2020-03-28
Daniël 1:8 NLV
Die Bybel sê: ‘Daniël het egter besluit dat hy nie homself met die koning se kos en drank gaan ontheilig nie. Hy het die hoofamptenaar versoek om nie daarvan te eet nie.’ Hierdie spesifieke kos en drank was aan die heidense gode as ‘n daad van lofprysing geoffer en vir Daniël was dit onaanvaarbaar. Dit sou sy karakter in gevaar stel en hy sou dit nie toelaat nie. Daniël het goeie redes gehad as hy sou kies om ja te sê. Hy was ver van die huis af en kon doen wat hy wil. Plus, as hy dit nie geëet het nie, sou hy die koning beledig – nie ‘n goeie loopbaanskuif nie! Daniël het egter geweet dat God se Woord duidelik is as dit by afgodery kom en God het hom daarvoor geseën. Hy is op die ou einde op ondenkbare maniere beskerm, onderhou, bevorder en voorspoedig gemaak. Sy filosofie was: ‘As God ja sê, sê ek ja. Wanneer God nee sê, sê ek nee.’ Hy het sy oortuigings bepaal voor hy in Babilon aangekom het. Het jy al besluit wat jou kernwaardes is? Het jy in die goeie tye die tyd geneem om te bepaal wat jy in die moeilike tye sal doen en nie sal doen nie? As jy dit nog nie gedoen het nie, begin dadelik daarmee. Daniël se vriende het waarskynlik vir hom gesê: ‘Niemand sal weet nie.’ Hy het egter besef: ‘God sal weet en ek sal weet. Ek hoef nie saam met jou te leef nie, maar ek moet met myself kan lewe.’ Jou gedagtes en idees moet altyd oop vir verandering en verbetering wees, maar jou kernwaardes moet ononderhandelbaar wees. Lewe dus volgens jou oortuigings.
Sielskos: Job 32-34; Matt 26:14-25; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31
2020-03-27
Filippense 3:14 NLV
‘n Deel van Paulus se sukses kan toegeskryf word aan die feit dat hy so gefokus was. ‘Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee…’ Fokus kan energie en krag aan amper enigiets gee, of dit nou geestelik, emosioneel of fisies is. Die sosioloog, Robert Lynd, het opgemerk dat ‘kennis slegs mag is, indien ‘n mens weet aan watter feite nie aandag gegee moet word nie nie.’ Die geboorte van ‘n potensiële deurbraak is dikwels die gevolg wanneer jy verskeie goeie idees met mense deel. Om idees egter na die volgende vlak te neem, moet jou gedagtes minder uitgestrek en meer selektief wees. ‘n Goeie idee word ‘n uitstekende idee wanneer jy die tyd neem om daarop te fokus. Dit mag dalk frustrerend wees om vir ‘n lang tyd op een idee te fokus, maar jou volharding sal vrugte afwerp. Die brein sal nie fokus totdat dit ‘n doelwit het nie. Die doel van jou doelwitte is egter om jou aandag te fokus en rigting te gee, nie om ‘n finale bestemming te identifiseer nie. Soos jy oor jou doelwitte dink, moet jy seker maak dat hulle: 1) duidelik genoeg is om in fokus te bly; 2) naby genoeg is om bereik te kan word; 3) nuttig genoeg is om lewens te verander. Hierdie drie riglyne sal jou aan die gang sit. Maak seker dat jy jou doelwitte neerskryf. As jy hulle nie neerskryf nie, kan jy amper gewaarborg wees dat hulle nie genoeg gefokus is nie. As jy waarlik wil seker maak dat hulle gefokus is, neem die raad van David Belasco aan: ‘As jy nie jou idee op die agterkant van my besigheidskaartjie kan neerskryf nie, is jou idee nie duidelik genoeg nie.’
Sielskos: Job 29-31; Matt 26:1-13; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2020-03-26
Psalm 139:16 NLV
Iyanla Vanzant het gesê: ‘Alles wat met jou gebeur is ‘n refleksie van wat jy van jouself glo. Ons kan nie meer as wat ons dink ons werd is, na onsself toe aantrek nie.’ Dit beteken dat die manier wat ons onsself sien, die tipe verhoudings wat ons aanknoop bepaal. Baie van ons het ‘n lae selfbeeld. Ons dink dat almal anders belangriker as ons is en dat hulle behoeftes belangriker as ons behoeftes is. Ons vergelyk ons met ander en laat hulle toe om te bepaal wie ons is; en ons word afhanklik van hulle goedkeuring om ons identiteit te onderhou. Dis egter ‘n klap in die gesig van God om na ander te kyk en te sê: ‘Ek wens ek was meer soos hulle.’ God het jou vir sy eie doel gemaak, sodat jy ‘n unieke aspek van sy glorie kan reflekteer. As gelowiges in Christus, het ons ‘n nuwe identiteit as kinders van God ontvang. Ons is nie geskep om in afhanklikheid van enige ander persoon te lewe nie. God is eerder besig om ons na die beeld van sy Seun te omskep en ons heel te maak (sien 2 Korintiërs 3:18). In Hom hoef ons nie bang te wees vir wie ons regtig is nie. Dis tyd om ‘n ware opinie van jouself te vorm, gebaseer op die waarheid dat God jou presies, ingewikkeld, wonderbaarlik en uniek geskep het – ‘n skepping sonder gelyke. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan… U het besluit wat met my sou gebeur. God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan. As ek dit probeer verstaan, besef ek my kop is te klein…’ (Psalm 139:16-18 DB).
