Oorkom verwerping (4)

2020-08-21
Lukas 17:3 NLV

Soms word daar van jou verwag om gedrag wat jou negatief affekteer, te konfronteer. Jesus het gesê: ‘…As jou broer aanhou sonde doen, wys hom tereg, en as hy tot inkeer kom, vergewe hom.’ Dit gee jou egter nie die reg om soos ‘n woedende bul tekere te gaan nie. Jesus het ook gesê: ‘Ook as hy sewe keer op ‘n dag teenoor jou oortree, maar ook sewe keer na jou toe kom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe’ (vers 4 NLV). Hier is nog ‘n gedagte: Respekteer die ander persoon se besluit om nie ‘n verhouding met jou aan te knoop nie. Hulle mag dalk nie in jou lewe hoort nie en andersom. Dink aan die laaste keer wat jy inkopies gaan doen het. Het jy elke liewe item waarna jy gekyk het gekoop? Natuurlik nie. Het jy hulle verwerp omdat hulle minderwaardig was? Sekerlik ook nie. Jy het eenvoudig besluit dat dit nie vir jou is nie. As jy egter ‘n patroon van verwerping ervaar en nie seker is wat die oorsaak daarvan is nie, moet jy dit dalk oorweeg om uit te vind hoekom. ‘Die wonde van iemand wat lief is vir jou is baie beter as die baie soene wat jou vyande jou wil gee’ (Spreuke 27:6 NLV). Soms is dit wys om te vra: ‘Ek wil graag terugvoer van jou vir my persoonlike ontwikkeling hê. My motivering is nie om ons verhouding te hervat nie. Ek wil net graag weet wat jou laat besluit het om dit te termineer. Ek sal jou eerlike terugvoer waardeer.’ Maak seker dat jy ‘n optimistiese houding, in plaas van ‘n negatiewe een, projekteer. Luister objektief en moenie verdedigend wees nie. Jy samel inligting in. Jy moet ook gewillig wees om te verander as daar waarheid in hulle antwoord steek.

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Luk 16:1-18; Ps 119:113-120; Spr 20:25; Pred 5:4-6

Oorkom verwerping (3)

2020-08-20
Spreuke 31:18 ABA

Die foute wat jy al gemaak het mag dalk erg, groot en herhaaldelik gewees het. Hulle het egter nie God se dunk van jou verander nie. ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). Ja, God sal jou korrigeer wanneer jy dit nodig het. Sy korreksie is egter nie verwerping nie – dis ‘n bewys van sy liefde. ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (Hebreërs 12:6 NLV). God se doel met dissipline is om jou tot jou hoogste potensiaal te ontwikkel. Moet dus nie toelaat dat enigiemand jou minderwaardig laat voel nie. Wees jou oorspronklike self wanneer jy by ander mense is. Fokus op dit wat jy het om te gee, eerder as hoe ander mense jou sien. Moenie spog of groot name in die gesprek laat val om die speelveld gelyk te probeer maak nie. Jy is alreeds op dieselfde vlak – selfs al het jy nie ‘n soortgelyke opvoeding, ervaring, finansiële status, sosiale stand of agtergrond nie. Van wanneer af het sulke dinge mense beter as ander gemaak – veral in jou hemelse Vader se oë? Salomo beskryf die kwaliteite van ‘n uitnemende vrou: ‘Wanneer sy sien dat mense graag haar goed koop, dan werk sy die hele nag.’ Hierdie vrou was nie hoogmoedig omdat mense haar goed wou koop nie, sy het net vertroue gehad in haar Godgegewe opdrag en wie God haar gemaak het om te wees. Haar selfvertroue het van binne af gekom. Salomo eindig die hoofstuk met hierdie woorde: ‘Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort’ (Spreuke 31:31 NLV).

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Luk 15:11-32; Ps 119:105-112; Spr 18:10-12

Oorkom verwerping (2)

2020-08-19
Psalm 139:14 NLV

Om verwerping te oorkom, moet jy ferm glo dat God jou fisies, intellektueel en temperamenteel ontwerp het en jou ‘n opdrag gegee het wat niemand anders kan vervul nie. Om jouself minder te maak as wat jy is, mag dalk nederig lyk, maar dis inderwaarheid ‘n vorm van trots omdat jy gevolglik God se ontwerp en plan vir jouself verwerp. Begin dus om uitdruklik saam met die Psalmdigter te verklaar: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal!’ (verse 14-17 NLV). Waar het jy die idee gekry dat jy minderwaardig is? Of dit nou by kritiese ouers, veroordelende geestelikes, onwyse onderwysers, wrede klasmaats of ‘n eggenoot wat jou verbaal mishandel het begin het, onthou dat Satan ‘…’n leuenaar en ook die vader daarvan is’ (Johannes 8:44 NLV). Hy het iemand gebruik om vir jou oor jou waarde en potensiaal te lieg. Besluit nou om daardie leuen te verwerp. Met ander woorde: verwerp verwerping! Maak ‘n lys van elke Godgegewe gawe, bate of voordeel wat jy besit wat ‘n seën vir ander mense is of kan wees. Moenie wêreldse sisteme gebruik om jou lys te ontwikkel nie. Fokus op karaktereienskappe soos integriteit, lojaliteit, vrygewigheid, wysheid en geduld. Dink aan maniere wat jy elkeen van hierdie eienskappe kan gebruik om God te verheerlik en ‘n seën vir ander mense te wees.

