Dis nie ‘n klein dingetjie nie!

2020-03-16
Jesaja 11:2 NLV

Jesaja het van Jesus gesê: ‘Uit die stomp van Dawid se familie sal ‘n takkie groei, ‘n tak wat vrugte sal dra. Die Gees van die Here sal op hom rus, die Gees wat wysheid en insig bring, die Gees wat raad en krag bring, die Gees wat kennis en eerbied vir die Here bring. Hy sal sy vreugde daarin vind om die Here te gehoorsaam. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn of op vals getuienis of hoorsê nie. Hy sal die armes en verdruktes beskerm. Teen die bose mense sal hy optree en met die asem van sy mond hulle om die lewe bring (verse 1-4 NLV). Jy sê: ‘Dis alles goed en wel, maar hoe beïnvloed dit my lewe?’ Meer as wat jy dink! Wanneer Jesus Christus op die troon as Heerser van jou lewe sit, sal die Gees wat op Hom rus, ook op jou rus! Met dit in gedagte, gaan terug en lees weer stadig en aandagtig die woorde wat in kursief gedruk is. As jy bewyse van hulle in jou lewe sien, versorg hulle met gebed en gee hulle met die Woord van God water. As jy nie bewyse daarvan sien nie, gaan op jou knieë en bid: ‘Here, maak my meer soos Jesus.’ Wanneer jy ‘n kar koop, laat die verkoopsman jou gewoonlik toe om ‘n ‘demo model’ van die kar te bestuur. Die kans is goed dat as jy daarvan hou, jy die kar sal koop. Ons is geroep om Jesus se ‘demo modelle’ te wees. Dis nie ‘n klein dingetjie nie! Hoekom? Omdat jou woorde, houdings, aksies en reaksies mense van Christus kan wegdryf, of hulle na Hom toe kan aantrek.

Sielskos: Gen 50; Haggai 1-2; Matt 23:1-12; Ps 115; Spr 8:1-3

Wat druk jou te neer?

2020-03-15
Hebreërs 12:1 NLV

Tydens ‘n onlangse radio uitsending, het Dennis Rainey oor die Double Eagle II, die eerste warmlugballon wat die Atlantiese Oseaan oorgesteek het, gepraat. Die mans wat die lugballon bestuur het, is in ‘n lugstroom vasgevang, wat hulle al die pad oor die oseaan gedra het. Net toe hulle egter naby die kus van Ierland kom, het hulle in digte wolke ingevlieg en het ys op die ballon se buitenste laag begin vorm. Hulle het hoogte verloor en binne ure van ses kilometer tot drie kilometer gedaal. Hulle het alles gedoen om die ballon te red. Hulle het videokameras, kos en selfs ‘n sweefvliegtuig waarmee hulle beplan het om te land, oorboord gegooi. Op een kilometer het hulle hulle hul ligging uitgesaai en toe die radio oorboord gegooi. Uiteindelik het hulle op negehonderd meter deurgebreek in die sonlig. Die ys het in vlae afgegly en die ballon het al die pad tot by Frankryk gesweef. Die Bybel sê dat jy alles moet afstroop wat jou spoed kan vertraag, ‘…veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry…’, om sodoende die lewenswedloop te kan hardloop en wen. Dis baie makliker om die sonde as die ander gewigte wat jy moet afstroop te identifiseer, omdat hierdie gewigte dikwels goed soos verantwoordelikhede, druk, verpligtinge en skedules insluit. Vandag moet jy stop en ‘n opname maak van dit wat jy saam met jou dra. Jy moet elke ding vierkantig in die gesig kyk en jouself afvra: ‘Het God vir my hierdie gegee om te dra, het iemand anders dit vir my gegee om te dra, of het ek self besluit om dit op te tel?’ Wat ook al vandag jou te neer druk, stroop dit af en sit dit eenkant!

