Hoe om God se stem te herken

2021-10-15
1 Samuel 3:9 DB

Samuel het nie God se stem herken toe hy as klein seuntjie in die tempel gewerk het nie. Later, toe hy as profeet opgetree het, was sy oor egter die poort waardeur God met ‘n nasie gepraat het. Om te leer om God se stem te herken is nie ‘n vaardigheid wat oornag aangeleer kan word nie, omdat Hy op verskillende tye, op verskillende maniere en in verskillende omstandighede met ons praat.

Om God se stem te herken: 1) Verg geestelike volwassenheid. Jesus het gesê: ‘…die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:4 NLV). Let op dat Hy gesê het dat die skape, nie die lammers nie, sy stem ken. Dit beteken dat daar genade vir die onvolwassenes is. As jou geestelike ore dus nog nie ontwikkel is nie, sal God met jou werk totdat hulle is.

2) Beteken dat jy nie deur jou vorige ervarings beperk word nie. Toe God met Moses gepraat het, het ‘n berg geskud, terwyl Hy met Elia in ‘n stil, klein stem gepraat het. Moenie God beperk nie en moet Hom nie probeer uitpluis nie. Hy kan deur jou Bybel, deur diegene wat opgelei is om sy Woord te verkondig, deur ‘n lied, deur ‘n pynlike situasie of deur jou gedagtes en begeertes met jou praat, wanneer jy jou aan Hom onderwerp het. Die sleutel is om naby aan God te bly en jou ore op sy stem ingestel te hou.

3) Beteken dat jy gehoorsaam is. Dawid het gesê: ‘Dis my begeerte om u wil te doen…’ (Psalm 40:9 NLV). Wees gehoorsaam en maak werk daarvan om God se stem te leer herken. ‘As hulle luister en Hom gehoorsaam, word hulle geseën met voorspoed deur hulle hele lewe’ (Job 36:11 NLV).

Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28

Beoefen vandag nederigheid

2021-10-14
Matteus 23:12 NLV

Paulus het een van die grootste bedieninge wat die wêreld ooit gesien het, gehad, maar tog het hy van homself gesê: ‘…Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, en ek was die ergste van hulle almal’ (1 Timoteus 1:15 NLV). Wanneer mense vir Paulus vertel het hoe wonderlik hy is, het hy nederig gebly deur te onthou wat hy was. Indien jy glo dat God jou geroep het, moet jou reaksie wees om in nederigheid voor Hom neer te buig.

Toe die Engel van die Here vir ‘n bejaarde Sagaria gesê het dat hy die pa van ‘n seun, genaamd Johannes die Doper, sou word, het Sagaria op die vloer neergeval en nie beweeg nie. ‘n Boek in die Bybel is na Esegiël vernoem, maar toe God hom geroep het, het hy op die vloer neergeval en God moes vir hom sê om op te staan: “‘Staan op, mensekind,’ het die stem gesê. ‘Ek wil met jou praat'” (Esegiël 2:1 NLV). Toe Johannes vir Jesus te midde van die sewe gemeentes sien staan, het hy geskryf: ‘Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n lyk…’ (Openbaring 1:17 NLV).

Kan jy ‘n patroon hier na vore sien kom? Paulus skryf: ‘…Laat julle roeping julle leefstyl bepaal. Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra’ (Efesiërs 4:1-2 NLV). Om saam met God te stap is die hoogste roeping wat jy kan kry. Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself moet dink nie; dit beteken dat jy minder aan jouself moet dink. Jesus het dit as volg opgesom: ‘Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.’ Beoefen vandag nederigheid.