Sielskos: Rig 4-6; Luk 15:1-10; Ps 119:97-104; Spr 18:9

Oorkom verwerping (1)

2020-08-18
Jesaja 43:4 NLV

Jesus het verwerping ervaar: ‘Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie’ (Johannes 1:11 NLV). Hy het egter nie rondgesit en sy wonde gelek nie; Hy het aanbeweeg na waar mense Hom met vreugde ontvang het. Hy het ook vir sy dissipels gesê: ‘As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af’ (Matteus 10:14 NLV). Herhaalde verwerping is geneig om die vrees dat ons nie genoeg is nie, te bekragtig. Dis veral so wanneer dit by die opinies van diegene wat vir ons van waarde is, kom. Die ironie is egter dat optrede uit vrees vir verwerping, dikwels die presiese verwerping wat jy probeer vermy, tot gevolg het. Wanneer mense besef dat jy jouself nie baie hoog ag nie, behandel hulle jou daarvolgens. Jy leer mense hoe om jou te waardeer, deur die manier wat jy jouself waardeer. Selfs al is Jesus verwerp, het Hy nooit op ‘n manier opgetree wat aanhoudende verwerping aangemoedig het nie. Hy het nie op plekke gebly waar Hy verdra is nie; Hy het na plekke gegaan waar Hy gevier is. Met ander woorde, Hy het na plekke gegaan waar mense sy persoon, sy doel en sy krag herken en ontvang het. Hy het God se volle aanvaarding gehad, dus het Hy nie mense se verwerping gevrees nie. Jy het ook God se volle aanvaarding. ‘Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet…’ Die eerste stap om verwerping te oorkom, is om God se opinie van jou te alle tye in jou gedagtes te hou.

Sielskos: Rig 1-3; Luk 14:25-35; Ps 119:89-96; Spr 18:6-8

Beoefen visioenêre denke

2020-08-17
Numeri 12:6 AFR83

As jy God vra, sal Hy vir jou ‘n visie vir jou lewe gee – een wat jou in staat sal stel om die einddoel te sien, opgewonde te raak en progressief daarnatoe te beweeg. Wanneer ouers uitgeput deur besige kleuters, slegte punte en balhorige tieners raak en jy hulle daaraan herinner dat dit net ‘n tydelike seisoen is – beoefen jy visioenêre denke. Visies word nie tot pastore, politici, sakemanne en presidente beperk nie – hulle is vir almal. Visioenêre denke gee jou ‘n groter perspektief. Dis soos om die prentjie te vergroot; dit brei nie net dit wat jy kan sien uit nie, maar ook wat jy glo jy in staat is om te doen. Visioenêre denke benodig drie dinge: 1) Leer. Wees seker van dit wat jy weet en waardeer dit – maar moet nooit op jou louere rus nie. Vorm nuwe verhoudings, lees nuwe boeke en leer nuwe vaardighede aan. Word ‘n lewenslange leerder. 2) Luister. Soek diegene uit wat kundigheid het in areas waar jy te kort skiet. Vra vrae wat jou begrip en denkwyse vergroot en luister en onthou versigtig wat jy hoor. 3) Kyk. Dis moeilik om die prentjie te sien wanneer jy binne die raam staan. Daar is ‘n wêreld buite jou eie, dus moet jy buite jouself beweeg en dit deur die oë van ander mense sien. Om aan mense se behoeftes te voldoen, moet jy eers uitvind hoe hulle dink. Dit verg dat jy nederig is, oor jou eie persoonlik agenda kom en die ander persoon se uitgangspunt probeer verstaan. Die Bybel stel dit so: ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:4 NLV).

Sielskos: Rut 2-4; Luk 14:15-24; Ps 119:81-88; Spr 18:1-5

Dis tyd om van rigting te verander

2020-08-16
1 Korintiërs 9:25 ABA

Verantwoordelikheid verg van ons om ‘n lewe te maak en ons familie te ondersteun. Voel jy egter diep binne-in jou dat jy ‘geroep’ is om iets anders te doen? Die dissipels het hulle grootste vangs gehad, toe Jesus vir hulle gesê het om die sekuriteit van die strand te verlaat en die diep waters in te vaar. Hier is ‘n hedendaagse verhaal om jou aan te moedig: Jerry Richardson het in 1961 voor ‘n belangrike besluit te staan gekom. In daardie dae het hy voetbal vir die Baltimore Colts gespeel, ‘n werk wat as glansryk en veilig gesien is. Toe hy egter nie die verhoging kry waarvoor hy aansoek gedoen het nie, het hy gevoel dat dit tyd is om ‘n risiko te neem en te doen wat hy nog altyd wou doen – sy eie besigheid begin. Hy en sy familie het teruggetrek Suid Carolina toe, waar ‘n ou universiteitsvriend hom uitgenooi het om aandele in ‘n hamburger kiosk te koop. Richardson het die risiko geneem en Hardee’s se eerste konsessie gekoop. Hy het van, om ‘n voetbal te vang, na hamburgers vir twaalf uur ‘n dag te braai, gegaan. Hy het stowe geskrop en vloere gemop. Sy salaris? Slegs $147 ‘n maand. So moeg en gefrustreerd soos hy egter was, het hy geweier om tou op te gooi. Hy het dieselfde dissipline wat hy op die voetbalveld gebruik het, gebruik om daarop te fokus om sy restaurant meer doeltreffend en sy pryse bekostigbaar te maak. Kort voor lank het sy besigheid uit sy nate gebars. Hy het uiteindelik die hoof van die een van die grootste voedseldiens maatskappye in Amerika geword, wat elke jaar $3.7 biljoen in verkope gehad het. O, en nog ‘n ding. Hy het ook die eienaar van die NFL geword en die Carolina Panthers konsessie gevestig, wat hy vir drie-en-twintig jaar besit het.

Sielskos: 2 Kor 11:21-33; 2 Kor 12:7-10; Hand 16:16-40; Hand 19:11-12