2021-10-21
Jesaja 46:10 NLV
Een dag het ‘n sakeman sy vrou gebel om te sê dat hy ‘n oorsese besoeker vir aandete uitgenooi het. Sy vrou het drie kinders in die skool en een kleuter by die huis gehad, dus het sy ‘n vol werkslading gehad. Tog het sy ingestem en die maaltyd wat sy voorberei het, het heerlik gesmaak en was elegant voorgesit. Die oorsese gas, ‘n belangrike amptenaar van Spanje, het ‘n wonderlike tyd gehad en die paartjie herhaaldelik bedank dat hulle hom uitgenooi het en hom van ‘n tuisgemaakte ete en ‘n aand van familie-warmte en gemeenskap voorsien het.
Jare later het vriende van hierdie familie Spanje as sendelinge besoek. Hul werk is egter deur regeringsregulasies tot stilstand gedwing. Toe hierdie spesifieke Spaanse amptenaar kennis neem dat die sendelinge vriende is van die paartjie wat hom so gasvry onthaal het, het hy sy invloed gebruik om die regulasies namens hulle uit die weg te ruim. Gevolglik is ‘n lewendige en groeiende kerk in daardie provinsie van Spanje gebou en mense is vir Christus gewen. Hoekom? Omdat ‘n besige vrou en ma gewillig was om ‘n ekstra bord vir ‘n gas aan haar tafel te dek en omdat daardie gas ‘koninkrykskonneksies’ gehad het.
Soos ‘n wyse besigheidsman stel God die doelwit en bepaal dan die plan om dit te bereik. Hy sê vir ons in sy woord: ‘…Ek is God… Ek maak die einde bekend vanaf die begin. Uit die verlede, dit wat nog moet gebeur. Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil, doen Ek’ (verse 9-10 NLV). Met ander woorde, God verbind die kolletjies.
Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 5:16-30; Ps 5; Spr 24:8-9
2021-10-20
Spreuke 23:15 NLV
As jy dit regkry om ‘n goeie lewe vir jouself te maak, maar nie daarin slaag om jou kinders te leer hoe om ‘reg’ te lewe nie, sal jou sukses leeg wees en sal jy eendag met spyt moet saamleef. Die gemiddelde kind bestee ses tot sewe ure elke dag op die internet, of om televise te kyk, of om met hulle portuurgroep om te gaan. Elke minuut daarvan is besig om hulle waardesisteem te skep en hulle in die persoon wat hulle eendag sal word, te vorm. Wees dus daar vir hulle!
As jy materiële dinge moet opoffer om hulle geestelik te ontwikkel, is dit ‘n ruilooreenkoms waaroor jy altyd goed sal voel. Dorothy Lawe Nolte het woorde geskryf wat elke ouer met hulle moet saamdra: ‘As ‘n kind met kritiek saamleef, leer hy om te oordeel. As ‘n kind met vyandigheid saamleef, leer hy om te baklei. As ‘n kind met bespotting saamleef, leer hy om skaam te wees. As ‘n kind met skaamte leef, leer hy om skuldig te voel. Maar, as ‘n kind met verdraagsaamheid lewe, leer hy om geduldig te wees. As ‘n kind met aanmoediging lewe, leer hy om selfvertroue te hê. As ‘n kind met bemoediging lewe, leer hy om te waardeer. As ‘n kind met regverdigheid lewe, leer hy geregtigheid. As ‘n kind met sekuriteit lewe, leer hy om geloof te hê. As ‘n kind met goedkeuring lewe, leer hy om van homself te hou. As ‘n kind met aanvaarding en vriendskap lewe, leer hy om liefde in die wêreld te vind.’
