Verwyder die ‘onmoontlike’ etiket

2020-04-05
Markus 10:27 NLV

Wanneer jy iets as ‘onmoontlik’ etiketteer, gebeur drie dinge: 1) Deur aan vrees vir mislukking toe te gee, vermoor jy jou eie geloof en motivering. 2) Jy loop die risiko om met minder as wat God vir jou wil gee, tevrede te wees. 3) Deur God uit die situasie te haal, sny jy jouself van die grootste mag in die heelal af. Toe die olieprys in die 1970’s deur die dak geskiet het, is motorvervaardigers beveel om motors te bou wat meer brandstofdoeltreffend is. Een vervaardiger het ‘n groep senior ingenieurs gevra om die gewig van die karre wat hulle ontwerp, drasties te verlaag. Hulle het aan die probleem gewerk en vir oplossings gesoek, maar op die ou einde tot die gevolgtrekking gekom dat ligter karre nie gebou kon word nie, dat dit te duur sou wees en te veel veiligheidsrisiko’s sou veroorsaak. Wat was die vervaardiger se oplossing? Hy het dieselfde probleem aan ‘n groep ingenieurs met minder ervaring gegee en hulle het maniere gevind om die maatskappy se motors met honderde kilogramme ligter te maak. Hoekom? Omdat hulle geglo het dat hulle die probleem sou kon oplos. Elke keer wat jy die ‘onmoontlike’ etiket van ‘n taak verwyder en God daarby betrek, verhoog jy jou potensiaal. George Bernard Shaw het gesê: “Sommige mense sien dinge soos dit is en vra: ‘Hoekom?’ Ek droom dinge wat nog nooit was nie en vra: ‘Hoekom nie?'” Jesus het gesê: ‘Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar nie by God nie. Alles is by God moontlik!’ In die natuurlike wêreld sal jy dit dalk nie kan bereik nie. Wanneer jy egter die gebied van die bo-natuurlike betree, waar God by jou oplossing betrek word, word die onmoontlike moontlik.

Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29