2021-11-14
2 Korintiërs 3:5-6 NLV
Onsekerheid kan jou op die kantlyn hou. Wanneer jy voel dat jy ongekwalifiseerd en onwaardig vir sukses is, kan selftwyfel jou kanse om suksesvol te wees, saboteer. Die waarheid is dat dit onmoontlik is om vir lank op ‘n vlak wat teenstrydig is met hoe jy jouself sien, te lewe. Een van die grootste probleme met onsekerheid is dat dit amper onmoontlik is om dit te erken, dus hanteer jy dit nie en oorkom jy dit nie.
Hoekom is dit so? Omdat jy bang is dat ‘n erkenning van weerloosheid jou: 1) in ander mense se oë sal laat swak lyk, 2) jou kritici sal bekragtig en aanmoedig, en 3) jou mededingers ‘n voordeel sal gee.
Onsekerheid veroorsaak dat jy ander mense op ‘n afstand hou. Dit beteken dat jy sonder die raad en ondersteuning van die einste mense wie se bydrae jou kan help om sukses te behaal, lewe. Jy vind dit moeilik om ander mense te vertrou, omdat jy dit moeilik vind om jouself te vertrou! Dis nie ‘n nuwe verskynsel nie. Jou onsekerheid sal vir jou fluister: ‘As mense my regtig geken het, sou hulle my nie liefgehad het, gerespekteer het, gevolg het, uitgenooi het of in my belê het nie.’
Wat is dus die antwoord? Paulus skryf: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het…’ Die eerste stap om onsekerheid te oorkom, is om jou selfwaarde uit God te put en te leer om jouself deur sy oë te sien. Jy kan dit egter slegs doen deur daagliks tyd met Hom in gebed deur te bring en elke dag sy Woord te lees.
Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15-18; Matt 17:1-8; Hand 1:9-11
2021-11-13
1 Johannes 4:7 NLV
Wanneer ons bekendes tussen meervoudige huwelike sien beweeg en hulle van een verhouding na die ander sien spring, herinner dit ons dat jy charisma sonder karakter, talent sonder betroubaarheid en vaardighede sonder blywende krag, kan hê. ‘n Strokiesprent in ‘n tydskrif wys ‘n paartjie wat tydens hulle huwelikseremonie voor die dominee staan. Die dominee kyk na die paartjie en sê: ‘Die korrekte antwoord is: ‘Ek doen,’ nie ‘Dis seker ‘n probeerslag werd,’ nie.’
Liefde – in die huwelik en enige ander verhouding – verg onselfsugtigheid en toewyding van ons kant af. Anders as populêre opinie, kom dit nie maklik of natuurlik vir ons nie. Liefde is gesentreerd op ander en selfopofferend. Die waarheid is dat ons almal selfgesentreerd is; ons gee min in ons natuurlike self om om opofferings vir ander te maak, tensy ons hoogs gemotiveerd is en goed daarvoor beloon word.
Dis hoekom die Bybel ons leer dat een van die geheime om ‘n intieme verhouding met iemand anders te hê, is om ‘n intieme verhouding met God te hê. Johannes, die Apostel, skryf: ‘Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want ware liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik. Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God die liefde self is’ (verse 7-8 NLV).
As jy Hom vra om dit te doen, sal God daardie tipe liefde in jou hart plaas. Hier is hoe Hy dit doen: ‘…Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (Romeine 5:5 NLV). Hierdie tipe liefde groei soos ons dit volwasse laat word. Dit ontwikkel soos ons dit voed. Dit brei uit soos ons daarin volhard. Hierdie tipe liefde het blywende krag!
Sielskos: 2 Kro 1-4; Joh 10:22-42; Ps 83:1-8; Spr 26:13-16
2021-11-12
Josua 5:14 NLV
God het in die Nuwe Testament verskillende dinge aan elk van die sewe gemeentes in Openbaring beklemtoon. Hoekom? Omdat elkeen van hulle ‘n ander opdrag en verskillende uitdagings gehad het. Dis wys om goeie boeke te lees en na goeie mentors en onderwysers te luister, maar moenie aanneem dat dit wat God vir hulle gesê het, dieselfde is as wat Hy vir jou sê nie. Daar is tye wat jy self van Hom moet hoor.
Dis hoekom dit partykeer moeilik vir God is om tot predikers deur te dring. Wanneer Hy persoonlik met hulle oor ‘n spesifieke saak in hul eie lewens wil praat waaraan hulle aandag moet gee, gee hulle die boodskap ‘n inleiding, drie punte en ‘n gevolgtrekking – en preek dit dan eerder aan die gemeente as om dit self toe te pas! Paulus het geskryf: ‘Wat ons betref, ons sal nie buite perke trots wees nie. Ons bly binne die perk van die grense wat God vir ons uitgemeet het…’ (2 Korintiërs 10:13 NLV).
Jou outoriteit en seën hang daarvan af dat jy is waar God wil hê jy moet wees, besig om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Wanneer jy deur jou ego, of ander mense se verwagtinge, of ‘n doelwit wat God vir iemand anders gegee het, aangedryf word, stel jy jouself vir mislukking oop. Jy moet self by God hoor.
As God vir jou ‘n opdrag gegee het, word daar vir jou grense gestel! Jy kan nie net gaan waar jy lus het of doen wat jy wil nie, vra dus vir God om jou werk met sukses te kroon. As jy op die verkeerde plek is, besig om die verkeerde ding te doen, moet jy nie toelaat dat trots jou daar hou nie. Bid die volgende: ‘…Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?’ Doen dit dan!
Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 10:11-21; Ps 133; Spr 26:7-12
2021-11-11
2 Korintiërs 2:11 NLV
Een van Satan se gunsteling planne is om ons sover te kry om normale dinge op ‘n abnormale manier te gebruik. Gedurende die versoeking in die woestyn, het hy probeer om Christus se hongerpyne tot sy voordeel te gebruik deur te sê: ‘…beveel hierdie klippe om brode te word’ (Matteus 4:3 NLV). Jesus het egter die Skrif geken, dus het Hy geantwoord: “…Nee! Daar staan in die Skrif geskryf: “‘n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond'” (vers 4 NLV).
Ons almal het geld nodig, maar Satan sal jou in die versoeking bring om op jou belastingopgawe te kul, jou werk af te skeep of jou tiende te weerhou. Ons is almal met die behoefte aan geselskap en seksuele vervulling geskape. Satan sal jou egter in die versoeking bring om aan hierdie behoeftes te voldoen deur ‘n buite-egtelike verhouding te hê of om jou in aanlyn pornografie vas te vang. Ons almal wil graag suksesvol in ons beroepe wees. Satan sal jou egter in die versoeking bring om sukses te behaal deur te lieg, te manipuleer of iemand anders se lig te demp sodat jou lig helderder kan skyn.
Een van sy oudste planne is om ons verward oor ons waardes te maak, sodat goeie dinge boos voorkom, of bose dinge goed voorkom. Wat is dus die antwoord? Paulus sê: ‘Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek’ (Efesiërs 6:11 NLV). Daar is net een manier om Satan te ontmasker en sy planne te oorwin, en dis deur ‘n hegte wandel met God, daaglikse bestudering van die Skrif en ‘n konsekwente gebedslewe. Dis hoe jy oor jou gedagtes, jou mond en jou morele waardes, waghou.
Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Joh 10:1-10; Ps 99; Spr 26:1-6
2021-11-10
Jeremia 31:3 NLV
Kom ons kyk na die tipe praatjies wat tot depressie lei en ons daarin vasgevang hou. In plaas daarvan om byvoorbeeld te sê: ‘Ek het ‘n fout gemaak,’ sê ons: ‘Ek is ‘n totale mislukking.’ In plaas daarvan om te sê: ‘Ek het gestruikel,’ sê ons: ‘Ek is so lomp.’ In plaas daarvan om te sê: ‘Ek het te veel geëet,’ sê ons: ‘Ek is so ‘n vraat.’
Wanneer ons sulke etikette om ons nekke hang, versterk ons net ons probleme en laat ons ons self slegter voel. Laat God toe om die skadelike wanpersepsies wat jy van jouself het, te verander, soos: 1) ‘As iemand my kritiseer, beteken dit ek is waardeloos,’ of 2) Almal moet my liefhê en aanvaar, voordat ek vervuld sal voel,’ of 3) ‘Ek kan nie erken dat ek swakhede het nie; ek moet perfek wees, andersins is ek ‘n mislukking.’ Hierdie tipe wanpersepsies kan depressie veroorsaak.
Jesus het die belangrikheid van korrekte denke geken toe Hy gesê het: ‘…julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). Die goeie nuus is dat jy sonder depressie kan lewe!
Hoe? Deur ‘n persoonlike verhouding met Christus te vestig. Dit mag dalk nie outomaties al jou depressie genees nie, maar sonder Hom in jou lewe, het jy nie die krag om te verander nie. Wanneer Christus in jou lewe kom, gee Hy vir jou ‘n nuwe doelwit, nuwe krag en ‘n nuwe perspektief. Jy het nodig om vir iets groter as jou eie belange te leef. Mense wat net vir hulself leef, is gewaarborg om depressief op te eindig. Jy het iets groter nodig; iets wat jou uit jouself uit kan bring. Hierdie iets is ‘n verhouding met Jesus Christus. Deur Hom kan jy depressie oorwin.
Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Joh 9:24-41; Ps 115; Spr 25:26-28
2021-11-09
1 Konings 19:15 NLV
Laat God jou ‘n nuwe rigting gee. God het vir Elia gesê om na die woestyn van Damaskus te gaan om ‘n nuwe koning, sowel as ‘n nuwe profeet om hom op te volg, te salf (sien verse 15-17 NLV). Met ander woorde, Hy het vir Elia ‘n nuwe opdrag gegee.
Hou op om in selfbejammering rond te sit. Neem jou oë van jouself af en begin na die behoeftes van ander mense kyk. Raak by hulle lewens betrokke deur ‘n bediening waardeur jy kan gee en waar God deur jou kan gee. As jy konstant na jouself kyk, sal jy ontmoedig word. Jesus het gesê dat jy jou lewe moet verloor om dit te vind (sien Matteus 16:25).
Jy sê: ‘Maar ek het ‘n groot mislukking gemaak en ek is teleurgesteld in myself. God is sekerlik ook teleurgesteld in my.’ Teleurstelling vind net plaas wanneer iemand van jou verwag om iets anders te doen as wat jy reeds doen. Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën, maar het hom nog steeds geroep. Hoekom? Omdat Hy geweet het dat Petrus deur die ervaring sou leer en groei en na groter dinge sou aanbeweeg.
God wil vir jou ‘n nuwe doelwit en rigting gee. Hy is nie klaar met jou nie. As jy Hom toelaat, sal God jou optel en jou help om oor te begin. Een fout – of ‘n honderd foute – maak jou nie vir die res van jou lewe nutteloos nie. Vandag wil God jou uit jou depressie oplig. Hy kan jou help. Hy kan jou verander. Jy hoef nie deur die lewe te gaan met jou emosies wat jou manipuleer nie. Jou emosies word deur jou gedagtes beheer en met God se hulp, kan jy hoe jy dink en dit waaroor jy dink, verander!
Sielskos: 1 Kro 16-18; Joh 9:13-23; Ps 105:1-15; Spr 25:23-25