Weet jou vrou dat jy lief is vir haar? (3)

2020-03-10
Spreuke 5:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Getroude mans, julle moet julle vrouens liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het…’ (Efesiërs 5:25 NLV). Kom ons kyk dus nog ‘n keer hoe Christus die stigters van die kerk, sy twaalf dissipels, liefgehad het. Hy het hulle gawes herken. Hy was bly oor hulle suksesse. Hy het hulle ondersteun en aangemoedig om hulle volle potensiaal te bereik. Is jy gewillig om dit te doen? Wanneer jy iemand waarlik liefhet, sal jy hulle nie as gevolg van jou eie onsekerhede probeer terughou of beheer nie. Jy sal hulle gawes herken, hulle help om alles te word wat God hulle geroep het om te wees, hulle vrylaat en hulle sukses vier. As hulle lig dan helderder as joune sou brand, sal jy hulle grootste rasieleier word. As dit nie die model van jou gesin in jou kinderjare was nie, is die kans goed dat jy daaraan sal moet werk. As jy in ‘n vorige verhouding ‘n ontroue maat gehad, sal jy dalk vir God moet vra om jou hart te genees en jou ‘n nuwe vlak van vertroue te gee. Om hierdie tipe verhouding te bou, vereis ‘n vlak van nederigheid en eerlikheid waaraan jy heel moontlik nie gewoond is nie. Jy sal dalk jou manlike ego moet oorkom, jou vrese moet erken en vir jou vrou moet sê: ‘Ek is lief vir jou en ek wil jou regtig vertrou. Sal jy my daarmee help?’ ‘n Eggenoot wat waarlik vir jou lief is, sal die ekstra myl loop om jou te vertel waar hulle was en met wie hulle gedurende die dag tyd spandeer het, sodat jy veilig kan voel. Die waarheid is dat jy soms vir jou huwelik sal moet veg – maar dis die moeite werd, want op die ou einde wen julle albei!

Sielskos: Gen 37-39; Matt 21:33-46; Ps 112; Spr 7:6-9

Weet jou vrou dat jy lief is vir haar? (2)

2020-03-09
Deuteronomium 24:5 NLV

Die Bybel sê: ‘Getroude mans, julle moet julle vrouens liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’ (Efesiërs 5:25 NLV). Aangesien die dissipels die oorspronklike stigters van die kerk was, kom ons kyk hoe Jesus hulle behandel het. Hy het tyd saam met hulle spandeer; na hulle geluister en met hulle gesels. Die Ou Testamentiese wet het bepaal: “‘n Pasgetroude man mag nie in die weermag opgeneem of enige ander spesiale verantwoordelikhede gegee word nie. Hy moet vry wees om vir ‘n jaar lank by die huis te wees om die vrou met wie hy getroud is gelukkig te maak” (Deuteronomium 24:5 NLV). Dink net, ‘n hele jaar om niks anders te doen as om mekaar lief te hê en mekaar te leer ken nie! Hoekom het God dit so beplan? Omdat geen geveg wat jy ooit sal aanpak, of geen besigheid waarby jy ooit betrokke sal wees, belangriker as die blywende verhouding wat jy met jou eggenoot bou, sal wees nie. Een van die grootste redes hoekom paartjies deesdae in die skeihof beland, is omdat hulle nie tyd eenkant sit om aan die einde van die werksdag, sonder die televisie en die telefoon, hulle gedagtes en gevoelens met mekaar te deel nie. Baie kere sal jou vrou probleme met jou deel, maar nie omdat sy wil hê dat jy dit moet oplos nie. Sy wil eerder empatie, begrip en ondersteuning hê. Wanneer jy aandagtig na haar sorge luister, voel sy geliefd en gewaardeerd en nege uit die tien kere, verdwyn die probleem soos mis voor die son. Dis groot rente – op ‘n baie klein belegging!

Sielskos: Gen 35-36; Matt 21:18-32; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5

Weet jou vrou dat jy lief is vir haar? (1)

2020-03-08
Efesiërs 5:25 NLV

Hoekom sê die Bybel: ‘Getroude mans, julle moet julle vrouens liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’? Omdat jou vrou moet weet dat jy vir haar lief is, aan haar dink, haar by jou planne betrek en dat jy haar opinie, behoeftes en begeertes waardeer. As jy dit nie vir haar sê nie, sal sy dit nie weet nie! Kom ons kyk hoe Jesus die kerk, wat deur twaalf dissipels wat feilbare mense was, begin is, liefgehad het en hoe jy jou vrou moet liefhê. Hy het hulle onvoorwaardelik liefgehad. Was dit altyd maklik? Nee. In plaas daarvan om egter by die dissipels te neul oor wat hulle was en nie was nie, het Hy homself verbly oor wat hulle sou word wanneer sy genade in hulle lewens gewerk het. Stop en dink aan die kwaliteite wat jou oorspronklik na jou vrou toe aangetrek het. Oor die jare mag sy dalk ‘n paar kilogramme opgetel het en ‘n paar plooie bygekry het. Sy is egter steeds dieselfde wonderlike persoon op wie jy verlief geraak het. Dis maklik om dit te vergeet, dus moet jy jouself – en haar – gereeld daaraan herinner. Wanneer rose aan ryp blootgestel word, verlep hulle en gaan dood, maar as jy hulle die regte hoeveelheid sonskyn en reën gee, floreer hulle. Salomo het die ideale vrou as volg beskryf: ‘Haar kinders is trots op haar. Haar man spog met haar’ (Spreuke 31:28 NLV). Hoekom was hierdie kinders trots op haar? Omdat hulle gesien het dat hul pa trots op haar is! As jy dus die afgelope ruk te besig, te self-behep of te verstrooid was – verander jou optrede en vertel jou vrou hoe lief jy haar het. (Die beginsel werk beide kante toe, dames!).