Salomo, wat self ‘n vader was, het dit as volg gestel: ‘Ek sal baie bly wees, my kind, as jy ook ‘n wyse mens word…’
Sielskos: Hab 1-3; Joh 5:1-15; Ps 15; Spr 24:7
2021-10-19
Lukas 6:38 NLV
In die laat negentiende eeu het ‘n parlementslid na Skotland vertrek om ‘n belangrike toespraak daar te lewer. Hy het met die trein na Edinburgh gereis en van daar af ‘n perdekar suidwaarts na sy bestemming toe geneem. Die paaie was egter sleg en die perdekar het in die modder vasgeval. ‘n Skotse plaasseun het tot sy redding gekom en hom gehelp om die perdekar weer op die pad te kry. Die parlementslid het die seun gevra hoeveel hy hom vir sy moeite skuld. ‘Niks,’ het die seun geantwoord. ‘Is jy seker?’ het die politikus gevra, maar die seun het betaling geweier. ‘Wel, is daar enigiets wat ek vir jou kan doen? Wat wil jy word wanneer jy groot is?’ Die seun het geantwoord: ‘Ek wil ‘n dokter word.’ Die parlementslid het aangebied om die jong Skotse seun te help om universiteit toe te gaan en wonder bo wonder sy belofte gestand gedoen.
Meer as ‘n halfeeu later was Winston Churchill dodelik siek aan longontsteking terwyl hy ‘n konferensie in Morokko bygewoon het. ‘n Nuwe ‘wondermiddel’ is aan hom toegedien, ‘n middel genaamd penisillien wat deur sir Alexander Fleming ontdek is. Jy het reg geraai: Fleming was die jong Skotse seun wat die parlementslid te hulp gesnel het. Die parlementslid was niemand anders as Randolph Churchill, Winston Churchill se pa, nie.
Ja, wat jy saai, sal jy maai. Wanneer God dus vir jou sê om ‘n saad van barmhartigheid in iemand anders se lewe te saai, is dit omdat Hy ‘n oes van seën, wat vir jou iewers langs die pad wag, het.
Sielskos: Nahum 1-3; Joh 4:39-54; Ps 41; Spr 24:5-6
2021-10-18
Psalm 119:143 DB
Dank God vir vaardige dokters wat weet hoe om siektes te diagnoseer en medikasie voor te skryf wat gesondheid en genesing meebring. Hier is egter iets vir jou om oor na te dink: wat as baie van ons stresverwante siektes deur meditasie, eerder as medikasie, met meer sukses behandel kan word? Die Psalmdigter het geskyf: ‘Al kom ek vragte vol probleme teë, nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink. U voorskrifte is vir altyd waar en reg, leer my om dit te verstaan sodat ek ‘n slag regtig kan lewe… Almal wat u wet liefhet, leef reg, hulle val nie oor die sonde nie’ (verse 143-144, 165 DB).
Wanneer daar ‘n chemiese wanbalans in jou liggaam is, kan dit met medikasie, dieet en daaglikse oefening behandel word. Wanneer jou siel egter tot die punt van disfunksie uitgehonger is, moet dit met God se Woord behandel word. Dit beteken nie dat jy deur ‘n paar verse spoedlees en dan jaag om jou dag te begin nie. Skoenlappers dek baie grond, maar net bye maak heuning bymekaar! Soms moet jy by ‘n spesifieke Skrifgedeelte stilstaan totdat jy die heuning daaruit kry; om daarmee te lewe en daaroor te mediteer totdat dit wortel skiet en in jou begin groei.
Dit verg tyd om ingeburgerde karaktereienskappe te verander. God mag dalk vir verskeie weke of maande aan een area in jou lewe werk. Nuwe gewoontes en denkwyses neem tyd om gevestig te word. Jy moet dit besef en God toelaat om nuwe waarhede in jou lewe te openbaar en te versterk. Moenie jouself flous deur te dink omdat jy ‘n sekere Skriftuurlike waarheid gelees het, dit onmiddellike verandering teweeg gaan bring nie. Dit moet daagliks toegepas word, wat tyd en meditasie verg.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4
2021-10-17
2 Kronieke 15:15 NLV
Langdurige uithongering kan ‘n diepgaande effek op jou gesondheid hê. Jy verloor jou vermoë om helder te kan dink. Jou visie raak vaag. Jou krag kwyn weg en jy hou op om produktief te wees. As jy lank genoeg sonder voeding gaan, is die kans goed dat jy in die hospitaal sal opeindig en deur ‘n buis gevoed word.
