2021-11-20
Psalm 25:8 NLV
Hoe sal jy ‘goedheid’ of ‘die goeie lewe’ definieer? Die Franse filosoof, Jean-Jacques Rousseau het geluk as: “‘n Goeie bankbalans, goeie kos en ‘n goeie spysverteringstelsel,” gedefinieer. Sommiges sal sê dat die goeie lewe fisies van aard is. Hulle dink dat daar niks beters as ‘n lang, warm bad, ‘n rugmassering of ‘n drankie in die kroeg is nie. Ander mense sal weer sê dat die goeie lewe materieel van aard is. Hulle dink as jy ‘n herehuis, ‘n Mercedes en geld het, dat jy die goeie lewe geniet.
Goedheid gaan egter nie daaroor om goed te voel, goed te lyk, of goed te besit nie. Dit gaan daaroor om goed te wees en goed te doen. Net soos ons ‘n horlosie nodig het om tyd aan te dui en ‘n liniaal nodig het om afstand te meet, so het ons ‘n universele standaard nodig om goedheid te bepaal. Ons het een. God! Sonder ‘n algemene aanvaarde standaard vir goedheid, word dit ‘n grys area en kom dit op opinie neer.
Hitler het gedink dat die uitwissing van die Joodse ras ‘n ‘goeie ding’ was. Selfmoordbomaanvallers dink dat dit ‘n ‘goeie ding’ is om onskuldige mense dood te maak. Sulke denke kan nie teengestaan word met ‘n eenvoudige: ‘Dis nie ‘n goeie ding’ nie. Wat weerhou Hitler of ‘n selfmoordbomaanvaller dan daarvan om te sê: ‘Wel, dis net jou opinie’?
Die woord ‘goed’ stam van ‘n ou Engelse woord met dieselfde konnotasie as God, af. Dit beteken letterlik: ‘Om soos God te wees.’ Die Engelse woord ‘Goodbye,’ is die verkorte weergawe van: ‘God be with ye.’ Die universele standaard vir goedheid kan net deur iemand wat universeel goed is, bepaal word en die enigste Een wat dit kan wees, is God. Dink daaroor!
Sielskos: 2 Kro 22-24; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9
2021-11-19
Johannes 7:24 NLV
John Wesley het gesê: ‘Ons moet onsself streng oordeel en genadig wees wanneer ons ander mense oordeel.’ Hoekom het Jesus gesê: ‘Moenie oordeel net op wat julle sien nie; oordeel billik’ (vers 24 NLV)? Omdat Hy die pyn van verwerping en misverstand ervaar het. ‘Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie’ (Johannes 1:11 NLV).
Die apostel Jakobus skryf: ‘My liewe broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus… terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer?.. As julle dan ‘n ophef maak van die persoon met die deftige klere… maar vir die arm man sê julle:… ‘Kom sit hier op die vloer,’ sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?.. as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde…’ (Jakobus 2:1, 3-4, 9 NLV).
Die storie word vertel dat die country sanger Lonzo Green se neef, Jimmy, hom gevra het om ‘n vriend se kitaar in te stem. Die probleem was dat Jimmy se vriend aan die ‘verkeerde kant van die treinspoor’ gewoon het en Jimmy se ouers wou hom nie in hulle huis toelaat waar oom Lonzo gekuier het nie. Dus het hulle besluit om mekaar buite te ontmoet. Soos die jong vriend nader gestap het, het Green sy selfbewustheid opgemerk. Lonzo, wat self armoede en diskriminasie in sy eie lewe ervaar het, het die seun se kitaar gestem, ‘n paar liedjies gespeel en hom ‘n paar akkoorde geleer. Die jong man het hom bedank en met ‘n warm herinnering vertrek. Uiteindelik het die seun die treinspoor finaal met sy kitaar, sagte stem en huiwerige glimlag oorgesteek en was nooit weer onwelkom nie. Die seun wat daardie dag nie in die huis toegelaat is nie, was niemand anders as Elvis Presley nie!
