Verheerlik God en geniet Hom hierdie jaar
2022-01-011 Korintiërs 10:31 NLV
In 1643 het die parlement in Engeland die Anglikaanse regeringstelsel in die Kerk van Engeland afgeskaf. ‘n Vergadering van honderd-en-twintig dominees en dertig leke is na die Westminster Abdy opgeroep om die Engelse kerk te herbou. Die dokumente wat uit daardie ses jaar lange vergadering voortgekom het, is van die bekendstes in die geskiedenis van die kerk. Die eerste vraag in die Korter Westminster Kategismus lees as volg: ‘Wat is die mens se hoofdoel?’ Antwoord: ‘Om God te verheerlik en Hom vir altyd te geniet.’
Die implikasies van daardie vraag en die antwoord daarop is diepgaande in hulle eenvoud. As jy wys is, sal jy dit ‘n bloudruk vir jou lewe hierdie komende jaar maak. Verheerlik God. Gehoorsaam God. Geniet God. Wanneer jy weet dat jou lewe God verheerlik, geniet jy sy teenwoordigheid, maar wanneer jy weet dat jou lewe God nie verheerlik nie, is jy geneig om Hom te vermy. Dis sleg, want wat is jou kans op ware sukses sonder God se teenwoordigheid in jou lewe? Nie goed nie!
Soos jy terugkyk op verlede jaar, is daar dinge waaroor jy spyt is omdat jy weet dat God nie daardeur verheerlik is nie? Wel, God gee jou ‘n nuwe jaar om dinge anders te doen. Indien jy nuwejaarsvoornemens maak, moet jy hulle op die fondasie van hierdie Skrifgedeelte baseer: ‘Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.’ As jy hierdie reël volg, sal jy op die regte pad bly en sal jy vrede en vreugde hê in die wete dat jou lewe die Here behaag. Maak nie saak watter omstandighede mag voorkom nie, jy sal hulle met vrede en selfvertroue in die gesig kan staar, omdat jy weet dat God by jou is.
Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14