Die belangrikheid van die kruis (2)

2020-04-09
1 Korintiërs 1:23 NLV

Paulus skryf: ‘Die Jode wil indrukwekkende tekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus te bevestig en die Grieke wil ‘n vertoon van wysheid hê. Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die heidene is dit absolute dwaasheid. Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God’ (verse 22-24 NLV). Daar is nie ‘n Joodse of nie-Joodse manier om gered te word nie. Daar is net een manier om gered te word – deur die kruis! Ons almal het dieselfde behoefte. Ons moet weet wat reg is en doen wat reg is. Ons benodig die wysheid om te weet wat om te doen en die krag om dit te doen. Christus bied ons beide deur die kruis aan. In sy vroeë bediening, het Billy Graham vir ‘n groot skare in Dallas, Texas gepreek, maar daar was min reaksie op sy boodskap. Toe hy die verhoog verlaat, het ‘n ou man vir hom gesê: ‘Jou boodskap was goed, maar jy het nie die kruis gepreek nie.’ Billy het na sy kamer gegaan, gehuil en besluit: ‘Daar sal nooit weer ‘n preek wees waar ek nie die kruis die sentrale deel van my boodskap maak nie.’ Van daardie dag af het God hom gebruik om meer mense vir Christus as amper enige ander prediker in die geskiedenis te wen. Daar is net genoeg ego in elkeen van ons om deur goeie werke by ons verlossing te probeer ‘bydra.’ Ons kan egter nie. Die gesangedigter Robert Lowy het geskryf: ‘What can wash away my sin? Nothing but the blood of Jesus. What can make me whole again? Nothing but the blood of Jesus. Oh, precious is the flow that makes me white as snow. No other fount I know; nothing but the blood of Jesus.’

Sielskos: Lev 8-10; Matt 27:33-44; Ps 49; Spr 10:1-2

Die belangrikheid van die kruis (1)

2020-04-08
Galasiërs 6:14 NLV

Dis interessant dat Jesus ons nie in die Bybel vra om sy geboorte of opstanding te onthou nie – alhoewel ons dit moet onthou – maar dat Hy vir ons sê om sy sterfte te onthou. Toe Hy die laaste paasmaaltyd ingestel het, het Hy gesê: ‘…Gebruik dit ter herinnering aan My’ (Lukas 22:19 NLV). Paulus het gesê: ‘…ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus Christus nie…’ Die kruis, soos die galg en die elektriese stoel, is ‘n instrument van die dood. Hoekom dit dan verheerlik? Oor dit wat daar plaasgevind het. Toe Jesus gesê het: ‘Dit is volbring’, het Hy vir al jou sondes, van jou wieg tot jou graf, betaal. Die kruis is dus God se eerste en laaste woorde wanneer dit by verlossing kom. Dis sy eerste woorde want: ‘Die boek van die lewe is ook die boek van die Lam, die Lam wat aan die kruis gesterf het’ (Openbaring 13:8 ABA). Die kruis is ook God se laaste woord oor verlossing, want in die hemel sal hulle sing: ‘…U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie’ (Openbaring 5:9 NLV). Daar is nie ‘n ‘Plan B’ vir verlossing nie. Die enigste hoofweg wat hemel toe gaan, loop deur Golgota. Jy kan nie die kruis verbygaan of om dit loop as jy gered wil word nie. Die Bybel sê: ‘…Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie’ (Hebreërs 9:22 NLV). As jy vandag na die kruis kyk, sal jy die vloek van sonde, die koste van sonde en die kuur vir sonde sien. Soos jy na die kruis kyk, herinner jouself ook: ‘Hy het dit vir my gedoen.’

Sielskos: Eks 12:1-14; 1 Kor 11:20-34; Ps 25:16-22

Gaan na jou ‘God plek’

2020-04-07
Genesis 19:27 NLV

Abraham het ‘n spesiale plek gehad waar hy God ontmoet het. Daniël het ook so ‘n plek gehad toe sy lewe in gevaar was: ‘…Hy het daar ‘n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ‘n dag op sy knieë gegaan om vir sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen’ (Daniël 6:11 NLV). Jesus het ook ‘n spesiale plek gehad: ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Vestig ‘n ‘God plek’ in jou lewe. Wanneer probleme en druk dreig om jou te oorweldig, gaan na jou God plek toe. Wanneer jy leiding nodig het, gaan na jou God plek toe. Die gesangedigter, William Walford, het hierdie tydlose woorde geskryf: ‘Sweet hour of prayer! Sweet hour of prayer! That calls me from a world of care, and bids me at my Father’s throne make all my wants and wishes known. In seasons of distress and grief, my soul has often found relief; and oft escaped the tempter’s snare, by thy return, sweet hour of prayer!’ Jou God plek kan enige plek wees, maar dit moet net êrens wees. Nadat jy ‘n wyle daar vertoef het, sal ‘n tipe teenwoordigheid dit omring. Jy sal herinneringe van intieme tye met God daar skep. Dit sal jou heiligdom word, ‘n plek van toevlug en veiligheid. Dawid het geskryf: ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Noem dit jou God plek, jou geheime plek, jou heiligdom of wat ook al, maar vestig so ‘n plek in jou lewe.