Sielskos: Matt 5:4; Jes 51:1-16; Ps 30; 2 Kor 1:3-7

Gifstowwe in die werksplek

2020-03-14
2 Korintiërs 6:17 NLV

Stop en dink ‘n oomblik na oor al die produkte wat ons eens op ‘n tyd gedink het skadeloos is: asbes, lood, kwik ens. ‘n Generasie later is ons steeds besig om mense te behandel wat asbes geïnstalleer het en die giftige vesels ingeasem het. Met hierdie illustrasie in gedagte, wees bewus van die gifstowwe in die werkplek en moenie besmet word nie. Die Bybel sê: “Daarom: ‘Gaan van hulle af weg en hou julle eenkant, sê die Here, en moenie vat aan wat onrein is nie; dan sal Ek julle ontvang.'” God sê nie dat jy jou eenkant van jou kollegas moet hou nie. Hy sê verseker nie dat jy ‘n geestelik meerderwaardige houding moet inneem nie. Hy sê dat jy op jou hoede moet wees vir giftige houdings, giftige optredes en giftige waardes. Wat is die gifstowwe in jou werksplek? Die algemene gifstowwe is klakouse, skinderbekke, rugstekers en teisteraars. Wanneer hierdie agente oor jou pad kom, moet jy doen wat nodig is om jouself van hulle te distansieer. Net om met hulle geassosieer te word, kan gevaarlik vir jou emosionele en geestelike gesondheid wees. Wees ook op jou hoede vir die gif van werkverslawing, of dit nou die verwagting van jou baas is of self opgelê is. Wees gewillig om die ekstra myl te loop wanneer dit nodig is, maar onderhou duidelike grense tussen jou werk en jou lewe by die huis. Leer om besigheid en plesier te skei. As jy jouself nie toelaat om fisies en geestelik te herstel en vernuwe te word nie, sal jy uitbrand. Gevolglik sal Satan in staat wees om jou aan te val. Die effektiefste teengif is goeie kos. Geestelik gesproke beteken dit dat jy daagliks bid, jou Bybel lees en jou met mede-gelowiges wat jou versterk en bemoedig, omring.

Sielskos: Gen 47-49; Matt 22:34-46; Ps 26; Spr 7:26-27

Lig die beperkinge op jouself

2020-03-13
Jesaja 54:3 NLV

Vandag mag God dalk vir jou sê wat Hy vir sy mense, Israel, gesê het: ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in. Want jy sal na links en regs uitbrei…’ (verse 2-3 NLV). Die meeste mense bly outomaties binne grense, selfs wanneer hierdie grense willekeurig getrek of baie verouderd is. Onthou, die meeste beperkings waarvoor ons te staan kom, is nie deur ander mense op ons geplaas nie, maar deur onsself. ‘n Gebrek aan kreatiwiteit val dikwels in hierdie kategorie. As jy meer kreatief wil word, moet jy jou grense uitdaag. Een uitvinder sê: ‘Alle menslike ontwikkeling, maak nie saak wat se vorm dit aanneem nie, moet buite die reëls wees; andersins sou ons nooit iets nuuts gedoen het nie.’ Wanneer jy iets wil hê wat jy nie het nie, moet jy gewillig wees om iets te doen wat jy nog nie gedoen het nie. Jy sê: ‘Maar ek het nie sy opvoeding nie,’ of ‘Ek het nie haar talente nie.’ Jy het nie iemand anders se opvoeding of talente nodig nie. Toe God jou gemaak het, het Hy alles wat jy nodig het om jou lewensdoelwit te bereik, in jou geplaas; jy moet dit net ontsluit en aan die werk sit. ‘God sê toe: ‘Laat Ons die mens maak volgens ons beeld, ‘n afbeelding van Ons…’ God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor… al die diere op aarde'” (Genesis 1:26-28 NLV). Jy is volgens God se beeld gemaak. Daar is ‘n deel van jou wat soos God is. Jy het goddelike DNA. Jy is in staat om kreatief te wees, so lig die beperkinge op jouself.