Sielskos: Job 24-28; Matt 25:31-46; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2020-03-25
Jakobus 1:15 NLV
Wanneer God vir sonde nee sê, is Hy nie veeleisend nie – Hy is beskermend. Die Bybel verduidelik die gevare en listigheid van sonde as volg: ‘Ons eie natuurlike geneigdheid beproef ons, sleep ons saam en verlei ons. As ons natuurlike geneigdheid eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood. Moet dus nie mislei word nie, my geliefde broers en susters’ (verse 14-16 NLV). Vandag staan baie mense die idee voor om sekere dwelms, soos dagga, wettig te maak. Dit is egter al voorheen gedoen en het klaaglik misluk. In die laat 1980’s, het Switserland eiendom in Zurich beskikbaar gestel waar dwelmverslaafdes wetlik heroïen kon spuit en waar gratis naalde voorsien is, in ‘n poging om die verspreiding van VIGS te verminder. Hierdie area in Platzpitz het bekend geword as ‘Naalde Park.’ Hoe het die eksperiment uitgedraai? Amper oornag het die aantal dwelmgebruikers wat die park besoek het van 200 tot 20,000 gegroei. Dwelmgebruikers van oral oor Switserland het gekom om deel te neem aan die pret. Gou het hulle die plaaslike bevolking oorskrei. Die sterftesyfer het deur die dak geskiet en beamptes moes daagliks soveel as vyftig mense wat ‘n oordosis geneem het, probeer bybring. Die misdaadsyfer het ook deur die dak geskiet. Stadsamptenare het uiteindelik die eksperiment beëindig en die park toegemaak. Amper onmiddellik het misdaad weer na vroeëre vlakke gedaal en die program was ‘n totale mislukking. Wanneer God vir jou sê: ‘Moenie daar gaan nie,’ is dit omdat Hy vir jou lief is en net die beste vir jou wil hê. Wees dus wys, luister na Hom en moenie daar gaan nie!
Sielskos: Job 21-23; Matt 25:14-30; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2020-03-24
Romeine 4:5 NLV
Daar is net twee maniere hoe jy kan poog om vrygespreek te word. Die eerste een is deur te probeer en die tweede een is deur te vertrou. Wanneer jy probeer om God se goedkeuring deur jou optrede te verdien, kan jy nooit tot rus kom nie, omdat jy nooit seker kan wees dat jy genoeg gedoen het om sy guns te wen nie. Wanneer jy egter jou vertroue in Christus se voltooide werk aan die kruis plaas, sê die Bybel dat jy God se ‘rus’ binnegaan (sien Hebreërs 4:3). Paulus skryf: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Jy hoef nie te sukkel om deur God vrygespreek te word nie. Die oomblik wat jy jou vertroue in Jesus plaas, word jy ‘…op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek…’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Hoekom het Hy dit so gedoen? Omdat enige vryspraak wat jy deur goeie dade en deur die reëls te onderhou probeer verdien, so ver tekort skiet dat Hy dit as ‘vuil klere’ sien (sien Jesaja 64:6). Paulus skryf: “Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word: ‘Gelukkig is daardie mense wie se oortredings nie gestraf word nie en wie se sondes uitgewis word. Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde glad nie meer toereken nie!'” (Romeine 4:6-8 NLV). Edward Mote het hierdie gesang geskryf: ‘Dressed in His righteousness alone, faultless to stand before the throne. On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand.’ Wees bly! Dis hoe God jou sien – vrygespreek deur geloof!
Sielskos: Job 18-20; Matt 25:1-13; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2020-03-23
2 Korintiërs 5:21 NLV
Hier is ‘n wonderbaarlike en lewensveranderende waarheid. Die God wat sy sondelose Seun ‘sonde gemaak’ het, neem sondige mense soos ons en spreek hulle vry. Hoe gebeur dit? Deur dade? Nee, deur geloof! ‘Daarteenoor staan die saak heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word op grond van hulle geloof vrygespreek’ (Romeine 4:5 NLV). Hierdie vryspraak gaan nie daaroor om op die regte manier op te tree nie – dit gaan daaroor om op die regte manier te glo. Jy kan nie deur menslike pogings of om die wette te onderhou deur God vrygespreek word nie. Jy word net deur geloof in Christus en deur vertroue in sy voltooide werk aan die kruis, vrygespreek. Jy sê: ‘Maar ek voel so skuldig wanneer ek sondig.’ Jy moet; dis ‘n goeie afskrikmiddel! Christus het egter al jou sondes weggeneem; dus het Hy ook al jou skuld weggeneem. Wat voel jy dus? Innerlike konflik! Jy het ‘n nuwe gees in jou ou liggaam, wat op dieselfde manier as jou natuurlike liggaam teenoor iets skadeliks reageer. Sonde voel vreemd vir die nuwe jy en wanneer jy in sonde verval, is die plesier kortstondig en die nadraai daarvan sleg. Jou geestelike grense word oorgesteek en jou nuwe gees sê vir jou dat jy nie meer kan sondig nie. Dis nie wie jy is nie! Die ou jy kon sondig en dit geniet, maar die nuwe jy kan nie, omdat jy ‘n nuwe skepping in Christus is (sien 2 Korintiërs 5:17). Wees dus bly! God het jou vrygespreek, dus kan jy Hom enige tyd met vrymoedigheid nader (sien Efesiërs 3:12).
Sielskos: Job 15-17; Matt 24:36-51; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18