2021-10-27
Psalm 32:8 NLV
Vincent se passie vir die bediening het hom na die Belgiese steenkoolvelde gelei, waar hy vir die mynwerkers gepreek het, die hongeres kos gegee het en ‘n plek in mense se harte verdien het. Sy kerk was tot oorlopens toe vol met mense wat gretig was om van Jesus te leer. Sy base was egter nie tevrede nie, omdat Vincent ou klere gedra het, in ‘n pondok gewoon het en sy salaris vir die mense gegee het.
‘Jy lyk erger as die mense wat jy onderrig,’ het hulle gesê. ‘Sou Jesus nie dieselfde gedoen het nie?’ het Vincent gevra. Sy base het nie saamgestem nie en hy is uit die bediening ontslaan. Hy was seergemaak en kwaad. Sy enigste begeerte was om ‘n kerk te bou wat God verheerlik, so hoekom het God dit nie laat gebeur nie?
Toe eendag sien hy ‘n bejaarde mynwerker wat met ‘n vrag steenkool sukkel. Dit het emosies by hom opgewek en hy het die geboë figuur begin skets. Op daardie oomblik het hy sy ware roeping ontdek. Die jong prediker wat uit sy bediening gewerk is, sou uiteindelik ‘n kunstenaar word wat die wêreld vir lank sou onthou – Vincent van Gogh. Dawid het gesê: ‘…Dit was my begeerte om ‘n huis vir die verbondsark van die Here te bou… Maar God het vir my gesê: ‘Jy mag nie ‘n tempel bou… nie… Jou seun Salomo sal my tempel… bou…’ (1 Kronieke 28:2-3, 6 NLV).
Wanneer God jou planne oorheers om sy planne te implementeer, sê: ‘Amen!’ F.B. Meyer het geskryf: ‘Is jy in die moeilikheid oor jou manier van dinge doen? Gaan na God toe. Wag stil en afwagtend daar, selfs wanneer alles rondom jou ‘n onmiddellike besluit of aksie eis – en die wil van God sal duidelik gemaak word.’
Sielskos: Esra 6-8; Joh 6:52-71; Ps 114; Spr 24:23-25
2021-10-26
Handelinge 16:7 NLV
Wanneer God jou ‘n groen lig gee, moet jy gaan. En wanneer Hy jou ‘n rooi lig gee, moet jy stop. ‘Hulle het deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het deur Misië gereis na Troas toe. Daar het Paulus in die nag ‘n visioen ontvang. Hy het ‘n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: ‘Kom oor na Masedonië toe en help ons.’ Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het on die evangelie daar te verkondig’ (verse 6-10 NLV).
Na ‘n reeks groen ligte, het God vir Paulus ‘n rooi lig gegee. Hoekom? 1) Omdat die tydsberekening nie reg was nie. Apollos moes eers soontoe gaan om die grondslag te lê. 2) Omdat God Paulus en Barnabas êrens anders nodig gehad het. 3) Omdat God wou gehad het dat hulle meer ervare moes wees voordat hulle so ‘n groot taak onderneem het. Let die woorde op: ‘…Hulle… het… probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie’. Hoe gerusstellend!
A.B. Simpson het gesê: Dikwels is daar niks so goddelik soos onaktiwiteit van ons kant af nie, of niks so skadelik soos ‘n onrustige gewerskaf nie, want God het belowe om sy soewereine wil te bewerk.’ Vandag mag God dalk vir jou sê: ‘Wees stil en weet Ek is God! Ek sal vereer word [in hierdie situasie]…’ (Psalm 46:11)
Sielskos: Esra 3-5; Joh 6:35-51; Ps 127; Spr 24:19-22
2021-10-25
Eksodus 33:14 AFR83
Beantwoord die volgende vrae eerlik. 1) Is jy soms knorrig sonder om te weet hoekom? 2) Werk jy hard maar voel ongewaardeer? 3) Voel jy skuldig en onproduktief wanneer jy ontspan? 4) Bevind jy jouself waar jy skree om jou punt te maak, eerder as om kalm daaroor te praat? 5) Kan jy die laaste keer onthou wat jy gelag het totdat die trane geloop het? 6) Is jy moeg na ‘n afdag as gevolg van al die take wat jy moes verrig? 7) Neig jy om meer te eet wanneer jy gespanne en oorweldig voel? 8) Is jy gedurig op die verdediging? 9) Ly jy aan onverklaarbare maagpyne en hoofpyne? 10) Het jou doenlysie voetnotas?
Hoe het jy met hierdie toets gevaar? Is jy verras? As jy in pas met jouself is, behoort jy nie te wees nie. Die simptome van stresoorlading kom nie oornag voor nie. Wanneer jou rekenaar begin vries, weet jy dat dit tyd is om hom af te sit en weer aan te sit. Wanneer ‘n waarskuwingslig op jou paneelbord flikker, sal jy nie droom om dit te ignoreer nie. Wanneer die badkamerskaal se wysertjie soos ‘n waaier begin tol, weet jy dat dit tyd is om minder koek te eet!
Die punt is: as jy aanhou om die waarskuwingstekens te ignoreer, sal stres uiteindelik ‘n tol van jou gesondheid eis. Jesus het gesê: ‘…Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). Met ander woorde, werk daaraan om jou reaksies te beheer. Hou op om oor elke klein dingetjie wat in jou lewe verkeerd gaan, jou vrede te verloor. Wanneer jy niks aan die situasie kan doen nie, moet jy leer om God te vertrou, dit te laat gaan en jou vreugde te behou.