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 3:22-36; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21

Wees ‘n aanspoorder (3)

2021-10-13
Deuteronomium 1:38 NLV

Wanneer dit daarby kom om ‘n aanspoorder te wees, is daar twee dinge wat jy moet oplet: 1) Aansporing is ‘n verwaarloosde gawe. Daar is deesdae geen bediening in die kerk wat meer nodig as bemoediging is nie. Die meeste kerke het ‘n ‘koue water komitee.’ Hulle is altyd gereed om jou te vertel hoekom iets nie sal werk nie en uit te wys hoekom ‘n sekere program verkeerd geloop het. Hulle neig om harder en langer as die aanspoorders te praat, wat tot die volgende punt lei.

2) Aansporing is ‘n nodige gawe. Maak nie saak hoe goed dinge verloop nie, of hoe goed iemand van buite af lyk nie, elkeen van ons het ‘n bietjie aansporing nodig. Aansporing is inderwaarheid so belangrik dat die hele kerk daarby betrokke moet wees. ‘Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot ‘n meer kragdadige beoefening van liefde en goeie dade. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom’ (Hebreërs 10:24-25 NLV).

Kerk is die plek waar mense opgelig, nie platgeslaan moet word nie. Ons moet mense bemoedig wanneer hulle dit nie nodig het nie, eerder as om te wag totdat hulle dit nodig het. As jy te lank wag, mag jou aansporing dalk te laat wees. Moenie wag tot iets goeds gebeur om ‘n bemoedigende woord te spreek nie; maak dit ‘n gereelde gebeurtenis. ‘Maar ek weet nie wat om te sê nie,’ protesteer jy. Vra God vir wysheid en jy sal dit ontvang. ‘Die oppermagtige Heer het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat…’ (Jesaja 50:4 NLV).

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 3:1-21; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18

Wees ‘n aanspoorder (2)

2021-10-12
Handelinge 14:22 NLV

‘n Aanspoorder het die vermoë om drie dinge te doen: 1) Om te bevestig. ‘Paulus en Barnabas het die Goeie Nuus ook in Derbe verkondig, en hulle het ‘n redelike aantal volgelinge van Jesus bygekry. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië toe teruggegaan. Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om vol te hou met die geloof. ‘Ons moet eers deur baie verdrukking gaan voordat ons voluit aan die koningsheerskappy van God kan deel hê,’ het hulle gesê’ (verse 21-22 NLV). ‘n Aanspoorder is in moeilike tye ‘n steunpilaar en weet hoe om mense te motiveer. Hulle gooi ‘n reddingsboei aan diegene wat besig is om in ‘n see van vertwyfelinge te verdrink.

2) Om te vertroos. ‘Paulus en Silas is toe terug na Lidia se huis, en hulle het die gelowiges gesien en hulle bemoedig. Daarna het hulle vertrek’ (Handelinge 16:40 NLV). Hier word die gawe van aansporing in sy beste vorm gedemonstreer. Paulus en Silas is vals beskuldig, met stokke geslaan en in die tronk gegooi. Toe hierdie nuus die kerk bereik, was die gelowiges baie mismoedig. Wonderbaarlik het Paulus en Silas, nadat hulle bonatuurlik uit die tronk bevry is, vertroosting aan die gelowiges gaan bied, eerder as om dit self te ontvang.

3) Om te konfronteer. ‘Ek moedig sowel Euodia as Sintige aan om hulle meningsverskille op te los omdat hulle één is met die Here… Hulle het hard gewerk saam met my… om die Goeie Nuus uit te dra…’ (Filippense 4:2-3 NLV). Hierdie twee prominente vroue in die kerk kon nie met mekaar oor die weg kom nie, dus het Paulus die rol van vredemaker aangeneem en hulle gekonfronteer. Hy was vriendelik, hy was regverdig, maar hy was ferm. Jy moet ook dieselfde wees.

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; John 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14

Wees ‘n aanspoorder (1)

2021-10-11
Hebreërs 3:13 NLV

Die Griekse woord vir aanspoor is ‘parakalew.’ Dit kom van twee woorde af, waarvan een ‘langsaan’ en die ander ‘om te roep’ beteken. Dit is die wortel van die Griekse woord ‘paraclete,’ wat die naam is wat Jesus vir die Heilige Gees gegee het. Die Heilige Gees spoor ons aan en bemoedig ons in ons wandel met God.

