2020-08-15
Efesiërs 6:7 NLV
‘n Verslaggewer het een maal vir die beroemde Amerikaanse sanger, Marian Anderson, oor die grootste oomblik in haar lewe uitgevra. Sy kon die private optrede wat sy vir die Roosevelts in die Withuis gedoen het, genoem het, maar die verslaggewer egter geskok deur te sê: ‘Die grootste oomblik in my lewe was die dag toe ek vir my ma kon sê dat dit nie meer vir haar nodig was om ander mense se wasgoed vir geld te was nie.’ Ons is almal inherent selfsugtig en dink eerste aan ons eie selfbelang. Dis hoekom ons God moet toelaat om ons te ‘…omvorm deur julle denkpatrone te vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). Sielkundiges praat van natuurlike gedrag en aangeleerde gedrag. Wanneer jy natuurlik negatief is, moet jy leer om positief te wees. Wanneer jy natuurlik angstig is, moet jy leer om moedig te wees. Wanneer jy natuurlik selfsugtig is, moet jy leer om vrygewig te wees. God wil hê dat jy deur die lewe moet gaan deur op die uitkyk te wees vir geleenthede om ander mense te seën: ‘Terwyl ons die kans het, moet ons dus goeddoen aan alle mense, maar veral aan medegelowiges’ (Galasiërs 6:10 NLV). Jy moet dit nie net aan mense doen nie, jy is veronderstel om dit deur mense en vir die Here te doen. ‘Moenie mense probeer tevrede stel deur net gehoorsaam te wees wanneer hulle julle kan sien nie. Nee, werk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen. Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie. Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon, of dit nou slawe is of vry mense’ (Efesiërs 6:6-8 NLV). Dit beteken dat wat jy vir ander mense laat gebeur, die Here vir jou sal laat gebeur!
Sielskos: Obadja; Rut 1; Luk 14:1-14; Ps 119:73-80; Spr 17:27-28
2020-08-14
Nahum 1:7 NLV
Terwyl Louisa Stead, haar man en hulle jong dogter ‘n piekniek op die strand geniet het, het hulle ‘n jong seun in die see opgemerk wat in die moeilikheid was. Toe mnr Stead hom probeer red, is hy deur die vreesbevange seun onder die golwe ingetrek en het hulle altwee verdrink terwyl Louisa en haar dogter hulpeloos van die strand af toegekyk het. In die dae van rou wat gevolg het, het Louisa begin skryf en die gevolg was ‘n gesang wat aan miljoene mense bekend is: ‘Tis so sweet to trust in Jesus, just to take Him at His word, just to rest upon His promise, just to know ‘Thus saith the Lord.’ I’m so glad I learned to trust Thee, precious Jesus, Saviour, friend; and I know that Thou art with me, wilt be with me to the end.’ Deur op Jesus te vertrou, het Louisa as sendeling na Suid-Afrika vertrek waar sy vir die volgende vyf-en-twintig jaar die Here gedien het. As jy vandag sukkel om God te vertrou, staan op die volgende Skrifgedeeltes: 1) ‘Die Here is goed. In tye van nood is Hy ‘n veilige vesting. Hy ken elke mens wat op Hom vertrou.’ 2) ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). 3) ‘God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil’ (2 Samuel 22:31 NLV). 4) ‘Hoe groot is die goedheid wat U weggebêre het vir hulle wat U dien, wat U voor die oë van die mense gee aan hulle wat op U vertrou’ (Psalm 31:20 NLV).
Sielskos: 1 Pet 1-5; Luk 13:18-35; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26
2020-08-13
Markus 3:10 NLV
Jesus het ‘n vrou genees wat al twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Let op hoe haar wonderwerk plaasgevind het. Sy het deur die skare gedruk ‘…en aan die rand van sy jas geraak’ (Matteus 9:20 NLV) en is onmiddellik genees. Gevolglik het mense daaroor begin praat en ‘n nuwe neiging het begin. Vier hoofstukke later lees ons dat mense begin het om ‘…al hulle siekes na Hom toe [te] bring. Die siekes het Hom gesmeek om aan Hom te mag raak, al was dit maar net aan die onderste rand van sy jas. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword’ (Matteus 14:35-36 NLV). As jy vandag teen siekte of verslawing stry, druk deur en raak aan Jesus. Hou aan bid en glo in sy Woord. Wees hardnekkig! Daar is ‘n verskil tussen die feite en die waarheid. Die feit mag wees dat jou prognose nie goed lyk nie. Die waarheid is egter: ‘En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan’ (Jakobus 5:15 NLV). Jy sê: ‘Ek ken mense wat vir genesing gebid het en dit nie ontvang het nie.’ Ja, en as hulle op Christus as hulle Redder vertrou het, het hulle die uiteindelike genesing ontvang: ‘…om te vertrek en persoonlik by Christus te wees, want dit is… verreweg die beste’ (Filippense 1:23 NLV). Wanneer dit ons tyd is om te gaan, sterf ons almal aan iets. Tot dan, sê God se Woord dat dieselfde rug wat die kruis gedra het om ons sonde weg te neem, die merke gedra het om ons siekte weg te vat. “…Hy het almal wat siek was, gesond gemaak. So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui: ‘Hy het ons kwale sy eie gemaak, en ons siektes het Hy op Homself geneem'” (Matteus 8:16-17 NLV).
