Lees die fynskrif

2020-04-03
Amos 3:3 NLV

Wanneer dit by die aanknoop van verhoudings kom, moet jy die fynskrif lees. Êrens in die fynskrif van die ontmoeting, die interaksie en die verloop van die verhouding met iemand, het hulle jou, weliswaar miskien effentjies, gewaarsku dat hulle op ‘n sekere manier gaan optree. Die rooi vlae was altyd daar, alhoewel hulle aan die begin ‘n lieflike skakering van pienk was. Jy het gesien hoe gou hy kwaad raak. Jy het gesien dat sy altyd laat is wanneer jy haar kom oplaai. Sy het altyd met die kelner – en enigiemand wat na haar kant toe gekyk het – geflankeer. Jy het dit opgelet, maar jy het nie na die klein stemmetjie binne-in jou geluister nie. Die digter Maya Angelou het gesê: ‘Wanneer iemand vir jou wys wie hulle is, glo hulle die eerste keer!’ Voor jy iets bestel, lees eers die fynskrif om seker te maak dat jy die paaiemente kan bekostig. Miskien het die fynskrif duidelik geword toe jy sien hoe hy teenoor sy familie optree – of nie optree nie! Miskien was dit die manier wat sy oë op elke vrou wat verbygeloop het, getalm het. Of in die telefoonoproepe wat sy geneem het wanneer jy buite hoorafstand was. Die kans is goed dat jy dit gesien het, maar dat jy nie aandag daaraan gegee het nie. Jy het verby die woedebuie, die besitlikheid, die jaloesie en die gebrek aan integriteit gekyk en gedink dat jy hulle kan verander. Nou weet jy beter. Daar is ‘n rede hoekom die Bybel vra: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ Ja, die God wat ‘vreugde in plaas van droefheid’ gee, kan jou maat se hart verander (sien Jesaja 61:3). As jy egter ‘n langtermynverhouding oorweeg, bid daaroor en lees die fynskrif.

Sielskos: Est 5-10; Matt 26:65-75; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27