2020-03-22
Efesiërs 4:32 NLV
Hier is ‘n verhaal wat elke ouer moet lees en onthou. “Een dag het ek en my man in ‘n argument betrokke geraak en op mekaar begin skree. Ek het huilend op die stoep met my kop in my hande gaan sit. Ons twee-jarige het die argument aangehoor. ‘Ek is lief vir jou, Mamma,’ het sy gesê toe sy langs my kom sit en haar arms om my slaan. ‘Ek is ook lief vir jou,’ het ek geantwoord. Sy het haar kop op my skouer gerus en my ‘n harde drukkie gegee. ‘Ek wens jy was ook vir my pappa lief,’ het sy gesê. My hart het uit my borskas geskeur! ‘Maar ek is lief vir jou pappa. Ons het net met mekaar gestry.’ My dogter het geglimlag, opgestaan en weggeloop. ‘Waarheen gaan jy?’ het ek haar gevra. Sy het geantwoord: ‘Ek gaan vir Pappa vertel dat jy lief is vir hom!'” As jy jou kinders aan jou woede blootstel, moet jy seker maak dat hulle teenwoordig is wanneer julle genade en vergifnis aan mekaar bewys. Leer hulle hoe om die probleem te hanteer, sonder om die ander persoon aan te val. Leer hulle dat ‘n verskil in opinie tot ‘n besluit kan lei wat dinge vir almal beter maak. En dat jy verkeerd kan wees oor ‘n saak en steeds gerespekteerd en geliefd kan wees. Dikwels beteken dit dat jy hulle moet leer wat jy nooit geleer is nie. As dit die geval is, leer uit die foute wat jou ouers gemaak het en dra daardie kennis aan jou kinders oor. Vergewe wanneer jy seergemaak is en moenie jou wrokke bed to neem nie (sien Efesiërs 4:26). Jesus het gesê dat jy moet vergewe sodat ‘…julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe’ (Markus 11:25 NLV). Onthou, jou kinders sien jou!
Sielskos: Matt 5:5; Num 12:1-15; Ps 37:1-11; Fil 2:5-11
2020-03-21
2 Timoteus 3:16-17 NLV
Soos jy hierdie dagstukkie lees, moet jy onthou dat die krag nie in die skrywer se gedagtes of opmerkings lê nie, maar in die geskrewe Woord van God. Paulus sê vir ons: ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer…’ Dis met die goddelike sade van lewe bevrug en daardie sade sal binne-in jou opskiet, die vrug van die Gees produseer en God se beloftes in jou lewe tot stand bring. Sien hierdie dagstukkie as ‘n poort, eerder as ‘n doelwit. Sien dit as die klein boekie wat jou eetlus vir die Groot Boek aanwakker! Hou die Bybel byderhand wanneer jy elke dag se dagstuk lees en blaai na die teksverse waarna verwys word. Soos jy die Woorde van God elke dag in jou deponeer, sal wonderlike dinge in jou lewe begin gebeur. Die Psalmdigter skryf: ‘Gelukkig is die mense wat nie optree volgens die raad van goddeloses, of rondstaan op die pad van sondaars, of sit in die vergadering van spotters nie, maar vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig’ (Psalm 1:1-3 NLV). Let op die woorde: ‘in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig.’ Soos jy jou gedagtes met die Skrif vernuwe, sal jou geloof groei, jou uitkyk verander en elke area in jou lewe sal ten goede begin verander. ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd in ons lewe is. Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.’
Sielskos: Job 11-14; Matt 24:26-35; Ps 13; Spr 8:14-16
2020-03-20
Jesaja 26:3 NLV
Die geheim tot ‘perfekte vrede’ word in hierdie Skrifgedeelte vervat: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ Dis nie jou omstandighede nie, maar die manier hoe jy daaroor dink wat jou vrede steel. Deur op jou omstandighede te fokus sal net meer angs by jou veroorsaak, omdat omstandighede konstant verander en buite jou beheer raak. God verander egter nooit nie en niks raak ooit buite sy beheer nie. Vrede en bekommernis kan nie saam in een sin gebruik word nie. Bekommernis smoor jou selfvertroue, verwurg jou perspektief en versmoor jou gees. Dit steel die vrede wat jy ontvang wanneer jy die God leer ken wat alles kan hanteer, Hom deur wie alle dinge moontlik is. Die rede hoekom ons onsself so baie bekommer, is omdat ons die teenoorgestelde optree as die gedrag wat vrede meebring. Jy mag dit dalk nie so bedoel nie, maar elke keer wat jy jouself begin bekommer, sê jy in wese: ‘Ek glo nie dat God hierdie vir my kan of wil hanteer nie. Ek is nie seker dat ek Hom in hierdie saak kan vertrou nie, dus sal ek hierdie las maar self dra en die probleem self hanteer.’ God is óf die middelpunt van jou vertroue, óf net ‘n deeltydse helper wat jy inroep wanneer jy nie dinge self kan hanteer nie. Dit laat mens dink aan die olifant en muis wat oor ‘n brug geloop het. Toe hulle aan die ander kant kom, sê die muis: ‘Sjoe, ons het regtig daardie brug laat skud!’ Wanneer jy begin om God as die hoofspeler en jouself in ‘n ondersteunende rol in jou lewe te sien, sal jy die vrede vind wat jou al so lank bly ontwyk het.
