Bid jy vir ‘n ongeredde geliefde?

2020-02-28
2 Petrus 3:9 NLV

As jy vir ‘n geliefde bid wat nog nie gered is nie, is hier ‘n Bybelse belofte waarop jy vandag kan staan: ‘…Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.’ Vervang die woord ‘almal’ in die laaste sin met jou geliefde se naam. Solank as wat daar lewe is, is daar hoop! Die laaste wonderwerk wat Jesus verrig het, was om die dief wat op ‘n kruis langs hom gehang het, te red: ‘…Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees’ (Lukas 23:43 NLV). Dit maak nie saak hoe ver heen jou geliefde mag wees nie, God se genade kan hom/haar nog steeds bereik – hou dus aan om vir hom/haar te bid. Luister: ‘Die Here is nie te swak om julle te red nie. Hy is nie te doof om julle te hoor nie’ (Jesaja 59:1 NLV). Jesus het gesê: ‘Niemand kan na My toe kom as die Vader… hom nie na My toe laat kom nie…’ (Johannes 6:44 NLV). Vra dus vir God om iemand op jou geliefde se pad te stuur wat vir hulle die weg na verlossing sal wys. Word bowenal nie moedeloos nie en moenie aan twyfel toegee nie. Onthou, dit is God se wil om hulle te red en wanneer jy in ooreenstemming met sy wil bid, kan jy Hom met vrymoedigheid nader. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).

Sielskos: Gen 13-16; Matt 18:21-35; Ps 61; Spr 6:16-19