2021-11-08
1 Konings 19:11 DB
Strewe na ‘n nuwe bewustheid van God se teenwoordigheid in jou lewe. Die derde ding wat God gedoen het toe Elia depressief was, was om vir hom te sê: ‘Gaan buitentoe… en begin solank die berg klim sodat jy naby aan die Here kan wees ‘ Ons lees verder: ‘Toe het ‘n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ‘n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie. Net na die aardbewing was daar ‘n verskriklike vuur, maar die Here was ook nie in die vuur nie. Na die vuur was daar ‘n groot stilte en iets soos ‘n stem wat fluister. Toe Elia dit hoor, het hy sy kleed om sy gesig gedraai en in die ingang van die spelonk gaan staan…’ (verse 11-13 DB).
Daardie dag het God ‘n indrukwekkende vertoning met wind, die aardbewing en vuur, gegee. Hy het egter nie met Elia deur enige van hierdie groot dinge gepraat nie. Wat Elia se aandag getrek het, was die stil stem – die fluistering. God praat gewoonlik in stilte met ons – nie deur ‘n groot, dramatiese demonstrasie van vuur of krag nie.
As jy dus depressief voel, neem jou Bybel en gaan na ‘n rustige, stil plek toe. Gaan sit, lees die Skrif en wees alleen saam met God. Laat Hom toe om jou eenvoudig lief te hê en met jou te praat. Laat Hom aan jou behoeftes voldoen en laat jouself toe om sy teenwoordigheid aan te voel. Daar is geen antidepressant wat effektiewer as kommunikasie en gemeenskap met God is nie. Dis wat Hy bedoel wanneer Hy vir jou sê: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV).
Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Joh 9:1-12; Ps 15; Spr 25:21-22
2021-11-07
1 Konings 19:9 NLV
Vertel God van jou frustrasies. Nadat hy deur ordentlike kos en rus versterk is, het Elia vir veertig dae gereis. Toe het hy ‘n grot binnegegaan en die nag daar deurgebring. In die oggend het die Here hom gevra: ‘…’Wat maak jy hier, Elia?’ Elia antwoord: ‘Ek het U met toewyding gedien, Here God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (verse 9-10 NLV).
Elia het sy gevoelens voor die Here uitgestort en God het hom toegelaat om stoom af te blaas. Hy was nie deur Elia se klagtes geskok nie. Soms is dit bevrydend om jou gevoelens met ‘n betroubare vriend te deel. Dis suiwerend, ‘n skoonmaaktegniek, ‘n uitlating van al die dinge wat jy onderdruk en wat by jou gevoelens van depressie bydra. Elia het baie gevoelens binne-in hom onderdruk.
Let op die emosies wat hy ervaar het. Hy was bang (sien vers 3). Toe het hy gegrief gevoel, gevolg deur ‘n lae selfbeeld en skuldgevoelens. ‘…Ek het nou genoeg gehad… ek is niks beter as my voorouers nie’ (vers 4 NLV). Hy was kwaad omdat hy hard gewerk het en niks bereik het nie (sien vers 10). Hy was eensaam tot op die punt van wanhoop: ‘…en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (vers 10 NLV). Hy was bekommerd. Wanneer jy vrees, gegriefdheid, ‘n lae selfbeeld, skuldgevoelens, woede, eensaamheid en bekommernis kombineer, vra jy vir depressie!
Dus het God hom toegelaat om daaroor te praat. Hy het gesê: ‘Elia, wat frustreer jou? Wat vreet aan jou?’ en Elia het alles voor Hom uitgestort. Wanneer jy dus depressief is, neem dit na God in gebed toe.
Sielskos: Eks 20:1-17; Matt 5:1-12
2021-11-06
1 Konings 19:7 NLV
Gee aandag aan jou fisiese behoeftes. Elia was uitgeput, dus het hy hom onder ‘n boom uitgestrek en aan die slaap geraak. ‘Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ‘n engel het hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet!’ Hy kyk op en dáár sien hy ‘n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ‘n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het weer gekom, hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees. Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink…’ (verse 5-8 NLV).
Jy kan jouself vir ‘n goeie saak uitput en bid tot jy blou in die gesig is, maar dit sal jou nie baat totdat jy leer om wysheid rakende die fisiese behoeftes van jou liggaam, uit te oefen nie. God se aanvanklike oplossing vir Elia se depressie, was om hom ‘n goeie maaltyd en ‘n ordentlike rus te gee. ‘n Goeie nagrus of ‘n vakansie doen wondere vir jou houding.
Wees wys; wanneer jy fisies en geestelik gedreineerd is, is jy kwesbaar. Let op dat God nie met Elia geraas het en vir hom gesê het: ‘Jou lafaard! Wat maak jy hier in die woestyn?’ nie. Nee, Hy het hom fisies herstel. Dit was die beginpunt. As jy dus depressief is, mag jou eerste stap na herstel wees om fisies na jouself om te sien. Sien na jou gesondheidsbehoeftes om. Miskien moet jy jou dieet verander, meer slaap inkry of begin oefen. Fisiese gesondheid het ‘n diepgaande effek op jou bui. Kan God jou in antwoord op jou gebede genees? Ja. (sien Jakobus 5:14). Hy verwag egter van jou om geloof – en wysheid! – te gebruik.