Raai wat? Dis dieselfde met jou geestelike lewe. Jesus het gesê: ‘…’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond’ (Matteus 4:4 NLV). Hoekom bestee ons dan nie meer tyd daaraan om die Bybel te lees nie? Ons weet dat dit noodsaaklik vir ons geestelike en emosionele gesondheid is. Tog doen ons dit nie, of ons doen dit nie gereeld nie. Hoekom nie?
1) Omdat ons nie gemotiveerd is nie. Ons het nog nie die vreugde om persoonlik groot waarhede in God se Woord te ontdek, ervaar nie. Ons is tevrede daarmee dat ander mense ons geestelike kos vir ons gee. Wanneer jy egter ernstig daaroor raak om self die Bybel te bestudeer, sal jy nooit weer met tweedehandse kennis tevrede wees nie.
2) Omdat ons nie weet hoe om dit te doen nie. Ons hoor ‘n wonderlike preek en dink: ‘Hoekom het ek dit nie raakgesien nie?’ Omdat die meeste predikers ure daaraan toewy om die Skrif te bestudeer – en ons doen nie!
3) Omdat ons lui raak. Bybelstudie verg selfdissipline, tyd, inspanning, konsentrasie en volharding. Die meeste groot waarhede lê nie op die oppervlak nie; jy moet daarvoor grawe. In die Ou Testament, het Israel: ‘…gretig die wil van die Here gesoek en Hy het Hom deur hulle laat vind. Die Here het hulle rus gegee van hulle vyande aan alle kante.’ God sal dit vir jou ook doen!
Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16
2021-10-16
Psalm 107:9 NLV
Wanneer jy siek is, is een van die eerste vrae wat ‘n dokter vra om jou probleem te diagnoseer, die volgende: ‘Hoe is jou eetlus?’ Wanneer jy jou begeerte na kos verloor, beteken dit dat daar iets fout in jou liggaam is. Dieselfde beginsel is op jou geestelike gesondheid van toepassing. Een van die karaktereienskappe van bekende mans en vrouens in die Skrif, is dat hulle na God in gebed gehonger het en hulself gedissiplineer het om sy Woord te bestudeer en te verstaan.
Wanneer jy God so goed ken, sal jy spesifiek wees in jou gebede en spesifieke antwoorde ontvang. Die waarheid is dat jy met ‘n Godvormige leemte in jou gebore is, wat niemand behalwe God kan vul nie. Meer sukses sal dit nie vul nie. Meer geld sal dit nie vul nie. Nog ‘n verhouding sal dit nie vul nie. Om in ‘n paleis te woon en ‘n koning te wees sal dit nie vul nie.
Dis hoekom koning Dawid geskryf het: ‘Geseënd is U, o Here; leer my u voorskrifte. Die bepalings van u mond het ek met my lippe bekendgemaak. In u voorwaardes het ek my verlustig soos ‘n mens bly is oor rykdom. Ek wil oor u bevele nadink en let op u weë. Ek sal my verbly in u voorskrifte en u woord nie vergeet nie… Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie… Ek word voortdurend verteer deur ‘n begeerte na u bepalings… U waarskuwings is my vreugde; hulle is my raadgewers’ (Psalm 119:12-24 NLV). Die Woord van God is ‘sielskos,’ so as jy jou liggaam voed maar jou siel afskeep – moet jy vandag jou prioriteite herrangskik.
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 4:13-26; Ps 32; Spr 23:29-35