Sielskos: Deut 32:29-34:12; Luk 13:1-17; Ps 119:57-64; Spr 17:22
2020-08-12
Lukas 9:62 NLV
As jy wys is, sal jy vier dinge doen: 1) Fokus op die pad vorentoe. Deur in die truspieëltjie in plaas van die pad vorentoe te kyk, sal jy die volgende afdraai mis en in ‘n sloot beland. Fokus op die feit dat jy oorleef het; en dit wat jy uit die ervaring geleer het. God het jou vir ‘n rede gespaar, vind dus uit wat dit is en wy jouself daaraan toe. 2) Hou op om maklike antwoorde te soek. Jy sal by enige boekwinkel rakke vol boeke vind met titels wat vyf sleutels tot sukses of twaalf eenvoudige strategieë vir gesondheid, rykdom en lewensvervulling belowe. Jammer, maar dit werk nie so nie. Die lewe is moeilik en diep binne-in ons weet ons dat daardie vereenvoudige benaderings nie werk nie. Die feit dat jou lewe moeilik is beteken egter nie dat jy op die verkeerde pad is nie. Soos die ou plattelandse prediker gesê het: ‘As jy nie soms van aangesig tot aangesig met die Duiwel kom nie, beweeg jy sekerlik in dieselfde rigting as hy.’ 3) Bly op jou pad – nie almal sal saam met jou stap nie. Sommige van jou naaste vriende is mense wat nooit sal verander nie en hulle hou nie van diegene wat dit wel doen nie. Jy moet nietemin daaraan toegewyd wees om te groei, jou kennis en ervarings te verbreed en na die volgende vlak te beweeg. 4) Glo in jouself – God doen! Wanneer iemand vir jou sê dat jy nooit iets sal bereik nie, glimlag en hou aan. God alleenlik ken jou potensiaal en as jy gewillig is om Hom te vertrou en hard te werk, sal Hy jou help om dit te vervul. Sukses is ‘n argument wat jou vyande en kritici nie kan weerlê nie.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Luk 12:49-59; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21
2020-08-11
Filippense 3:13-14 NLV
Hoe groter die oortreding, hoe moeiliker is dit om te vergewe – maar jy moet. Dit wat jy weier om te vergewe en te laat gaan, dra jy met jou saam. Dit sal soos ‘n albatros om jou nek wees. Het iemand jou misbruik, jou verkul, oor jou gelieg, jou afgedank of op ‘n ander wyse sleg behandel? Het jy jouself gefaal? Wat jou spesifieke seer ook al mag wees, die oplossing is nie om dit te voed of dit te ontken nie. Jy moet dit vergewe en laat gaan, andersins sal jy aanhou om jouself seer te maak. Iemand het gesê deur te kies om nie ‘n ander persoon te vergewe nie, is soos om gif te eet en te verwag dat die ander persoon sal doodgaan. Om vorentoe te beweeg, moet jy ‘laat gaan’ en vrede met die verlede maak. Paulus kon maklik toegelaat het dat die herinnering aan die Christene wat hy vervolg het voor hy Christus begin volg het, hom vernietig en sy lewensdoel by hom steel. In plaas daarvan het hy geskryf: ‘Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Alles behalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ‘n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort’ (verse 13-14 DB). Hier is nog ‘n Skrifgedeelte: ‘…vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe’ (Markus 11:25 NLV). Vergewe dus en beweeg aan.
Sielskos: Deut 28-29; Luk 12:35-48; Ps 119:41-48; Spr 17:17
2020-08-10
Efesiërs 2:8 AFR83
In ‘n gelykenis was daar twee verlore seuns en beide het in ‘n godsdienstige kultuur wat reëls hoog op prys gestel het, grootgeword. ‘Tollenaars en ander berugte sondaars het dikwels na Jesus se onderrig kom luister. Fariseërs en wetskenners het beswaar gemaak dat Hy met veragtelike mense geassosieer het… Jesus het toe hierdie illustrasie gebruik…’ (Lukas 15:1-3 NLV). Hier praat Jesus met twee verskillende groepe: 1) Mense wat die reëls verbreek – soos die Verlore Seun – wat weet dat ons net deur God se genade gered kan word. 2) Mense wat die reëls nakom – soos die ouer broer – wat dink hulle kan hulle verlossing verdien of deur goeie werke daartoe bydra. Die ouer broer het geweier om die fees vir sy broer se tuiskoms by te woon. ‘Vader, anders as hy, het ek jou gedien en jou gebooie nagekom. Dis nie regverdig nie’ (sien Lukas 15:29). Klink dit bekend? Sy vader het hom geantwoord: ‘…Kyk, my liewe seun, ek en jy is nog altyd hier bymekaar en alles wat ek het, is tog joune’ (vers 31 NLV). Ja, daar is ‘n plek in God se koninkryk vir goeie dade. Jou beloning in die hemel hang van jou dade hier op aarde af. Jou redding hang egter net van Christus se optrede af: ‘Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie’ (Efesiërss 2:8-9 AFR83). Ja, God sal jou uitdaag, berispe en reinig sodat jy in die persoon wat Hy wil hê jy moet wees, sal verander. Jy is egter net deur genade alleenlik gered.
Sielskos: Deut 25-27; Luk 12:22-34; Ps 119:33-40; Spr 17:16