Lees die fynskrif

2020-04-03
Amos 3:3 NLV

Wanneer dit by die aanknoop van verhoudings kom, moet jy die fynskrif lees. Êrens in die fynskrif van die ontmoeting, die interaksie en die verloop van die verhouding met iemand, het hulle jou, weliswaar miskien effentjies, gewaarsku dat hulle op ‘n sekere manier gaan optree. Die rooi vlae was altyd daar, alhoewel hulle aan die begin ‘n lieflike skakering van pienk was. Jy het gesien hoe gou hy kwaad raak. Jy het gesien dat sy altyd laat is wanneer jy haar kom oplaai. Sy het altyd met die kelner – en enigiemand wat na haar kant toe gekyk het – geflankeer. Jy het dit opgelet, maar jy het nie na die klein stemmetjie binne-in jou geluister nie. Die digter Maya Angelou het gesê: ‘Wanneer iemand vir jou wys wie hulle is, glo hulle die eerste keer!’ Voor jy iets bestel, lees eers die fynskrif om seker te maak dat jy die paaiemente kan bekostig. Miskien het die fynskrif duidelik geword toe jy sien hoe hy teenoor sy familie optree – of nie optree nie! Miskien was dit die manier wat sy oë op elke vrou wat verbygeloop het, getalm het. Of in die telefoonoproepe wat sy geneem het wanneer jy buite hoorafstand was. Die kans is goed dat jy dit gesien het, maar dat jy nie aandag daaraan gegee het nie. Jy het verby die woedebuie, die besitlikheid, die jaloesie en die gebrek aan integriteit gekyk en gedink dat jy hulle kan verander. Nou weet jy beter. Daar is ‘n rede hoekom die Bybel vra: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ Ja, die God wat ‘vreugde in plaas van droefheid’ gee, kan jou maat se hart verander (sien Jesaja 61:3). As jy egter ‘n langtermynverhouding oorweeg, bid daaroor en lees die fynskrif.

Sielskos: Est 5-10; Matt 26:65-75; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27

‘n Houding wat oorkom

2020-04-02
1 Petrus 1:6 NLV

In ‘n bekende studie genaamd Cradles of Eminence, het Victor en Mildred Goerztel in 1962 die familie agtergrond van meer as 400 hoogs suksesvolle mense ondersoek. Hulle het die vroeë ervarings wat moontlik tot aansienlike prestasies later in die lewe kon bydra, probeer identifiseer. Hulle het mense soos Einstein en baie ander wat beroemd en bewonder is, by die studie ingesluit. Hulle agtergrond was baie interessant. Driekwart van hulle het moeilike kinderdae gehad en armoede, gebroke huishoudings en ouerlike mishandeling ervaar. Een kwart van hulle het fisiese gestremdhede gehad. Die meeste van die bekende skrywers of dramaturge se ouers het van een krisis na die volgende rondgespring. Die navorsers het tot die volgende gevolgtrekking gekom: Die behoefte om vir die nadeel in hul kindertyd te vergoed, was ‘n belangrike faktor in hulle strewe na persoonlike prestasies. Hierdie mense het een ding in gemeen gehad – ‘n houding wat oorkom: ‘…Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof’ (1 Johannes 5:4 NLV). Wanneer jy geloof in God en jouself het, kan jy dinge doen wat jou sal verstom. Die probleem wat vandag so oorweldigend lyk, kan die hupstoot wees wat jou môre aan grootsheid bekendstel. Die Bybel stel dit so: ‘Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof te toets. Julle geloof word getoets soos met vuur getoets word en daardeur gesuiwer word… As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer…’ (1 Petrus 1:6-7 NLV).

Sielskos: Est 1-4; Matt 26:57-64; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9

Jy word getoets

2020-04-01
1 Petrus 4:12 NLV

Die Bybel sê: ‘My liewe vriende, as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie meer kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle godsdiens daarmee heen is nie. Christene moet ook swaarkry. Dink maar aan Jesus. Hy het baie swaar gekry. Julle moet eerder bly en opgewonde wees dat julle soos Hy is, al is dit ook dat julle soos Hy kan swaarkry omdat julle Christene is. Dink net hoe bly julle gaan wees wanneer Hy weer kom en almal dan sien hoe groot en belangrik Hy regtig is’ (verse 12-13 DB). Tye waarin jy getoets word, voel dalk vreemd, maar dit is normaal en noodsaaklik! Dit is hoe jy in genade groei. God rus jou daardeur toe en berei jou voor om groot dinge in sy koninkryk te doen. God teister ons nooit, maar Hy toets ons beslis. Sy toetse meet ons, openbaar ons, versterk ons geloof, suiwer ons en laat ons geestelik groei. Om die apostel Paulus aan te haal: ‘Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons. Hy maak ons elke dag van binne af nuut. Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Ek het nie genoeg woorde om vir julle te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie… Nee, ons kyk by al ons probleme en teenslae verby… Al wat vir altyd sal bly bestaan, is God se nuwe wêreld’ (2 Korintiërs 4:16-18 DB). As jy die seëninge kon sien wat aan die ander kant van hierdie vuurproef vir jou wag, sou jy ophou om jouself jammer te kry en begin feesvier.

