2020-04-15
Spreuke 21:5 NLV
Sonder ‘n plan vir jou lewe, ‘gebeur’ die lewe net met jou. Sommige van ons beplan ons lewens een dag op ‘n slag. Ons word wakker, maak ons lysie van take en spring aan die werk. Sommige van ons beplan selfs ons lewens een week op ‘n slag. Ons bestudeer die kalender vir die week, hersien ons afsprake, dink aan ons doelwitte en neem dan aksie. Een leierskapskundige skryf: ‘Aan die begin van die maand, spandeer ek ‘n halwe dag om net aan my kalender vir die volgende veertig dae te werk. Veertig dae werk vir my beter as net dertig dae. Sodoende kan ek reeds ‘n voorsprong op die volgende maand kry en nie verras word nie. Ek begin deur na my reisskedule te kyk en beplan aktiwiteite saam met my familie. Dan kyk ek na watter projekte, lesse en ander doelwitte ek gedurende daardie vyf tot ses weke wil bereik. Ek begin dae en tye uitblok om te dink, te skryf, te werk, afsprake te maak ensovoorts. Ek sit tye eenkant vir pret, soos om ‘n toneelstuk te gaan kyk, ‘n rugbywedstryd te kyk of gholf te speel. Ek sit ook klein blokke tyd eenkant om vir die onverwagte te kompenseer. Teen die tyd wat ek klaar is, kan ek jou amper presies sê wat ek uur vir uur in die komende weke mee besig sal wees. Dis een van die redes hoekom ek dit regkry om so baie dinge te vermag.’ Die gedagte daaraan om vir veertig dae op ‘n slag te beplan mag jou dalk oorweldig, begin dus deur jou dag te beplan. Probeer dan om ‘n week, ‘n maand, ‘n jaar ensovoorts te beplan. As jy God daaroor raadpleeg, sal ‘…Hy… die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:6 NLV).
Sielskos: Lev 15-17; Mark 1:9-20; Ps 56; Spr 10:8-9
2020-04-14
Sagaria 3:1 NLV
Soms is Satan se aanvalle voor die handliggend. In die Ou Testament, skryf die profeet Sagaria: ‘Die engel het Jesua die hoëpriester vir my gewys. Hy het voor die engel van die Here gestaan. Die Satan het regs van die engel gestaan, besig om Jesua van baie dinge aan te kla.’ Satan verkies gewoonlik om incognito te werk, dus sal hy jou deur middel van mense aanval – dikwels die mense naaste aan jou. Die Bybel sê vir ons: ‘Gedurende die aandete het die duiwel alreeds ‘n saadjie in die hart van Judas… geplant om Jesus uit te lewer’ (Johannes 13:2 NLV). Wat is dus jou beste lyn van verdediging? Die lewende Woord van God. Jesus het voor meer versoekings as wat enigeen van ons kan verduur, te staan gekom en drie keer die Satan afgeweer deur die Skrif vir hom aan te haal. Wanneer Satan jou gedagtes met versoeking, veroordeling, vertwyfeling en minderwaardige gevoelens aanval, is God se Woord ‘n skild wat hy nie kan deurdring nie. Let op wat gebeur het nadat Jesus die geveg met die Vyand gewen het: ‘Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg’ (Matteus 4:11 NLV). Jy is nie alleen nie. God het ‘n skare engele rondom jou geplaas om jou te versterk en jou te beskerm. ‘Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat gered gaan word’ (Hebreërs 1:14 NLV). Gedurende seisoene van teëspoed, moet jy onthou dat jy ‘n oorwinnaar en nie ‘n slagoffer is nie. Straal geloof uit. Verwag dat jou geloof bonatuurlik geëer sal word deur die God wat belowe het om in te tree wanneer jy Hom die nodigste het (sien Jesaja 59:19).
