2021-11-02
Johannes 14:26 NLV
Eerstens, luister na die Heilige Gees binne-in jou. Hy sal jou aanhoudend aan God se plan herinner en jou wys hoe om dit uit te dra. Hy sal jou ‘…in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (vers 26 NLV). Wat het God se Woord jou opdrag gegee om te doen? Het jy dit al gedoen? Gehoorsaamheid is die deurgang na seën toe.
Tweedens, bestee daagliks tyd met God in gebed: ‘Want as gevaar dreig, sal Hy my wegsteek. Hy sal my in sy woning verberg… Dan sal ek my kop hoog oplig bokant my vyande wat my omring…’ (Psalm 27:5-6 NLV). Laat jy toe dat dinge wat nie regtig saak maak nie, jou oorweldig? Raak jy ontsteld oor dinge wat eintlik as onbenullighede afgemaak moet word? Bestee dan tyd alleen saam met God en laat Hom toe om jou perspektief te herstel.
Derdens, moet nooit te trots wees om raad en bystand op te soek nie. Die Bybel sê dat diegene van ons wat sterk is, die laste van die swakkes behoort te dra (sien Romeine 15:1). Daar is tye wanneer ons ander mense moet ophef en ander tye wanneer ons weer nodig het om opgehef te word. Jesus het ‘n vrou wat vir agtien jaar aan ‘n siekte gely het, wat haar kromgetrek het sodat sy nie meer kon regop staan nie, genees (sien Lukas 13:11 NLV). Soms het jy hulp nodig omdat jy nie jouself kan help nie. Dawid het dit verstaan en na die manne van Issaskar gedraai, want: ‘…Hierdie manne het die tye verstaan en geweet wat vir Israel die beste pad is’ (1 Kronieke 12:32 NLV). God het hulp voorsien – reik daarna uit!
Sielskos: 1 Kro 1-2; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 24:30-34
2021-11-01
Filippense 4:7 NLV
Die volgende gesegde word aan Moeder Teresa toegeskryf: ‘Ek weet dat God my niks sal gee wat ek nie kan hanteer nie. Ek wens net Hy het my nie so baie vertrou nie!’ Is dit hoe jy vandag voel? Asof daar te veel is om te doen en nie genoeg van jou om dit alles te doen nie? Dink dan na oor Romeine hoofstuk vyftien, vers dertien: ‘Ek bid dat dié God wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (NLV).
Die manier om vrede te midde van ‘n moeilike situasie te hê, is om deur die Heilige Gees vervul te bly. Hoe kan jy dit doen? Deur ‘n geestelike honger te ontwikkel en toe te laat dat God jou vul. Hy kan jou ‘n sin van kalmte gee wanneer jy deur stres omring word.
So, as jy dus vandag voel of jy verdrink, bid die volgende: ‘Vader, U het gesê dat geen wapen iets teen my sal kan uitrig nie (sien Jesaja 54:17). U het gesê dat wanneer ek enigiets volgens u wil vra, sal U my versoek toestaan (sien 1 Johannes 5:14-15). U het gesê wanneer ek in gehoorsaamheid wandel, ek geseën sal wees wanneer ek kom, wanneer ek gaan, wanneer ek gaan slaap en wanneer ek opstaan (sien Deuteronomium 28:6; Psalm 1:2; 3:6). U het gesê dat ek al my probleme aan U kan oorgee en dat U vir my sal sorg (sien 1 Petrus 5:7). Hier is hulle dus! Vandag staan ek op u beloftes. U het dit gesê! Ek glo dit! So sal dit wees! Amen.’
Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2021-10-31
1 Samuel 17:46 NLV
Goliat se voorvaders was Israel se jarelange vyande. Toe Josua die Beloofde Land binnegegaan het, het hy hulle almal uitgewis – behalwe die inwoners van Gat waarvandaan Goliat gekom het. Hoekom is dit belangrik om dit op te let? Want indien jy nie die vyand doodmaak en sy kop afkap nie, sal hy weer opstaan om teen jou te veg. Miskien stoei jy met dieselfde kwessies waarmee jou ouers en grootouers gesukkel het; dinge soos verslawing, huweliksprobleme, woede, bekommernis en depressie. Dawid het ‘…vyf gladde klippies in die spruit [gesoek] en… dit in sy slingersak [gesit]…’ (vers40 NLV).Daar is sekere ‘klippies’ wat jy saam met jou moet neem om die reuse in jou lewe te oorwin.
1) Wees meedoënloos. Dit mag dalk meer as ‘n dag, ‘n maand, of selfs ‘n jaar neem om resultate te sien. Met God se hulp sal jy egter oorwin, mits jy volhou.
2) Betrek God. God se prioriteit is sy reputasie en Dawid se doelwit was om sy naam te verdedig deur te verklaar dat Israel God se volk is (sien vers 47 NLV).
3) Hou aan bid en glo God vir jou oorwinning. ‘Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees…’ (Efesiërs 6:18 AFR86).
4) Onthou jou vroeër oorwinnings. Dawid het aangekondig: ‘Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!’ (1 Samuel 17:37 NLV). Wanneer jy vir die toekoms bang is, onthou God se getrouheid in die verlede. ‘Dink oor die wonders wat Hy gedoen het, die wonderwerke en die oordele wat Hy uitgespreek het’ (1 Kronieke 16:12 NLV).
Met God se hulp kan jy die reuse in jou lewe oorwin!
Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34
2021-10-30
Lukas 10:19 NLV
Toe hy uitgegaan het om teen Goliat te veg, het Dawid gesê: ‘…Jy kom na my toe met ‘n swaard en ‘n spies en ‘n dolk, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige… en Hy sal julle in ons mag oorgee!’ (1 Samuel 17:45,47 NLV).
Niemand in koning Saul se leër het God in die situasie ingebring nie, maar Dawid het oor niks anders gepraat nie. Hy het geglo dat die God wat hy dien, groter was as die reus waarvoor hy te staan gekom het. Glo jy dit ook? Sien jy God as groter as jou probleme? As jy in ‘n situasie is waar dit lyk of daar geen uitkomkans is nie, moet jy, in plaas van om tyd en energie te vermors om oor jou eie swakhede en tekortkominge te tob, op God se Woord staan en oor sy mag begin praat. Dawid het gesê: ‘…Die oorlog is die Here s’n…’ (vers 47 NLV). God het nog nooit ‘n geveg verloor nie!
Konfronteer dus jou reus in die Naam van die Here en verklaar: ‘Reus van skeisake, jy gaan nie my huis binnekom nie; depressie, jy sal my nie oorwin nie; alkohol, bevooroordeling, kindermishandeling, onsekerheid, wellus, jy gaan val!’ Die Bybel sê: ‘Van oos tot wes sal die Naam en die mag van die Here geëer word. Wanneer die teëstander aanstorm soos ‘n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop’ (Jesaja 59:19 AFR83).
Daar is drie dinge waarteen Satan nie staande kan bly nie: God se Woord, Christus se bloed en die Naam van Jesus. Wanneer jy daardie dinge gebruik, sal jy hom elke keer oorwin – soos Dawid vir Goliat laat omkap het!
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 7:25-44; Ps 104:27-35; Spr 24:29
2021-10-29
Psalm 116:12 NLV
Die sekerste manier om jou kind se vooruitsigte op ‘n gelukkige lewe te verwoes, is om aan elke gril en nuk van hom toe te gee, vir hom te leer dat die wêreld hom iets skuld, ‘n sin van geregtigheid by hom te kweek en hom onder geen omstandighede hard te laat werk en die bevrediging wat met dissipline, opoffering en goeie werk gepaardgaan, te laat ervaar nie.
In die klassieke boek, Little Women, vertel mev March die volgende verhaal aan haar dogters: ‘Eens op ‘n keer was daar vier meisies wat genoeg gehad het om te drink, te eet en aan te trek, baie gemak en plesier, vriendelike vriende en ouers gehad het, maar tog was hulle nie tevrede nie. Hierdie meisies het aanhoudend gesê: ‘As ons maar net dit gehad het,’ of ‘As ons maar net dat kon doen.’ Toe het hulle ‘n ou vrou gevra watter towerspreuk hulle kon gebruik wat hulle gelukkig kon maak. Sy het vir hulle gesê: ‘Wanneer jy ontevrede voel, dink aan al jou seëninge en wees dankbaar daarvoor.’ Hulle het haar raad uitprobeer en was gou verras om te sien hoe welaf hulle is.
Een meisie het ontdek dat geld nie hartseer uit ryk mense se huise kon hou nie; ‘n ander een het ontdek dat sy baie gelukkiger met haar jeugdigheid, gesondheid en opgewektheid was as ‘n sekere angstige, swak ou dame wat nie die lewe kon geniet nie; ‘n derde meisie het gevind dat, so onaangenaam soos wat dit was om aandete te moet maak, dit nog erger was om daarvoor te moet bedel. Dus het hulle besluit om op te hou kla en die seëninge wat hulle reeds in besit gehad het, te geniet.’
Die vraag is: ‘Hoe kan ek die Here vergeld vir al sy goeie dade aan my?’ Die antwoord is: Dankbaarheid!
Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 7:14-24; Ps 104:19-26; Spr 24:28
2021-10-28
Jesaja 30:21 NLV
Iemand het een keer geskerts: ‘Toe Columbus sy reis begin het, het hy nie geweet waarheen hy op pad is nie. Toe hy daar aangekom het, het hy nie geweet waar hy is nie. En toe hy tuis gekom het, het hy nie geweet waar hy was nie.’ Ons het almal hulp nodig om te weet watter rigting om in te slaan; of ons moet verhuis of nie, ‘n sekere werk moet aanvaar, ensovoorts. Goeie nuus! God sal jou lei en wanneer jy ‘n verkeerde afdraai vat, sal Hy jou weer op die regte pad bring.
Hier is drie maniere waarop Hy dit doen: 1) Deur wyse raad. Ander was al in dieselfde situasie as jy. ‘Onthou julle voorgangers… Dink aan watter voorbeeldige lewe hulle enduit gelei het en vertrou soos hulle op God’ (Hebreërs 13:7 NLV). Is jou besigheid in die moeilikheid? Gaan praat met ‘n suksesvolle entrepreneur. Ondervind jy ‘n middeljarekrisis? Voor jy iets doen waaroor jy gaan spyt wees, vra vir hulp. Salomo het gesê: ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV).
2) Deur gebed en om te luister na God se stem. Jesus het gesê: ‘My skape luister na my stem; en Ek ken hulle en hulle volg My’ (Johannes 10:27 NLV). Jesaja skryf ook: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.'” Dis die tipe gerusstelling wat jy nodig het. Dus: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles…’ (Filippense 4:6 NLV).
3) Deur die Skrif. Paulus sê: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (Kolossense 3:16 NLV). Dit beteken egter dat jy die Skrif moet lees, dit moet verpersoonlik en daarvolgens moet optree.
Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:1-13; Ps 104:1-18; Spr 24:26-27