Dis joune – as jy daarvoor baklei
2020-03-04Josua 1:11 NLV
God het vir Josua gesê: ‘…oor drie dae gaan julle deur die Jordaan trek om die land wat die Here julle God vir julle gee, in ontvangs te neem.’ Wat God betref, het die Beloofde Land reeds aan sy mense behoort. Toe Hy egter vir hulle gesê het om die land ‘in ontvangs’ te neem, het dit beteken dat hulle daarvoor sou moes veg. Daar het een-en-dertig konings gebly – heersers met hulle eie leërmagte. Daar was sewe groot stede en reuse om te oorwin. Hier is dus die vraag: 1) Glo jy dat God vir jou die gawes, hulpbronne en krag gegee het om jou lewensdoel te vervul? 2) Is jy gewillig om daarvoor te baklei? Jy sal dit nie met jou eie krag wen nie, maar die goeie nuus is dat jy nie hoef nie. God het gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen’ (vers 9 NLV). God sal vir jou die vermoë gee om dit waarvoor Hy jou geroep het te doen, maar jy moet werk om daardie vermoë te ontwikkel. Soms sal Hy jou gebed onmiddellik beantwoord en vir jou gee waarvoor jy vra. Ander kere rus die onus op jou om dit wat Hy beloof het na te jaag – en dit vereis passie, geduld en volharding. Het jy al daaraan gedink dat jy dalk op God wag om vir jou iets te bring, terwyl Hy vir jou wag om dit te gaan haal? Hy reageer nie op ons wense of selfs ons pleidooie nie; Hy reageer op geloof-in-aksie! Die woord vir jou vandag is dus: dis joune – as jy daarvoor baklei!
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Matt 20:17-28; Ps 77; Spr 6:29