Sielskos: Esra 1-2; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18
2021-10-24
2 Timoteus 3:5 NLV
Hier is nog drie belangrike lesse wat by die seuns van Skeva geleer kan word: 1) Diegene rondom jou is nie noodwendig saam met jou nie. Net omdat iemand saam met jou tyd bestee, jou bewonder en jou probeer navolg, beteken nie dat hulle saam met jou is nie. Hierdie mans het Paulus gevolg, sy elke beweging bestudeer en probeer doen wat hy gedoen het. Hulle het egter die verkeerde beweegsredes gehad. Is jy besorg daaroor om sekere mense te verloor? Probeer jy hulle altyd gelukkig hou? Wonder jy of jy sonder hulle dit in die lewe kan maak? Johannes skryf: ‘Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie…’ (1 Johannes 2:19 NLV). Wanneer God ‘n persoon wat nie in jou lewe hoort nie verwyder, vertrou Hom; Hy weet die beste.
2) Groter getalle beteken nie altyd groter effektiwiteit nie. Hierdie sewe mans kon saam nie regkry wat een apostel wat met die Gees bemagtig was, kon doen nie. Onthou, hulle pa was ‘n Joodse priester, dus het hulle geweet hoe om ‘kerk te doen.’ Hulle het hierdie Skrifgedeelte vervul: ‘Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit wat aan die Christelike godsdiens sy innerlike krag gee, ignoreer…’
3) Sukses is nie so maklik soos wat dit lyk nie. Skeva se seuns het aan die einde van Paulus se loopbaan hulle verskyning gemaak. Hulle was nie aan die begin daar toe hy op die Damaskuspad verneder is nie, of toe hy vir drie-en-‘n-half jaar in die Arabasie woestyn opgelei is nie. Hierdie ouens het kortpaaie gesoek. Dis nie dat God jou nie onmiddellike sukses kan gee nie; dis omdat jy eers tyd, opleiding en in sommige gevalle, ‘n groot opknapping, nodig het om jou daarvoor voor te berei.
Sielskos: Eks 34:29-35; Mark 9:2-27; 2 Kor 3:7-18
2021-10-23
1 Johannes 4:4 NLV
Ons leer twee belangrike dinge by die sewe seuns van Skeva: 1) Satan weet wie jy is. Die bose gees in hierdie man het met die seuns van Skeva gepraat en gesê: ‘…Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie is júlle?’ (Handelinge 19:15 NLV). Vraag: Het jy die tipe verhouding met God wat veroorsaak dat Satan jou naam ken en erken dat jy ‘n krag is om mee rekening te hou? Miskien dink jy heeltyd aan jou eie ontoereikenheid, jy dink dat jy nie goed genoeg vir die werk is nie. Verstaan mooi: dis nie vir jou wat die vyand bang is nie – dis vir God se Gees wat binne-in jou woon waarvoor hy bang is!
2) Wanneer die ‘dag van onheil’ aanbreek, sal jy ontdek of jy dit het wat nodig is. Paulus het gesê: ‘Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan’ (Efesiërs 6:13 NLV). Die bose gees het die swakhede in die sewe seuns van Skeva herken en hulle van hulle valse voorwendsels gestroop.
Jy sal net oorleef as jou geloof opreg is, omdat jy eendag saam met God sal moet stap wanneer jy nie kan verstaan of verduidelik waarheen Hy jou neem nie. Jou tegnieke en talente sal jou nie daardeur bring nie. Jy gaan op sy Woord moet staan wanneer dit lyk asof dinge nie vir jou uitwerk nie. Dis dan wanneer jy sal ontdek dis nie: ‘…met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige’ (Sagaria 4:6 NLV).
Sielskos: Sef 1-3; Joh 6:1-24; Ps 85; Spr 24:11-14
2021-10-22
Handelinge 19:17 NLV
Die Bybel sê: ‘God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, hulle siektes verdwyn het. Selfs bose geeste het uit mense gegaan. Party rondreisende Joodse geesuitdrywers het ook probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik vir mense wat bose geeste gehad het. Die formule wat hulle probeer het was: ‘Ek dryf julle uit in die Naam van dié Jesus vir wie Paulus verkonding!’
Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ‘n senior Joodse priester, Skeva. Maar die bose gees het vir hulle gesê: ‘Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie is júlle?’ Die man in wie die bose gees was, spring toe onder hulle in. Hy was te sterk vir hulle en kry die oorhand oor hulle sodat hulle kaal en erg beseer uit daardie huis gevlug het. Dié gebeure het bekend geword… en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak’ (verse 11-17 NLV). Hierdie verhaal moet as waarskuwing dien vir diegene wat dink: ‘As hulle dit kan doen, kan ek dit ook doen!’.
Dis nie so nie. Tensy God jou roep en jou toerus om dit te doen, is die kans goed dat jy sal faal. God bemagtig jou nie om jou eie ding te doen nie; Hy bemagtig jou om sy ding te doen! Die waarheid is dat jy die naam van Jesus effektief kan gebruik: a) Wanneer jy Hom as jou Redder en Here erken. b) Wanneer jy ‘n intieme verhouding met Hom het. c) Wanneer jy op sy Woord staan en die beginsels daarin vervat, elke dag in jou lewe uitleef.
Wanneer jy dit doen, sal jy elke keer wanneer jy die Naam van Jesus gebruik, deur die gesag wat in sy Naam vervat is, beskerm en gevrywaar word.
Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 5:31-47; Ps 126; Spr 24:10