Jy is nooit meer in voeling met die Heilige Gees en sy bediening, as wanneer jy ander mense aanspoor en bemoedig nie. ‘n Aanspoorder kan ‘n verloorder in ‘n wenner, ‘n leeglêer in ‘n werker en ‘n pessimis in ‘n optimis verander. Hulle inspireer ander mense met hernude moed, gees en hoop. Hulle het ‘n bediening van bevestiging en waardering.

Dit is belangrik om die verskil tussen bevestiging en waardering te verstaan. Ons waardeer wat iemand doen, maar ons bevestig wie ‘n persoon is. Waardering kom en gaan, omdat dit gewoonlik met iemand se prestasies gepaardgaan, maar bevestiging gaan reg na die hart van ‘n persoon, omdat dit op daardie persoon se individuele waarde gerig word.

‘n Aanspoorder het die vermoë om jou goed oor jouself te laat voel. Deur net in jou teenwoordigheid te wees, hef hulle jou op, inspireer, motiveer en laat hulle jou beter voel. Die Bybel sê dat Barnabas ‘n aanspoorder was. ‘Toe hierdie nuus die Jerusalem-gemeente bereik, het hulle vir Barnabas na Antiogië toe gestuur om te kyk of die nuwe gelowiges darem doen wat God vra. Hy was aangenaam verras toe hy daar aankom en sien wat God besig was om in hulle lewe te doen. Barnabas het hulle opgewonde aangespoor om die Here met alles in hulle te dien en aan Hom getrou te bly’ (Handelinge 11:22-23 DB).

Die woord vir jou vandag is dus: wees ‘n aanspoorder.

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 2:1-11; Ps 110; Spr 23:6-9

Hoe God selfgesentreerdheid hanteer

2021-10-10
Galasiërs 5:24 DB

Daar word geskat dat die gemiddelde persoon omtrent nege miljoen woorde ‘n jaar praat en meer as helfte van hierdie woorde is: ‘Ek, my, myne.’ Wanneer jy egter vir Christus volg, beteken dit dat jou sondige gees moet sterf, maar selfgesentreerdheid gee nie sonder ‘n geveg op nie.

Dis hoekom Paulus skryf: ‘…al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker.’ Selfbelang sal nie net omrol en doodgaan nie; dit moet doodgemaak word. Dis ‘n daaglikse stryd, omdat ons die geneigdheid het om met ‘n doodsgreep aan ons eie belange vas te klou.

Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘En wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees’ (Matteus 20:27 NLV). In daardie dae was ‘n slaaf as die laagste van die huishoudelike personeel gesien. Dit beteken dat jy geroep is om jou eie belange op te offer, om sodoende ander mense te dien.

Indien nodig, sal God jou met ‘n ‘herinnering’ los aan dit wat jy moes deurgaan om jou spesifieke areas van hardkoppigheid en selfgesentreerdheid te kruisig. Jakob het byvoorbeeld mank geloop na sy ontmoeting met God, wat ‘n konstante herinnering aan sy totale afhanklikheid aan God was. Die groot apostel Paulus skryf ook: ‘Om seker te maak dat ek nie te veel van myself sou begin dink oor al die openbarings wat ek ontvang het nie, het God ‘n groot struikelblok oor my pad gestuur…’ (2 Korintiërs 12:7 DB).

Wat is jou struikelblok? ‘n Gewoonte waarteen jy veg? Vrees wat jou agtervolg? ‘n Moeilike verhouding? ‘n Finansiële tekort? ‘n Fisiese kwaal? Hoekom neem God dit nie weg nie? Omdat Hy enigiets wat jou meer afhanklik van Hom en minder afhanklik van jouself maak, as ‘n plus en nie ‘n minus sien nie.

Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18