Sielskos: Matt 5:3; Luk 18:9-14; Jes 57:14-21; 2 Sam 7:18-29

Jou ‘voordele pakket’

2020-03-07
Maleagi 3:14 NLV

In die laaste boek van die Ou Testament, Maleagi, vra die Israeliete: ‘…Dis tevergeefs om God te dien. Wat het ons daarby gebaat…?’ Dis ‘n vraag wat ongelowiges en soms selfs gelowiges vra, veral wanneer tye moeilik is en ons geloof getoets word. Die Psalmdigter gee egter vir ons die antwoord: ‘Prys die Here! Die gelukkigste mense op aarde is hulle wat groot respek vir die Here het, wat met blydskap luister na alles wat die Here sê. Hulle nageslag is baie groot. Die Here se goedheid is by sulke mense oral waar hulle gaan. Hulle het meer as genoeg om van te leef. Hulle doen net goed aan ander mense. God se goedheid skyn soos die son oor hulle hele lewe. Hy is by hulle met sy goedheid, sy ontferming, sy beskerming. Iemand wat die Here vrees, deel graag sy besittings met ander. Hy leen uit, hy doen altyd die regte dinge. Almal praat daarvan. Hulle onthou hom, want hy struikel nie. Slegte nuus ontstel hom nie, want sy hand is veilig in die Here s’n. Omdat hy op die Here vertrou, is hy glad nie bang nie, want hy weet sy vyande sal tot ‘n val kom. Hy strooi sy besittings uit; arm mense dra hy op die hande. Hy hou nooit op om goed te doen nie. Wat ‘n leefstyl! Dit bring baie eer en vreugde’ (Psalm 112:1-9 DB). Die voordele wat jy ontvang wanneer jy God dien sluit geluk, kinders op wie jy kan trots wees, sukses, invloed en eer in. Let veral die volgende woorde op: ‘…Slegte nuus ontstel hom nie, want sy hand is veilig in die Here s’n. Omdat hy op die Here vertrou, is hy glad nie bang nie…’ Hierdie seëninge is alles deel van jou ‘voordele pakket.’

Sielskos: Gen 32-34; Matt 21:12-17; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2

Moenie jouself uit geloof bid nie

2020-03-06
Markus 11:24 NLV

Charles Haddon Spurgeon, die ‘Prins van Predikers,’ het gesê: ‘Glo in God, totdat jy Hom vir die antwoord kan bedank. As die antwoord jou steeds ontwyk, moenie op so ‘n manier bid dat dit duidelik is dat jy nie glo dat jy die antwoord sal kry nie. So ‘n gebed sal jou hinder eerder as om jou te help; en wanneer jy klaar gebid het, sal jy agterkom dat jou geloof verswak, of selfs heeltemal verdwyn het. Die dringendheid wat jy gevoel het om hierdie tipe gebed te bid kom duidelik uit jouself. Dit is nie verkeerd om die kwessie weer teenoor die Here te opper indien Hy jou laat wag nie, maar doen dit op so ‘n manier dat dit geloof impliseer. Moenie jouself uit geloof bid nie. Jy kan dalk vir Hom sê dat jy wag en Hom steeds vir die antwoord vertrou en Hom prys. Daar is niks wat geloof so bevestig as om God te prys en te dank omdat jy seker is dat jy die antwoord sal ontvang nie. Gebede wat ons uit ons geloof uit bid, ontken God se belofte in sy Woord en sy fluistering in ons harte. Sulke gebede is die uitdrukking van die onrus in jou hart en hierdie onrus impliseer ongeloof. ‘Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan…’ (Hebreërs 4:3 NLV). Hierdie gebed wat ons onsself uit geloof uit bid, spruit dikwels uit ons gedagtes oor die moeilike probleem, eerder as gedagtes oor God se belofte. Abraham het ‘…baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns reeds heeltemal gedaan was… [maar] Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie…’ (Romeine 4:19-20 NLV). Mag ons oppas en bid dat ons nie in die versoeking kom om ons heeltemal uit geloof te bid nie.’

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Matt 21:1-11; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35

Die pad van druk

2020-03-05
Matteus 7:14 NLV

As jy vandag in jou lewe by ‘n kruispad staan, het jy twee opsies: 1) Draai links of regs. 2) Gaan vorentoe of terug. Daar is geen twyfel aan die pad wat God wil hê jy moet neem nie – vorentoe! As jy enigsins daaraan twyfel, lees en mediteer oor die volgende Skrifgedeeltes: ‘En al het jy met min begin, sal jy met baie eindig’ (Job 8:7 NLV). ‘…Hulle kragte sal vermeerder…’ (Psalm 84:8 NLV). ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek’ (Spreuke 4:18 NLV). ‘Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (1 Timoteus 4:15 NLV). God sal vir jou die genade en krag gee om vorentoe te beweeg, maar verstaan mooi: Dis nie altyd ‘n maklike pad nie. Jesus het gesê: ‘Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan. Hoe bitterlik nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!’ (Matteus 7:13-14 NLV). Jesus het hier sy beroemde bergrede gelewer, waar Hy verduidelik het hoe mens as inwoner van sy koninkryk veronderstel is om te lewe. Dis die verskil tussen die ‘baie’ en die ‘min.’ Die eerste groep kies die maklike pad, maar die tweede groep kies die pad van druk, omdat hulle besef dat hoe moeilik dit ook al mag wees, dit die karakter van Christus in ons vorm.

Sielskos: Gen 28:1-30:24; Matt 20:29-34; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31