dit waarvoor Hy jou geroep het te doen, maar jy moet werk om daardie vermoë te ontwikkel. Soms sal Hy jou gebed onmiddellik beantwoord en vir jou gee waarvoor jy vra. Ander kere rus die onus op jou om dit wat Hy beloof het na te jaag – en dit vereis passie, geduld en volharding. Het jy al daaraan gedink dat jy dalk op God wag om vir jou iets te bring, terwyl Hy vir jou wag om dit te gaan haal? Hy reageer nie op ons wense of selfs ons pleidooie nie; Hy reageer op geloof-in-aksie! Die woord vir jou vandag is dus: dis joune – as jy daarvoor baklei!
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Matt 20:17-28; Ps 77; Spr 6:29
2020-03-03
1 Petrus 1:8 NLV
Sam Mason gaan in sy boek, Talking Dogs, voort: ‘Gedurende die laaste paar jaar van sy lewe het Tigger, een van ons geliefde Italiaanse windhonde, sy sig geleidelik begin verloor. Hy het katarakte ontwikkel. Dit het sy sig van hom gesteel, maar dit kon nie sy kosbare verhouding met sy eienaars steel nie. My vrou, Carol, het gereeld na Tigger as haar ‘liefie-diefie seun’ verwys. Hy sou op ons skote staan (nie sit nie!), sy pote aan weerskante van ons nekke sit en dan sy kop liefderik onder ons kenne indruk. Dit was te oulik. Blind soos hy was, was Tigger se begeerte na die geliefdes wat hy nie meer kon sien nie, ongeaffekteerd. Ten spyte van die katarakte wat ons gesigte laat vervaag het, het hy steeds daarin geslaag om ons in die gesig te kyk. Sy verminderde vermoëns mag dalk sy bewegings bemoeilik het, maar sy liefde en vertroue teenoor sy eienaars het rotsvas gebly. Almal van ons wat ons vertroue in die Here plaas het gebreke – selfs geestelike gebreke. Gebruik ons hulle as verskoning om God nie so intens na te volg as wat ons moet nie? Laat ons toe dat hierdie gebreke ons liefde vir Hom rantsoeneer? Of vind ons, met God se hulp, die krag om verby ons beperkinge te reik, om die ongebonde vreugde van sy teenwoordigheid te ervaar en die roeping wat Hy op ons lewens geplaas het te vervul? Ja, ons kan elke nou en dan in die donkerte rondtas en selfs struikel en val. Ons kan egter die Een wat ons seisoene van blindheid verstaan, vertrou. Ons kan ons harte vir sy liefde oopmaak en Hom terug liefhê – siende of nie!’
Sielskos: Gen 24:1-25:18; Matt 20:1-16; Ps 70; Spr 6:26-28
2020-03-02
Psalm 27:8 NLV
In sy boek, Talking Dogs, bespreek Sam Mason hoe God ons troeteldiere kan gebruik om met ons te praat. Met ‘n terugblik op van die honde wat hy al gehad het en die lesse wat hy van hulle geleer het, skryf hy: ‘Een so ‘n oomblik het plaasgevind toe Ranger, ons vyf-kilogram Italiaanse windhond, op my skoot gesit het terwyl ek in die gemakstoel ontspan het. Ek het sy bekende, innemende tilt van sy kop opgemerk, soos hy my direk in die gesig gestaar het. Ek het begin wonder wat sy doel in die lewe was. ‘n Sekonde later, het ek goddelike inspirasie geniet toe die verduideliking in my gedagtes opgekom het. Ranger het my aangesig gesoek! Jy sien, honde word studente van hulle eienaars. Hulle begrip van die gesproke menslike taal word tot ‘n handjievol woorde beperk. Hulle kapasiteit om ‘n skepsel van baie groter intellek te verstaan, is beperk. Dus bestudeer hulle ons bewegings: gesigsuitdrukkings, handgebare en ander lyftaal. Net so, het ons ‘n beperkte begrip van ons Meester. Hoe soek ons dan die aangesig van Iemand wat so by verre ons meerdere is? Die Here openbaar Homself deur sy Woord. Dis waar ons soektog begin. Hoe hartseer is dit dat so min belydende Christene nie die Bybel op ‘n gereelde basis lees en bestudeer nie. Daar is egter ook ander maniere om God se aangesig te soek. Gee aandag aan God se maniere soos die Heilige Gees tydens ‘n kerkdiens deur jou hart beweeg. Leer uit sy ingrypings in jou lewe en in die lewens van mede-gelowiges. Agter sy werke is sy maniere! Besluit om ‘n student van die Meester by alle geleenthede te wees.’