Sielskos: Job 8-10; Matt 24:15-25; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13
2020-03-19
Jeremia 23:16 NLV
Eugene G Grace, wat van 1916 tot 1945 die president van die Betlehem Staal Korporasie was, het gesê: ‘Duisende ingenieurs kan brûe bou, druk en stres op die bouwerk uitwerk en spesifikasies vir masjiene optrek. ‘n Goeie ingenieur is die man wat vir jou kan sê of die brug of masjien gebou moet word of nie, waar dit gebou moet word en wanneer dit gebou moet word.’ Deur hoekom te vra voor jy hoe vra, dwing jou om oor jou kernbeweegredes te dink wat die die bron van jou visioen is. Daar is baie sprake deesdae van ‘lewensdoelwitte.’ Dis ‘n goeie ding, omdat ‘n lewe met ‘n doelwit meer lonend as ‘n lewe van populariteit of mag is. Jou lewensdoel moet egter van God af kom. “Die Here die Almagtige sê: ‘Moenie luister na hierdie profete nie. Hulle boodskappe skep vals hoop by julle. Die visioene wat hulle oordra, kom nie van die Here af nie. Dit kom van hulleself af!'” Wanneer God die bron van jou visioen is, sal Hy ook die hulpbronne daarvoor verskaf. Dis hoekom die belangrikste vraag wat jy kan vra nie: ‘Wat is die beste manier om dit te doen?’ nie, maar ‘Hoekom doen ek dit enigsins?’ Uiteindelik sal God die finale oordeel gee oor dit waarvoor jy jou lewe gee. ‘Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekend maak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly…’ (1 Korintiërs 3:13-15 NLV). Die digter CT Studd het geskryf: ‘Only one life, ’twill soon be past, only what’s done for Christ will last.’
Sielskos: Job 5-7; Matt 24:1-14; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9
2020-03-18
Jesaja 50:4 AFR53
Jesaja skryf: ‘Die Here het my ‘n geoefende tong gegee, dat ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.’ Kom ons wees eerlik: as jy vir ‘n persoon alles wat jy dink sou vertel, sou jy hulle seermaak of hulle sou jou verlaat. Daar is omstandighede van jou wat privaat is. Volwassenheid beteken dat jy nie alles hoef te sê wat jy dink nie. Baie van wat jy dink is inderwaarheid nie deeglik deurdink nie! Dis hoekom jy moet bid en God vir ‘n ‘geoefende tong’ moet vra. Lees die volgende Skrifgedeeltes aandagtig deur: ‘Iemand wat op sy woorde let, bevorder die lewe. ‘n Bitsige antwoord kan alles ruïneer’ (Spreuke 13:3 NLV). ‘Wie ‘n wag voor sy mond het, bly uit die moeilikheid’ (Spreuke 21:23 NLV). ‘As jy dink jy is godsdienstig, maar jy hou nie jou tong in toom nie, bedrieg jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie’ (Jakobus 1:26 NLV). Daar is twee spesifieke geleenthede waar jou tong jou in die moeilikheid kan bring: 1) Wanneer jy kwaad is. Emosionele uitbarstings lei dikwels tot kwetsende aanmerkings wat jy nie bedoel nie en later oor spyt is. 2) Wanneer jy moeg is. Uitputting laat die wag voor jou mond verdwyn en laat onbesonne opmerkings uitglip. Wag altyd tot jou oordeel helder is en deurdink dinge voordat jy praat. Paulus het gesê: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee’ (Kolossense 4:6 NLV). Dís hoe jou woorde moet wees.
Sielskos: Job 1-4; Matt 23:23-39; Ps 19; Spr 8:6-7
2020-03-17
Lukas 4:16 NLV
Wanneer iemand sabbatsverlof neem, is dit omdat hulle tyd nodig het om te rus en hulle batterye te herlaai. God het ook sabbatsverlof geneem: ‘Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het en het Hy gerus na al sy werk’ (Genesis 2:2 NLV). Die Bybel sê wel dat God nie sluimer of slaap nie (sien Psalm 121:4). As Hy dus ‘n dag in die week afneem, het jy dit ook nodig! Nie te lank gelede nie het die meeste families op ‘n Sondag kerk toe gegaan, huis toe gekom en middagete geëet en dan die middag spandeer om te rus of mekaar se geselskap te geniet. Nou stoom ons sewe dae ‘n week voort, volspoed op die pad na uitbranding of ‘n vroeë dood. Wetenskaplike sê dat ons liggame geneties saamgestel is om te vereis dat een dag uit elke sewe dae gebruik moet word vir fisiese, emosionele en geestelike vernuwing, om sodoende ons hoogste potensiaal te bereik. Toe Truett Cathy sy eerste restaurant, The Dwarf House, in 1946 oopgemaak het, het hy die tradisie dat hulle op Sondae toe sou wees, ingestel. Daardie tyd was dit algemeen in die praktyk, maar nou is dit baie ongewoon om op Sondae toe te wees. Cathy, ‘n toegewyde Christen, het egter nooit daarvan afgesien nie. Dit het hom ook nie ‘n verlies laat ly nie, maar groot dividende afgewerp. Hy het een van die populêrste en winsgewende kitskos konsessierestaurante in Amerika begin – Chick-fil-A. Die Bybel sê: ‘Die sewende dag is die Here jou God se rusdag. Niemand in jou huis mag op daardie dag aangaan met gewone werk nie…’ (Eksodus 20:10 NLV). Jy het elke week een dag sabbatsverlof nodig – neem dit dus!
Sielskos: 1 Tess 1-5; Matt 23:13-22; Ps 11; Spr 8:4-5