Hoe om moeilike mense te hanteer (5)

2020-08-09
Matteus 5:39 NLV

Jesus het gesê: ‘…As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang.’ In Jesus se tyd was die samelewing rondom skande en eer gebou. Die linkerhand is as onrein gesien; dit moes nie gebruik word om te eet – of te slaan – nie. Dus sal ‘n klap op die regterwang deur die agterkant van die hand gedoen word. Dit was ‘n manier om iemand in die openbaar te beledig. Net iemand wat sosiaal benede jou is, soos ‘n slaaf of ‘n kind, is met die rugkant van jou hand geklap. Wanneer iemand jou dus beledig, wat moet jy doen? Almal verwag een van twee reaksies: weerwraak of ineenkrimping. Jesus sê dat jou veiligheid en jou eer in die hande van jou hemelse Vader is. Nou raak ons kreatief. Een moontlikheid is om die ander wang te draai. Jou vyand kan jou nie met die rugkant van sy hand op jou linkerwang slaan nie. Óf hy moet jou as sy gelyke beveg, wat hy nie wil doen nie, óf hy moet ‘n vreedsame manier kry om die konflik op te los. Deur wie word jy dus beledig? ‘Klappe’ neem dikwels die vorm van snedige of agterbakse opmerkings aan. Iemand verkleineer jou idee by die werk. Iemand beskuldig jou vals by die huis. ‘n Familielid sê iets veroordelend oor jou. Wat is jou eerste instink – weerwraak, vrees, of beide? Met die Heilige Gees wat jou help, is daar ‘n nuwe moontlikheid. Moenie weghardloop en wegkruip nie. Moenie terugslaan nie. Konfronteer die ander persoon met eerlikheid en krag. Wees kreatief, geduldig en aktief. Werk liefdevol na ‘n versoening toe. Wanneer iemand jou ontstel – kies Jesus se opsie.

Sielskos: Rut 2:5-12; Rut 3:1-6; Rut 4:9-17

Hoe om moeilike mense te hanteer (4)

2020-08-08
Romeine 12:19 NLV

Jesus het gesê: ‘Julle het gehoor dat daar gesê is: “‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.” Maar Ek sê… As mense jou op jou regterwang klap, draai vir julle ook jou ander wang’ (Matteus 5:38-39 NLV). Alhoewel die ‘oog vir ‘n oog’ konsep vir ons wreed klink, was dit in werklikheid ‘n reuse tree vorentoe in die antieke wet, waar magtige mense jou vir ‘n klein besering kon doodmaak. Hierdie wet het weerwraak beperk deur mense proporsionele geregtigheid te leer. Dit laat ons egter steeds met ‘n probleem. Instink sê dat wanneer iemand jou seermaak, maak jy hulle terug seer – en die pyn wat jy ervaar is altyd erger as die pyn wat jy vir die ander persoon veroorsaak. Tydens ‘n eksperiment is mense in pare opgedeel en elke persoon het druk teen hulle vinger ontvang. Toe is hulle gevra om dieselfde hoeveelheid druk op die ander persoon se vinger uit te oefen. Wanneer dit hulle beurt was, het hulle altyd meer pyn veroorsaak as wat hulle ontvang het. Altyd. Die resultaat is ‘n oog ‘plus-‘n-klein-bietjie ekstra’ vir ‘n oog. Jy sê: ‘Maar hierdie persoon het my seergemaak en moet daarvoor betaal.’ Hoeveel moet hulle betaal? Net God is in staat om daardie vraag regverdig te beantwoord! Sy Woord sê: ‘Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.’ Doen eerder wat die Skrif sê: ‘As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.’ Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom’ (Romeine 12:19-21 NLV).

Sielskos: Deut 22-24; Luk 12:13-21; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15

Hoe om moeilike mense te hanteer (3)

2020-08-07
1 Petrus 2:23 DB

Niemand het die kuns om moeilike mense te hanteer beter as Jesus bemeester nie. Die Romeine wou Hom stilmaak, Herodes wou Hom doodmaak, Pilates het sy hande van Hom gewas, geloofsleiers was jaloers op Hom, sy familie het gedink dat Hy mal was, die dorpenaars wou Hom stenig, Tomas het Hom betwyfel, Petrus het Hom verloën, Judas het Hom verraai, soldate het Hom aangerand en sy naaste volgelinge het van Hom af weggehardloop. Tog het Jesus nooit vir God gevra om die moeilike mense uit sy lewe weg te neem nie. As Hy het, sou daar niemand oorgebly het nie. Soms vra ons God om ‘n moeilike mens uit ons lewens te verwyder, omdat ons nie bereid is om daardie persoon eerlik te konfronteer nie. As God daardie gebed dan sou beantwoord, sal ons die geleentheid om te groei verloor, wat sy diepste begeerte vir ons is. Jesus se lesse oor hoe om moeilike mense te hanteer, het uit diepe, intieme, pynlike ervarings en wysheid voortgevloei. Sy woorde het wêreldleiers en bewegings soos geen ander woorde wat al ooit gespreek is nie, beïnvloed – van Mahatma Gandhi tot Martin Luther King jr tot Nelson Mandela. Petrus skryf: ‘…As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees. As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef… Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur’ (verse 21-23 DB). Jy is geroepe om sy voorbeeld te volg.