Sielskos: Gen 20-23; Matt 19:15-30; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25
2020-03-01
Psalm 32:5 NLV
Wanneer jy met ‘n hardkoppige gewoonte of verslawing stoei, sal jy krag in die regte ondersteuningsgroep vind. Jy moenie skaam wees om vir hulp uit te reik wanneer jy dit nodig het nie – maar wees versigtig aan wie jy jou sondes bely! Die Psalmdigter het geskryf: ‘…’Ek bely my opstand teen die Here.’ En my sonde en oortredings het U vergewe.’ Een Bybelonderwyser stel dit so: Moet nooit iets bespreek wat jy wil hê iemand anders moet vergeet nie. Jou woorde maak gedagtes permanent; hulle gee lewe en langslewendheid aan alles wat bespreek word. Argumente sou sterf en konflikte sou ophou, as dit nie was vir jou woorde wat hulle gehandhaaf het nie. Woorde blaas lewe in alles in. ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Woorde kan seermaak. ‘Skinderstories is so soet soos lekkers. Jy sluk dit maklik, en dit sink tot diep in jou gemoed’ (Spreuke 18:8 NLV). Jy kan nie ander mense keer om van jou te praat nie, maar moenie vir hulle inligting gee wat jy dalk sal wil hê hulle moet vergeet nie. Moet ook nooit onnodige inligting gee wat meer vrae inspireer nie. Wees versigtig wanneer jy jou foute bely. Jou poging om openlik te wees mag dalk baie opreg wees, maar jou fout mag dalk groter in hulle geheue wees as die les wat jy daaruit geleer het en met hulle probeer deel. Daar is natuurlik tye wanneer addisionele inligting en verduideliking raadsaam, voordelig of selfs noodsaaklik is, maar jy moet wys wees. Fokus op jou toekoms, nie op jou verlede nie. Moet nooit iets sê wat jy nie wil hê die res van jou lewe herhaal moet word nie.’
Sielskos: Hand 2:1-21; Joël 2:23-32
2020-02-29
Prediker 4:10 NLV
God het nooit vir ons bedoel om alleen te wees nie. Ons almal het van tyd tot tyd hulp en bemoediging nodig, maar wees versigtig wie jy daarvoor nader. 1) Moenie na iemand toe gaan wat nie jou probleem kan hanteer nie. Jy kan dalk tydelike verligting kry wanneer jy jou situasie met hulle deel, maar wat as hulle nie volwasse genoeg is om dit te hanteer nie? Jesus het gesê: ‘Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ‘n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ‘n meulsteen om sy nek in die see te verdrink’ (Matteus 18:6 NLV). 2) Dis in orde om na ‘n vriend te draai, solank as wat hulle geestelik volwasse is. Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV). Petrus skryf: ‘…Sulke liefde maak baie sondes toe’ (1 Petrus 4:8 NLV). Iemand wat waarlik vir jou lief is, sal vir jou bid en saam met jou stap totdat jy oorwinning behaal. Wanneer jy op die verkeerde pad is, sal hulle nie vir jou verskonings maak nie – hulle sal jou aanspreeklik hou. 3) Indien moontlik, draai na ‘n geestelike vader toe. Paulus sê: ‘Want selfs al sou julle tienduised ander leermeesters hê om julle omtrent Christus te onderrig, het julle net een geestelike vader…’ (1 Korintiërs 4:15 NLV). Dink aan ‘n goeie vader se karaktereienskappe. Hy korrigeer, maar veroordeel nooit nie. Hy sal nie opgee op jou nie. Sy evaluasie is gebaseer op jou beste kwaliteite, nie jou slegstes nie. In plaas van om negatief op jou mislukkings te reageer, herken hy jou potensiaal en hou aan werk aan jou. Vra God dus vandag vir ‘n geestelike vader en bly in gereelde kontak met hom.
Sielskos: Gen 17-19; Matt 19:1-14; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22
2020-02-28
2 Petrus 3:9 NLV
As jy vir ‘n geliefde bid wat nog nie gered is nie, is hier ‘n Bybelse belofte waarop jy vandag kan staan: ‘…Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.’ Vervang die woord ‘almal’ in die laaste sin met jou geliefde se naam. Solank as wat daar lewe is, is daar hoop! Die laaste wonderwerk wat Jesus verrig het, was om die dief wat op ‘n kruis langs hom gehang het, te red: ‘…Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees’ (Lukas 23:43 NLV). Dit maak nie saak hoe ver heen jou geliefde mag wees nie, God se genade kan hom/haar nog steeds bereik – hou dus aan om vir hom/haar te bid. Luister: ‘Die Here is nie te swak om julle te red nie. Hy is nie te doof om julle te hoor nie’ (Jesaja 59:1 NLV). Jesus het gesê: ‘Niemand kan na My toe kom as die Vader… hom nie na My toe laat kom nie…’ (Johannes 6:44 NLV). Vra dus vir God om iemand op jou geliefde se pad te stuur wat vir hulle die weg na verlossing sal wys. Word bowenal nie moedeloos nie en moenie aan twyfel toegee nie. Onthou, dit is God se wil om hulle te red en wanneer jy in ooreenstemming met sy wil bid, kan jy Hom met vrymoedigheid nader. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).
Sielskos: Gen 13-16; Matt 18:21-35; Ps 61; Spr 6:16-19