Sielskos: Gen 44-46; Matt 22:23-33; Ps 24; Spr 7:24-25

Moet nooit jou karakter en oortuigings in gedrang bring nie

2020-03-12
Spreuke 23:23 NLV

In die vroeë 1970’s, het die Irakse regering ‘n groep Amerikaanse studente op valse aantygings van spioenasie in hegtenis geneem. Om hulle sover te kry om skuld te erken, is hulle gemartel. Daar is vir die studente gesê dat indien hulle erken dat hulle spioene is, hulle vrygelaat sou word. Een vir een, soos die druk en die pyn vermeerder het, het hulle almal erken dat hulle misdade gepleeg het waaraan hulle nie skuldig was nie – almal behalwe een student. Die marteling het erger geword en die eensaamheid van isolasie het ondraaglik geword en hom amper gebreek. Uiteindelik het hulle aangekondig dat hulle klaar was met sy saak en dat hy óf sy misdaad moes erken, óf hy sou tereggestel word. ‘n Skuldbelydenis het voor hom gelê terwyl hulle die pistool teen sy kop gedruk het, die pistool oorgehaal het en die sekondes begin aftel het. Hy het uit sy sel uit gehoor hoe ander mense tereggestel word en hy het geweet waartoe sy ontvoerders in staat was. ‘Teken jou naam,’ het hulle vir hom gesê, ‘en jy sal lewe,’ maar hy het geweier. Hy het sy oë toegemaak en homself voorberei om te sterf. Hulle het die sneller getrek. Toe hy die kliek hoor, het hy gedink hy is dood. Die pistool was egter nooit gelaai nie. Die student is uiteindelik vrygelaat, maar hy het agterna ontdek dat al die ander gevangenes wat skuld erken het, in die openbaar opgehang is. Hy was die enigste oorlewende. Die drievoudige woord vir jou vandag is dus: 1) Dis altyd reg om reg op te tree. 2) Dit is nooit verkeerd om reg op te tree nie. 3) Dit is nooit reg om verkeerd op te tree nie.

Sielskos: Gen 42-43; Matt 22:15-22; Ps 135; Spr 7:21-23

Weet jou vrou dat jy lief is vir haar? (4)

2020-03-11
Johannes 13:1 NLV

Kom ons kyk weer hoe Jesus sy dissipels liefgehad het en hoe jy jou vrou moet lief hê. Hy het nooit opgehou om hulle lief te hê nie. Die Bybel sê vir ons dat Jesus ‘…was lief vir sy eie mense wat in die wêreld gewoon het. Hy het hulle enduit liefgehad.’ As die betowering uit jou huwelik verdwyn het en jy voel dat jy nie meer vir jou maat lief is nie, bid die volgende: ‘Vader, die liefde vir my eggenoot is op ‘n laagtepunt. Ek weet u Woord sê dat onfeilbare liefde geduldig, vriendelik, nederig, waardig en nie kort van draad is nie en nie boekhou van die kwaad nie (sien 1 Korintiërs 13:4-5 NLV). Ek bely dat ek boek gehou het van die kwaad en min geduld vir my maat se tekortkominge gehad het. Vergewe my vir my geestelike onvolwassenheid. Ek vra U om my hart te deurdring en my eggenoot deur my lief te hê. Help my om my wrokkigheid te laat gaan en maak ons huwelik ‘n model van hoe U die kerk liefgehad het en Uself daarvoor gegee het. Werk in ons, Here, om te doen wat vir U aanneemlik is (sien Filippense 2:13). Genees en herstel ons verhouding tot u verheerliking. Lei ons om ons liefde te herstel volgens die patroon wat in u Woord gegee word: deur die dinge te onthou wat ons saam gedoen het, om ons mislukkings te bely en om die vuur van liefde wat ons aan die begin gehad het, weer aan te blaas (sien Openbaring 2:5). Net U kan ‘n persoon se hart verander en ek gee my hart en emosies aan U oor. ‘…Bring ons terug en herstel ons, want U is die Here ons God’ (Jeremia 31:18 NLV). In die Naam van Jesus bid ek dit, Amen.’

Sielskos: Gen 40-41; Matt 22:1-14; Ps 27; Spr 7:10-20