Sielskos: Job 40-42; Matt 26:47-56; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6

Satan is aan die werk – staan teen hom op!

2020-03-31
Matteus 13:28 NLV

Die Bybel sê: ‘Hy het ‘n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: ‘God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ ‘Dis ‘n vyand se werk!’ het hy uitgeroep…’ (verse 24-28 NLV). Ons het almal ‘n geestelike wekroep van tyd tot tyd nodig. Soms is die probleem waarmee ons stoei nie van menslike oorsprong nie. Ja, dis dwaas om alles op die Duiwel te blameer, maar dis nog dwaser om nie agter te kom wanneer hy aan die werk is nie. Paulus skryf: ‘Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes. Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:11-13 NLV). Hy gaan voort deur te sê: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (vers 16 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Herken wanneer Satan aan die werk is, staan teen hom op en hy sal vlug! (sien Jakobus 4:7).

Sielskos: Job 38-39; Matt 26:36-46; Ps 31; Spr 8:34-36

Laat God jou vertroos

2020-03-30
2 Korintiërs 1:3 NLV

Wanneer jy iemand vir wie jy lief is verloor, gaan jy deur ‘n rouproses. God sal jou vertroos en jou daardeur lei. Jesus het gesê: ‘Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee’ (Matteus 5:4 NLV). Rou is die gesonde manier om jou emosies te prosesseer, jou pyn uit te druk en daarby verby te beweeg. Herstel gebeur nie oornag nie; dit vind in proporsie met die grootte van jou verlies plaas. Zig Ziglar sê: ‘Die langste twintig uur van my lewe was die ure direk na my dogter se dood. Toe ek haar begrafnisreëlings gemaak het, moes ek na ‘n verkoopsman luister wat nie wou ophou praat nie. Twee keer moes ek die kamer verlaat; ek kon hom eenvoudig nie hanteer nie. Die vorige nag, half aan die slaap en half wakker, het ek aanhou dink dat my dogter besig was om te wonder wanneer haar pappa haar sou kom haal. Die volgende oggend het ek gaan stap en die heeltyd gebid en gehuil. Toe ek tuiskom, het die Here duidelik met my gepraat: ‘Sy is okay. Sy is by my en jy gaan ook okay wees. Ek is al wat jy nodig het. Hou aan stap. Hou aan praat. Hou aan bid. Hou aan huil.’ Hartseer en verlies kan nie opgelos word nie, maar dit is ervarings wat jy nie alleen hoef deur te gaan nie. Die bekendste Psalm in die Skrif sê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my…’ (Psalm 23:4 NLV). Die son sal weer skyn. ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Jou vreugde sal weer terugkeer – God beloof dit!

Sielskos: Job 35-37; Matt 26:26-35; Ps 6; Spr 8:32-33

Lewe volgens jou oortuigings (2)

2020-03-29
1 Korintiërs 4:4 NLV

Daniël is geforseer om te besluit of hy gaan konformeer en of hy gaan transformeer. Wat is die verskil? Druk beheer iemand wat konformeer. As jy genoeg druk op hulle sit, sal hulle ingee. As jy genoeg druk op hulle sit, sal hulle die eerste sigaret rook, sal hulle die eerste drankie drink, sal hulle doen wat almal anders doen. Beginsels beheer egter iemand wat transformeer. Jy sê: ‘Dis baie veeleisend om so te lewe.’ Ja, maar dis ook baie beskermend. God weet beter as ons hoe om pyn, frustrasie en vernietiging in ons lewens te vermy. Omdat Hy die rand van die krans duideliker as ons sien, plaas Hy relings om die rand om ons te beskerm sodat ons nie daar afval nie. Wanneer ons sy bevele gehoorsaam, vermy ons hartseer, slaggate en die verlies van ons reputasie. Dit was nie as gevolg van sy dieet nie, maar sy toewyding aan God wat Daniël verhoed het om die koning se kos te eet. Ons beveel egter nie aan dat jou gewete jou altyd moet lei nie. Jou gewete is nie altyd ‘n goeie riglyn nie. Jou gewete kan beskadig wees of selfs dood wees. Die Bybel sê: ‘…Hulle gee voor om godsdienstig te wees, maar hulle gewete is dood’ (1 Timoteus 4:2 NLV). Paulus skryf: ‘My gewete is skoon, maar daarmee is ek nog nie noodwendig skotvry nie. Die Hére se oordeel oor my is al wat saak maak.’ Nietemin moet jy eerste na jou gewete draai wanneer jy voor ‘n moeilike besluit te staan kom. Jy maak selde ‘n besluit wanneer jy weet dat daardie besluit jou gewete skuldig gaan laat voel. Lewe dus volgens jou oortuigings.

Sielskos: Matt 5:6; Jes 55:1-7; Ps 63:1-5; Joh 4:1-34