Sielskos: Deut 18-21; Luk 12:1-12; Ps 119:17-24; Spr 17:7-10

Hoe om moeilike mense te hanteer (2)

2020-08-06
Efesiërs 4:26-27 NLV

God het ons so ontwerp dat ons in tye van intense moelikheid ‘n ingeboude oomblik het om na Hom vir hulp te draai. Die primêre plek in jou brein waar sterk negatiewe emosies, soos woede en vrees, geprosesseer word, word die amigdala genoem. Wanneer dit by sekere diere verwyder word, is hulle nie meer in staat om woede of vrees te voel nie Normaalweg wanneer jou brein ‘n inset ontvang, gaan dit na die korteks vir prosessering. In ongeveer 5 persent van gevalle, wanneer iets uiters emosioneel plaasvind, gaan dit egter na jou amigdala toe en word die denkende deel van jou brein omseil. Tussen jou brein se inname en jou liggaam se reaksietyd, is daar wat navorsers die ‘lewensgewende kwartsekonde’ noem. Daardie kwartsekonde – alhoewel dit nie baie lank klink nie, is groot. Paulus skryf: ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie… die duiwel so ‘n houvas gee nie.’ Die kwartsekonde is die tyd waarin die Heilige Gees beheer kan neem. Dis dan wanneer jy kan kies om die Heilige Gees ‘n houvas te gee, of aan sonde toe te gee. Daardie kwartsekonde in jou gedagtes kan die geleentheid wees om te sê: ‘Heilige Gees, ek het hierdie impuls op die oomblik; moet ek daarop reageer?’ Dis ongelooflik hoe sterk die begeerte kan wees om iemand vir jy lief is, seer te maak wat dan tot sulke erge pyn kan lei wanneer jy daaraan toegee. Die goeie nuus is dat wanneer jy aan daardie slegte begeerte toegee – en jy sal met tye – God weer ‘n kwartsekonde sal stuur. Hy is toegewyd aan jou en sal aanhou om met jou te werk totdat jy dit regkry!

Sielskos: Deut 14-17; Luk 11:45-54; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6

Hoe om moeilike mense te hanteer (1)

2020-08-05
1 Tessalonisense 5:15 NLV

Jesus het na die Heilige Gees as ‘die helper’ verwys. Soos jy jouself aan Hom onderwerp, sal Hy jou help om die moeilike mense in jou lewe op die regte manier te hanteer. Paulus skryf: ‘Ja, moenie die Heilige Gees hartseer maak nie. In die regte verhouding met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe’ (Efesiërs 4:30 NLV). Moenie die Heilige Gees aanstoot gee, of beperk, of blokkeer om in jou lewe te werk nie. Jy vra: ‘Hoe doen ek dit?’ Paulus antwoord: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek’ (vers 31 NLV). Dis ‘n lys aaklige dinge! Paulus se punt is: Óf jy laat toe dat jou reaksies deur daardie aaklige lys beheer word, óf jy laat die inwonende Heilige Gees toe om jou reaksies te beheer. Die keuse is joune. Die Bybel sê: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (verse 26-27 NLV). Wanneer jy in woede terugslaan, gee jy die duiwel ‘n houvas in jou lewe – ‘n vesting van waar hy jou in ander areas kan aanval. Wanneer dit gebeur, moet jy nie net die hartseer wat die moeilike persoon in jou lewe veroorsaak het hanteer nie, maar ook die bykomende hartseer omdat jy die duiwel ‘n houvas in jou lewe gegee het. Wat moet jy dus doen? Die Bybel sê: ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (vers 32 NLV). Met ander woorde, onthou die liefde, geduld en genade wat God aan jou bewys het; en reik daarmee na ander mense toe uit. Dis ‘n strategie wat nooit faal nie!

Sielskos: Deut 11-13; Luk 11:29-44; Ps 119:1-8; Spr 17:3

God wil hê dat jy geduldiger moet word

2020-08-04
Romeine 5:3 NLV

Hoe ouer ons word, hoe geduldiger word ons, selfs al het ons minder tyd wat vir ons voorlê. Hoekom gebeur dit? Perspektief! Ons probleme het nie verander nie, maar ons perspektief het wel. Ons het al lank genoeg gelewe dat ons kan sê: ‘Dit sal ook verbygaan,’ of ‘Sy genade is genoeg.’ In plaas daarvan om te kla, wat net die probleem vererger en ons vreugde steel, kyk ons soos Josef op die ervarings terug wat ons gedink het ons nooit sou deurmaak nie en sê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Geduld is een van die nege vrugte van die gees wat in Galasiërs hoofstuk vyf genoem word. Dis egter ‘n vrug wat baie stadig groei en in die grond van moeilikheid en toetse floreer. Sommige van ons is soos die dame wat gebid het: ‘Here, gee my asseblief geduld. Nou dadelik!’ Jammer, maar dis nie ‘n gebed wat God kan beantwoord nie. Jakobus skryf: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie’ (Jakobus 1:2-4 NLV). Wanneer jy daaroor dink, is geduld eenvoudig om God met dinge soos ‘hoe’ en ‘hoekom’ en ‘wanneer’ te vertrou. Wanneer jy terugkyk na sommige van die dinge wat jy so graag wou gehad het, besef jy dat God die leisels vasgehou het en jou daarvan weerhou het om in ‘n groot gemors te beland. Ongeduld is een van die dominante karaktereienskappe van kinders; dis geestelike onvolwassenheid. Wees dus geduldig!

Sielskos: Deut 8-10; Luk 11:14-28; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2