Wat om op jou lewensreis te verwag (3)
2020-10-03Galasiërs 5:7 NLV
Jy moet verantwoordelikheid vir jou eie lewe neem, eerder as om ander daarvoor te blameer.
Toe God in die tuin van Eden vir Adam gevra het hoekom hy van die boom geëet het, het hy sy vrou blameer: ‘…maar dit was die vrou wat U my gegee het… wat die vrugte vir my aangebied het, en toe het ek daarvan geëet’ (Genesis 3:12 NLV). Ons lees verder: ‘Daarop vra die Here God vir die vrou: ‘Hoe kon jy so ‘n ding doen?’ ‘Die slang het my bedrieg,’ antwoord sy…’ (vers 13 NLV). Eva het die duiwel blameer.
Het God hulle verskonings aanvaar? Nee. Hy het vir Adam gesê: ‘…Jy het jou deur jou vrou laat ompraat en van die vrugte geëet wat Ek jou verbied het om te doen. Daarom vervloek Ek die grond. Jou hele lewe lank sal jy met droefheid sukkel om ‘n bestaan daaruit te maak. Dit sal vir jou dorings en dissels oplewer…’ (verse 17-18 NLV). Toe het God vir Eva gesê: ‘…Ek sal jou droefheid vermeerder: met pyn en lyding sal jy kinders in die wêreld bring. Jou begeerte sal na jou man wees, maar hy sal oor jou heers’ (vers 16 NLV). Toe hierdie woorde gespreek is, is Adam en Eva uit die Paradys verban.
‘Hoekom het God kwaad geword vir Adam en Eva, as Hy alwetend is?’ vra jy. Omdat nie een van die twee verantwoordelikheid vir hulle aksies wou neem nie! Wanneer jy sondig, sal God jou vergewe (sien Nehemia 9:17). Wat Hy egter nie sal aanvaar nie, is verduistering, rasionalisering, regverdiging, verskonings en blaam. Sy Woord sê: ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie. Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang’ (Spreuke 28:13 NLV).
As jy dus vorentoe wil beweeg, moet jy verantwoordelikheid vir jou lewe neem!
Sielskos: 1 Sam 14-15; Luk 24:36-44; Ps 51; Spr 22:12-16