Weet jou vrou dat jy lief is vir haar? (2)

2020-03-09
Deuteronomium 24:5 NLV

Die Bybel sê: ‘Getroude mans, julle moet julle vrouens liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’ (Efesiërs 5:25 NLV). Aangesien die dissipels die oorspronklike stigters van die kerk was, kom ons kyk hoe Jesus hulle behandel het. Hy het tyd saam met hulle spandeer; na hulle geluister en met hulle gesels. Die Ou Testamentiese wet het bepaal: “‘n Pasgetroude man mag nie in die weermag opgeneem of enige ander spesiale verantwoordelikhede gegee word nie. Hy moet vry wees om vir ‘n jaar lank by die huis te wees om die vrou met wie hy getroud is gelukkig te maak” (Deuteronomium 24:5 NLV). Dink net, ‘n hele jaar om niks anders te doen as om mekaar lief te hê en mekaar te leer ken nie! Hoekom het God dit so beplan? Omdat geen geveg wat jy ooit sal aanpak, of geen besigheid waarby jy ooit betrokke sal wees, belangriker as die blywende verhouding wat jy met jou eggenoot bou, sal wees nie. Een van die grootste redes hoekom paartjies deesdae in die skeihof beland, is omdat hulle nie tyd eenkant sit om aan die einde van die werksdag, sonder die televisie en die telefoon, hulle gedagtes en gevoelens met mekaar te deel nie. Baie kere sal jou vrou probleme met jou deel, maar nie omdat sy wil hê dat jy dit moet oplos nie. Sy wil eerder empatie, begrip en ondersteuning hê. Wanneer jy aandagtig na haar sorge luister, voel sy geliefd en gewaardeerd en nege uit die tien kere, verdwyn die probleem soos mis voor die son. Dis groot rente – op ‘n baie klein belegging!

Sielskos: Gen 35-36; Matt 21:18-32; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5