Weet jou vrou dat jy lief is vir haar? (1)

2020-03-08
Efesiërs 5:25 NLV

Hoekom sê die Bybel: ‘Getroude mans, julle moet julle vrouens liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’? Omdat jou vrou moet weet dat jy vir haar lief is, aan haar dink, haar by jou planne betrek en dat jy haar opinie, behoeftes en begeertes waardeer. As jy dit nie vir haar sê nie, sal sy dit nie weet nie! Kom ons kyk hoe Jesus die kerk, wat deur twaalf dissipels wat feilbare mense was, begin is, liefgehad het en hoe jy jou vrou moet liefhê. Hy het hulle onvoorwaardelik liefgehad. Was dit altyd maklik? Nee. In plaas daarvan om egter by die dissipels te neul oor wat hulle was en nie was nie, het Hy homself verbly oor wat hulle sou word wanneer sy genade in hulle lewens gewerk het. Stop en dink aan die kwaliteite wat jou oorspronklik na jou vrou toe aangetrek het. Oor die jare mag sy dalk ‘n paar kilogramme opgetel het en ‘n paar plooie bygekry het. Sy is egter steeds dieselfde wonderlike persoon op wie jy verlief geraak het. Dis maklik om dit te vergeet, dus moet jy jouself – en haar – gereeld daaraan herinner. Wanneer rose aan ryp blootgestel word, verlep hulle en gaan dood, maar as jy hulle die regte hoeveelheid sonskyn en reën gee, floreer hulle. Salomo het die ideale vrou as volg beskryf: ‘Haar kinders is trots op haar. Haar man spog met haar’ (Spreuke 31:28 NLV). Hoekom was hierdie kinders trots op haar? Omdat hulle gesien het dat hul pa trots op haar is! As jy dus die afgelope ruk te besig, te self-behep of te verstrooid was – verander jou optrede en vertel jou vrou hoe lief jy haar het. (Die beginsel werk beide kante toe, dames!).

Sielskos: Matt 5:3; Luk 18:9-14; Jes 57:14-21; 2 Sam 7:18-29