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Mark 1:1-8; Ps 50:16-23; Spr 10:4-7
2020-04-13
1 Tessalonisense 2:18 NLV
Paulus skryf: ‘Ons wóú dus na julle toe kom – ek, Paulus, meer as een keer – maar die Satan het ons gekeer.’ Let die woorde ‘meer as een keer’ op. Wanneer jy ‘n opdrag van God ontvang, sal Satan jou herhaaldelik aanval om jou te probeer keer om jou opdrag te vervul. Let drie dinge op: 1) Sy aanval wys dat hy glo dat jy in staat is om jou doelwit te bereik. Dis hoekom hy jou daar wil hou wanneer jy terneergedruk voel. Hy weet dat wanneer jy weer opstaan, jy sterker en effektiewer as ooit tevore sal wees. 2) Hy val altyd die geboorte van iets beduidends in jou lewe aan. Dit mag dalk die geboorte van jou bediening wees, soos die versoeking van Jesus in die woestyn. Dit mag dalk die geboorte van jou lotsbestemming wees, soos die geboorte van Moses, wat veroorsaak het dat al die eersgebore seuntjies in Egipte vermoor is in ‘n poging om die eksodus te keer. 3) Hy sal die mense naaste aan jou as ‘n poort tot jou hart gebruik. Jesus het gesê: ‘Selfs ‘n mens se eie familie sal jou vyande wees’ (Matteus 10:36 NLV). Wat moet jy dus doen? Bid vir hulle. Jou intrede is dikwels die enigste bedekking wat hulle het, bid dus daagliks die genade van God oor hulle harte uit. Moet ook nooit vergeet dat jou houding belangriker as die teenstand wat jy ervaar, is nie. Aanvalle gaan verby, maar as jou houding bitter of ontmoedig is, kan dit in bitterheid wortelskiet wat elke dag van jou toekoms kan vergiftig (sien Hebreërs 12:15). Jou invloed op God se koninkryk, bepaal die hewigheid van die aanval wat die Vyand teen jou loods. Moet dus nie moedeloos word nie – hou aan!
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Matt 28:11-20; Ps 50:1-15; Spr 10:3
2020-04-12
Galasiërs 2:19 NLV
Die kruis moet ‘n noodsaaklike deel van jou alledaagse lewe word. Hoekom? Omdat jy drie meedoënlose vyande het wat jy elke dag moet oorwin: sonde, Satan, die self. Hoe oorwin jy hulle? Deur die gekruisigde lewe te leef. Paulus skryf: ‘…Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my…’ Jy sê: ‘Dis te moeilik om ‘n Christelike lewe te lei!’ Nee, dis nie moeilik nie… dis onmoontlik. Die enigste manier om dit te doen, is om die krag en persoon van Christus toe te laat om deur jou te lewe. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Maar ek – ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus nie. Want daardeur is die wêreld vir my gekruisig, en ek vir die wêreld’ (Galasiërs 6:14 NLV). Na jare in ‘n Russiese arbeidskamp, het Aleksandr Solzhenitsyn so depressief geword dat hy wou sterf. Hy het sy graaf neergesit en op ‘n bankie gaan sit, met die wete dat daar enige oomblik ‘n wag verby kon kom en daardie graaf kon gebruik om hom mee dood te slaan. Dit was op daardie oomblik wat ‘n mede-gevangene ‘n stok opgetel het en in die sand voor Solzhenitsyn se voete die teken van die kruis gemaak het. Soos hy daarna gestaar het, het sy hele perspektief verander. Hy het besef dat die kruis die grootste mag in die heelal verteenwoordig, stadig opgestaan, sy graaf opgetel en weer onder die teken van die kruis begin werk. Jy moet dit ook doen. Herinner jouself daagliks: ‘Jesus het vir my gesterf. Ek het saam met Hom gesterf. Wanneer ek aan myself sterf, lewe Hy in my. Wanneer Hy in my lewe, kan ek vir Hom lewe.’ Dis die geheim tot ‘n seëvierende Christelike lewe.
Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-10; Job 19:25-26; Joh 11:25-26; 1 Pet 1:3; Jes 25:8
2020-04-11
Jeremia 8:9 NLV
Jy sal nooit die boodskap van die kruis verstaan, of die voordele van die verlossing wat van die kruis af kom ontvang nie, tensy jy eers by die kruis kniel en Jesus Christus as jou persoonlike redder aanvaar. Daar is ‘n verhaal van ‘n groot prediker wat deur Italië getoer het. ‘n Vriend het vir hom gesê om na ‘n sekere dorpie te gaan om ‘n skildery van die kruisiging van Christus te gaan besigtig. ‘Hoe lyk dit?’ het hy gevra. Sy vriend het geantwoord: ‘Maak nie saak hoe dit lyk nie. Ek wil hê jy moet dit sien. Belowe my dat jy sal gaan?’ Hy het belowe. Hy het na die dorpie gegaan en die kerkie waarin die skildery was, besoek. Die ou opsiger het gesê: ‘Jy het gekom om die skildery te sien, nè?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, ek het inderdaad.’ Die opsigter het gesê: ‘Volg my.’ Die groot prediker was nie voorbereid op dit wat hy op die punt was om te sien nie. In plaas van ‘n beeldskone meesterstuk, het die skildery uit proporsie gelyk en nie sin gemaak nie. ‘Ek verstaan nie hierdie skildery nie,’ het hy gesê. Die opsigter het geantwoord: ‘Kom nader.’ Hy het. Die opsigter het gesê: ‘Kyk laer.’ Hy het. Uiteindelik, toe hy aan die voet van die kruis kniel, het hy opgekyk en die krag en skoonheid van die skildery gesien en begin huil. Dis eers wanneer jy jou trots, jou vooropgestelde idees en jou intellektuele benadering eenkant sit, wat die boodskap van die kruis jou transformeer. ‘Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan. Maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God’ (1 Korintiërs 1:18 NLV).
Sielskos: Num 21:4-9; Matt 27:57-66; Ps 69:7-21; Deut 21:22-23
2020-04-10
1 Korintiërs 1:18 NLV
God wat aan die kruis vir ons sondes sterf, kan dalk ‘belaglik’ vir sekere mense klink. Hulle filosofie is: ‘As ek dit nie kan verstaan nie, sal ek dit nie aanvaar nie.’ Dis waar hulle verkeerd is. Verlossing kom slegs deur geloof. ‘…As julle nie wegdraai van julle sondige lewe en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie’ (Matteus 18:3 NLV). Eenvoudige, kinderlike geloof in die voltooide werk van Christus aan die kruis, is al wat benodig word. Daar is ‘n verhaal van ‘n universiteitstudent wie se professor hom nul vir ‘n toets gegee het. Ontsteld het hy gesê: ‘Ek verdien nie hierdie punt nie.’ Die professor het geglimlag en gespot: ‘Ek stem saam, maar nul is die laagste punt wat ek kan gee.’ Dis hoe God oor ons wysheid voel. ‘Want die wysheid van hierdie wêreld is by God dwaasheid…’ (1 Korintiërs 3:19 NLV). Een dag het ‘n man tydens ‘n vloed op sy dak gestaan en gebid: ‘God, red my asseblief.’ Kort daarna het ‘n roeiboot verbygekom en aangebied om hom na veiligheid te neem. Hy het egter gesê: ‘Nee dankie, God sal vir my sorg.’ Skielik het ‘n helikopter te voorskyn gekom en ‘n touleer laat sak om hom te red. ‘O nee, God sal vir my sorg.’ Kort daarna het die man verdrink. Toe hy voor God staan, het die man gevra: ‘Hoekom het U my nie gered nie?’ God het geantwoord: ‘Ek het vir jou ‘n roeiboot en ‘n helikopter gestuur. Wat meer wou jy hê?’ Aan die kruis het God alles gedoen wat nodig is om jou te red. Al wat jy moet doen is om op Christus te vertrou en die geskenk van ewige lewe te ontvang.
Sielskos: Gen 22:1-18; Matt 27:45-56; Ps 22; Jes 53