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Joh 8:42-59; Ps 123; Spr 25:18-20
2021-11-05
Matteus 26:40 NLV
In Getsemane het Jesus teruggekom ‘…by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: ‘So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie? Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie’ (vers 40-41 NLV). Jesus was net ure van die kruis af weg en het sy dissipels gevra om vir Hom te bid.
Dink net hoe teleurgesteld Hy was om hulle aan die slaap te vind! Miskien het hulle nie genoeg rus die vorige aand gekry nie. Miskien was hulle uitgeput na ‘n harde dag se werk. Ons was al almal slagoffers van lomerigheid, dus moet ons nie verbaas wees dat hulle aan die slaap geraak het nie, maar ons is! Ons is geskok, omdat dit so ‘n belangrike nag was. Hierdie nag, meer as enige ander nag, het die dissipline van gebed vereis. Die dissipels het ‘n groot geleentheid om Jesus in sy uur van nood te bemoedig en versterk, misgeloop. Hulle het ook die geleentheid om hulself te versterk, misgeloop.
Satan weet dat as hy jou van gebed kan weerhou, jy magteloos sal wees. Hy is die meester van afleiding. Dink hoe dikwels hy jou al van stiltetyd met God besteel het, deur dinge soos die televisie, die telefoon, die internet, ‘n deurmekaar huis of jou swaar ooglede te gebruik. Jou stiltetyd met God is nie iets wat jy by jou skedule probeer ‘inpas’ nie, dis iets wat jy moet prioritiseer, of dit sal nie gebeur nie. Jy weet nie wat elke dag vir jou inhou nie, maar deur gebed en om tyd met God se Woord te bestee, kan jy jou hart vir enigiets voorberei.
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17
2021-11-04
Hebreërs 10:38 NLV
‘n Klein seuntjie het by die Sondagskool die verhaal gehoor oor hoe Lot se vrou omgekyk het na Sodom toe en in ‘n soutpilaar verander het (sien Genesis 19:26). ‘Dis niks,’ het hy gesê. ‘Laas week toe my ma by die straat af ry, het sy omgekyk en haar kar in ‘n telefoonpaal verander!’ Op ‘n ernstiger noot, God sê: ‘…Maar dié wie se moed hulle begewe – van hulle wil Ek niks weet nie.’
In Hebreërs hoofstuk elf vind ons ‘n lys van gewone mense wat in die moeilikste tye geweier het om om te draai. Die Bybel sê: ‘As hulle terugverlang het na die land waaruit hulle oorspronklik getrek het, kon hulle maklik omgedraai en teruggegaan het. Hulle het egter gesmag na ‘n beter blyplek van hulle eie, ‘n plek in die hemel by God. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie. Om die waarheid te sê, Hy het vir hulle ‘n spesiale blyplek by Hom reggemaak’ (Hebreërs 11:15-16 DB).
As jy aan die begin van jou pad met God is, sal Satan elke truuk in die boek gebruik om jou van die pad af te bring. As jy in die middel van jou pad met God is, sal hy vir jou probeer vertel dat jou lewe nie tel nie. Moenie hom glo nie; hy is ‘n leuenaar! As jy naby aan die einde van jou pad met God kom, sal hy jou probeer ontmoedig deur al jou foute en mislukkings uit te lig. Moenie aandag aan hom gee nie! Staan eerder op hierdie Skrifgedeelte: ‘…ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms’ (2 Timoteus 1:12 NLV).
Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 25:8-12
2021-11-03
Romeine 1:12 NLV
Volgende keer wat jy in die bos stap, stop en dink wat onder jou voete aan die gang is. Soos die wortels van die bome aan mekaar konnekteer, vorm hulle ‘n ondersteuningstelsel. Een het toegang tot water, ‘n ander een tot voedingstowwe en nog ‘n ander een tot sonlig. Nie een enkele boom het alles nie, maar saam kan hulle groei, floreer en sterk teen die storms van die lewe staan. ‘…Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op’ (Efesiërs 4:15-16 NLV).
Sommige van ons onafhanklike tipes sukkel met hierdie konsep. Ons wil alleen vlieg – tot ons neerstort – en dan besef ons dat ons ‘n behoefte aan die volgende het: 1) Bemoediging. Selfs Paulus het bemoediging nodig gehad: ‘Soos jy weet, het al die Christene… my in die steek gelaat… Mag die Here ontferming aan Onesiforus en sy hele huishouding bewys, want hulle het my dikwels besoek en bemoedig. Hy was nooit skaam omdat ek in die tronk is nie. Toe hy na Rome toe gekom het, het hy oral gesoek totdat hy my gekry het’ (2 Timoteus 1:15-17 NLV).
2) Simpatie. ‘…Julle moet regtig jammer wees vir ander mense…’ (Kolossense 3:12 ABA). Ons almal het nodig dat ander ons verstaan en ons gevoelens bekragtig. Soms is ons egter so haastig om mense ‘reg te ruk,’ dat ons nie tyd het om met hulle te simpatiseer nie.
3) Genade. ‘…Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV). Jy sal nooit gevra word om meer genade aan iemand te bewys, as wat God reeds aan jou bewys het nie.
Sielskos: 1 Kro 3-5; Joh 8:1-20; Ps 96; Spr 25:1-7