Weet wanneer om niks te sê nie
2020-03-18Jesaja 50:4 AFR53
Jesaja skryf: ‘Die Here het my ‘n geoefende tong gegee, dat ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.’ Kom ons wees eerlik: as jy vir ‘n persoon alles wat jy dink sou vertel, sou jy hulle seermaak of hulle sou jou verlaat. Daar is omstandighede van jou wat privaat is. Volwassenheid beteken dat jy nie alles hoef te sê wat jy dink nie. Baie van wat jy dink is inderwaarheid nie deeglik deurdink nie! Dis hoekom jy moet bid en God vir ‘n ‘geoefende tong’ moet vra. Lees die volgende Skrifgedeeltes aandagtig deur: ‘Iemand wat op sy woorde let, bevorder die lewe. ‘n Bitsige antwoord kan alles ruïneer’ (Spreuke 13:3 NLV). ‘Wie ‘n wag voor sy mond het, bly uit die moeilikheid’ (Spreuke 21:23 NLV). ‘As jy dink jy is godsdienstig, maar jy hou nie jou tong in toom nie, bedrieg jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie’ (Jakobus 1:26 NLV). Daar is twee spesifieke geleenthede waar jou tong jou in die moeilikheid kan bring: 1) Wanneer jy kwaad is. Emosionele uitbarstings lei dikwels tot kwetsende aanmerkings wat jy nie bedoel nie en later oor spyt is. 2) Wanneer jy moeg is. Uitputting laat die wag voor jou mond verdwyn en laat onbesonne opmerkings uitglip. Wag altyd tot jou oordeel helder is en deurdink dinge voordat jy praat. Paulus het gesê: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee’ (Kolossense 4:6 NLV). Dís hoe jou woorde moet wees.
Sielskos: Job 1-4; Matt 23:23-39; Ps 19; Spr 8:6-7