Lesse van God se skepsels (2)
2020-03-031 Petrus 1:8 NLV
Sam Mason gaan in sy boek, Talking Dogs, voort: ‘Gedurende die laaste paar jaar van sy lewe het Tigger, een van ons geliefde Italiaanse windhonde, sy sig geleidelik begin verloor. Hy het katarakte ontwikkel. Dit het sy sig van hom gesteel, maar dit kon nie sy kosbare verhouding met sy eienaars steel nie. My vrou, Carol, het gereeld na Tigger as haar ‘liefie-diefie seun’ verwys. Hy sou op ons skote staan (nie sit nie!), sy pote aan weerskante van ons nekke sit en dan sy kop liefderik onder ons kenne indruk. Dit was te oulik. Blind soos hy was, was Tigger se begeerte na die geliefdes wat hy nie meer kon sien nie, ongeaffekteerd. Ten spyte van die katarakte wat ons gesigte laat vervaag het, het hy steeds daarin geslaag om ons in die gesig te kyk. Sy verminderde vermoëns mag dalk sy bewegings bemoeilik het, maar sy liefde en vertroue teenoor sy eienaars het rotsvas gebly. Almal van ons wat ons vertroue in die Here plaas het gebreke – selfs geestelike gebreke. Gebruik ons hulle as verskoning om God nie so intens na te volg as wat ons moet nie? Laat ons toe dat hierdie gebreke ons liefde vir Hom rantsoeneer? Of vind ons, met God se hulp, die krag om verby ons beperkinge te reik, om die ongebonde vreugde van sy teenwoordigheid te ervaar en die roeping wat Hy op ons lewens geplaas het te vervul? Ja, ons kan elke nou en dan in die donkerte rondtas en selfs struikel en val. Ons kan egter die Een wat ons seisoene van blindheid verstaan, vertrou. Ons kan ons harte vir sy liefde oopmaak en Hom terug liefhê – siende of nie!’
Sielskos: Gen 24:1-25:18; Matt 20:1-16; Ps 70; Spr 6:26-28