Moet jy belê?
2020-10-06Prediker 11:4 NLV
Moet jy die risiko neem om geld te belê, of moet jy vir ‘n gelukskoot wag wat jou oornag ryk sal maak? Salomo antwoord: ‘Gooi jou brood op die water, want na ‘n lang tyd kry jy dit terug’ (vers 1 NLV).
Dit beteken dat jy met gebed en wysheid beleggings moet maak en geduldig moet wees, want dit mag dalk ‘n ‘lang tyd’ neem voordat jy dividende daaruit sal ontvang. Die word-vinnig-ryk mentaliteit is nie Skriftuurlik nie. ‘Sit jou besittings op sewe of agt plekke. Jy weet immers nie watter rampe die land kan tref nie’ (vers 2 NLV).
Belê dus, diversifiseer en laat ruimte vir markwisselings toe. Jy moet wys speel, nie veilig speel nie. Word deur geloof, nie deur vrees nie, aangedryf. Goddelike wysheid, asook geloof, is die sleutel tot beleggings. Om vir die ‘ideale tyd’ te wag, sal jou verlam. Sukses is nie die afwesigheid van uitdagings nie, dis die wysheid om hulle te bestuur en aan te hou vorentoe beweeg.
Die Bybel sê: ‘As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nie saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie.’ Die lewe is vol van die onbekende, en net so min as wat jy ‘…die pad van die wind ken, of weet hoe die liggaam lyk in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min verstaan jy die werk van God…’ (vers 5 NLV).
Jy hoef nie alles te weet of in staat te wees om die uitkoms te voorspel nie. Vra net na God en tree volgens die wysheid wat Hy vir jou gee, op (sien Jakobus 1:5). Jy hoef nie te verstaan hoe Hy om jou onthalwe te werk gaan nie – jy moet net glo dat Hy sal!
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Joh 1:1-13; Ps 92; Spr 22:24-25