Sielskos: Lev 5-7; Matt 27:27-32; Ps 25:8-15; Spr 9:18

‘n Woord vir enkelouers

2020-04-06
Psalm 113:9 NLV

Dink jouself in aan die angs waardeur ‘n enkelouer gaan wanneer hulle deur ‘n hofbevel gedwing word om hulle kinders, alleen, op ‘n vliegtuig te sit vir ‘n uitgebreide besoek aan die ander ouer. Ja, dis nodig en dis regverdig, maar dit kan pynlik wees. Een enkelma beskryf haar gevoelens as volg: ‘Ek staan in die lughawe en kyk hoe die kinders se vliegtuig in die wolke verdwyn. Ek voel ‘n verskriklike gevoel van verlies. Die eensaamheid skop dadelik in, ek bekommer my oor hulle veiligheid, maar ek weerstaan die versoeking om hulle elke uur te bel om te hoor hoe dit met hulle gaan. Wanneer hulle my bel om my te vertel hoeveel pret hulle het, rou ek oor die feit dat hulle ‘n lewe heeltemal apart van my eie het. My enigste troos is die wete dat hulle binnekort weer huis toe kom. Die vrees dat hulle nie na my toe sal wil huis toe kom nie, spook egter gedurig by my.’ Vir die enkelouer wat met hierdie enkelma identifiseer, is daar ‘n manier om deur die pynlike dae wat jy moet wag, te kom. In plaas daarvan om hierdie tyd alleen as ‘n periode van isolasie en ontneming te sien, sien dit as ‘n geleentheid om jou batterye te herlaai en jou gees te vernuwe. Spandeer tyd saam met vriende. Lees jou Bybel en bid. Begin weer met die stokperdjie wat jy eenkant gesit het. Vul jou dae met die dinge wat onmoontlik is om te midde van die verantwoordelikheid van kinders grootmaak te doen en besef dat dit tot voordeel van jou kinders is. Hulle sal na ‘n energieke ouer, in plaas van ene wat weke lank depressief was, huis toe kom. God sê: ‘My genade is vir jou genoeg.’ Put vandag krag uit sy genade.

Sielskos: Lev 1-4; Matt 27:11-26; Ps 25:1-7; Spr 9:17

Verwyder die ‘onmoontlike’ etiket

2020-04-05
Markus 10:27 NLV

Wanneer jy iets as ‘onmoontlik’ etiketteer, gebeur drie dinge: 1) Deur aan vrees vir mislukking toe te gee, vermoor jy jou eie geloof en motivering. 2) Jy loop die risiko om met minder as wat God vir jou wil gee, tevrede te wees. 3) Deur God uit die situasie te haal, sny jy jouself van die grootste mag in die heelal af. Toe die olieprys in die 1970’s deur die dak geskiet het, is motorvervaardigers beveel om motors te bou wat meer brandstofdoeltreffend is. Een vervaardiger het ‘n groep senior ingenieurs gevra om die gewig van die karre wat hulle ontwerp, drasties te verlaag. Hulle het aan die probleem gewerk en vir oplossings gesoek, maar op die ou einde tot die gevolgtrekking gekom dat ligter karre nie gebou kon word nie, dat dit te duur sou wees en te veel veiligheidsrisiko’s sou veroorsaak. Wat was die vervaardiger se oplossing? Hy het dieselfde probleem aan ‘n groep ingenieurs met minder ervaring gegee en hulle het maniere gevind om die maatskappy se motors met honderde kilogramme ligter te maak. Hoekom? Omdat hulle geglo het dat hulle die probleem sou kon oplos. Elke keer wat jy die ‘onmoontlike’ etiket van ‘n taak verwyder en God daarby betrek, verhoog jy jou potensiaal. George Bernard Shaw het gesê: “Sommige mense sien dinge soos dit is en vra: ‘Hoekom?’ Ek droom dinge wat nog nooit was nie en vra: ‘Hoekom nie?'” Jesus het gesê: ‘Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar nie by God nie. Alles is by God moontlik!’ In die natuurlike wêreld sal jy dit dalk nie kan bereik nie. Wanneer jy egter die gebied van die bo-natuurlike betree, waar God by jou oplossing betrek word, word die onmoontlike moontlik.

Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29

Was jou maat ontrou?

2020-04-04
Psalm 31:13 ABA

Wanneer jou maat julle huweliksbelofte verbreek, kan dit jou hart breek. Nadat die aanvanklike skok vervaag, kan jou dwingende begeerte wees om hulle terug seer te maak. Wat moet jy egter eerder doen? 1) Neem tyd om jou emosies te prosesseer. ‘n Vinnige: ‘Ek vergewe jou,’ of om dit onder die mat in te vee, sal enige hoop om ‘n sterk verhouding te herbou, saboteer. 2) As jou maat ‘n gewoonte-oortreder is wat wil lewe soos dit hom of haar behaag, gee God se Woord jou die reg om jouself vry te maak van hulle. Moet egter nie te vinnig beweeg nie. Vra jouself af of werks- en familiedruk moontlik die oorsaak was dat julle mekaar begin afskeep het. Het jy onbewustelik ‘n deur vir die Vyand oopgemaak? Hierdie is harde vrae – maar hulle moet beantwoord word, omdat die besluit wat jy maak een is waarmee jy die res van jou lewe sal moet saamleef. Jy mag dit dalk nie nou glo nie, maar God kan ‘n goeie huwelik uit ‘n slegte gemors maak. Ja, dit sal tyd neem – vertroue kan slegs stadig herbou word. Dit beteken dat julle: a) Leer om sensitief teenoor mekaar te wees. b) Besef dat jou maat dalk gedetailleerde aanspreeklikheid nodig het en dat jy dalk die ekstra myl sal moet loop om die vertroue wat verlore is, te herbou. Dit kan egter gebeur. ‘Wanneer mense roep om hulp, hoor die Here. Uit al hulle moeilikhede red Hy hulle. Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is’ (Psalm 34:17-18 NLV). God kan jou situasie omdraai. As jy saam met Hom sal werk – sal Hy saam met jou werk.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 27:1-10; Ps 32; Spr 9:10-16