Sielskos: 2 Kro 19-21; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 27:4-6
2021-11-18
Genesis 32:31 NLV
Die Bybel vertel ons van Jakob: ‘…Dáár kom hy ‘n man teë wat met hom worstel. Tydens die gestoei kry die man nie die oorhand oor Jakob nie en slaan hom op sy heup sodat dit uit die potjie spring. Toe sê die man: ‘Los my, want dit word dagbreek.’ Uitasem sê Jakob: ‘Ek sal jou nie laat gaan nie tensy jy my seën.’ ‘Wat is jou naam?’ sê die man. Hy antwoord: ‘Jakob.’ ‘Jou naam sal nie meer Jakob wees nie,’ sê die man vir hom. ‘Van nou af is dit Israel, want jy het met God en mens geworstel en volhard’… Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: ‘Ek het God persoonlik gesien…’ Die son het opgekom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af was hy mank aan sy heup’ (verse 24-28, 30-31 NLV).
Dink net hoe belangrik ‘n heupbeen vir ‘n boer soos Jakob was. Dit was iets waarop hy elke dag gesteun het en nou was hy swak in ‘n area waarop hy trots was om sterk te wees. Gevolglik moes Hy op God, soos nog nooit tevore nie, begin staatmaak. God het kinders soos Jakob wat mank loop, en jy mag dalk een van hulle wees. Miskien het jy ‘n pynlike mislukking beleef en omdat mankheid nie iets is wat jy kan wegsteek nie, kom mense dit agter.
God is lief daarvoor om gebreklike mense te gebruik, want wanneer hulle sukses behaal, is hulle nie arrogant soos ander wat dink dat hulle die sukses verdien, nie. Hulle is ‘n bietjie meer gewillig om uit te reik en ander mense te omhels. Hulle verstaan dat hulle dit sonder God nie sou gemaak het nie. Wanneer jy geestelik mank loop, moet jy meer op God staatmaak. Dis nie ‘n las nie – dis ‘n bate!
Sielskos: 2 Kro 16-18; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 27:1-3
2021-11-17
Filippense 1:12 NLV
Kort voordat hy tereggestel is, het Paulus geskryf: ‘Julle moet weet, liewe broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot ‘n deurbraak vir die Goeie Nuus. Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus. En die meerderheid medegelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in God versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees’ (verse 12-14 NLV). Lateraan het hy geskryf: ‘Wees altyd bly… (Filippense 4:4 NLV). Paulus het ‘n positiewe geestelike gesindheid gehad. Hy kon nie sy omgewing beheer nie, maar hy het ‘n gesindheid gekies wat hom in staat gestel het om sy omstandighede te oorkom.
Wanneer jy mense ontmoet, sê jy vir jouself dat hulle jou in die steek gaan laat? Wanneer jy voor nuwe ervarings te staan kom, sê ‘n stem binne-in jou dat jy gaan misluk? Een middag toe hy in die park gestap het, het ‘n man op ‘n bofbalwedstryd afgekom. Hy het gestop en vir een van die seuntjies gevra wat die telling is. Die seuntjie het geantwoord: ‘Agtien teen niks – ons is agter.’ Die man het gesê: ‘Julle is seker moedeloos.’ Die seuntjie het geantwoord: ‘Hoekom sal ek moedeloos wees? Ons het nog nie eers ons beurt gehad om te kolf nie!’
Wat ‘n verskil kan ‘n gesindheid van geloof nie maak nie! Die laaste woorde in die Bybel is as volg: ‘Die genade van die Here Jesus sal by almal wees’ (Openbaring 22:21 NLV). Besit ‘n gesindheid van geloof – God sal jou die genade gee om dit te hanteer!
Sielskos: 2 Kro 12-15; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 26:27-28
2021-11-16
Markus 9:29 AFR53
Staan jy voor ‘n probleem wat gebed nog nie opgelos het nie? Het jy ‘n geliefde wat deur dwelms, alkohol of ‘n ander destruktiewe krag gevange geneem is? Probeer om te bid – en te vas. Soms is die geestelike geveg waarin jy is so intens, dat dit nodig is om jou liggaamlike behoeftes te ontken en jou geloof deur gebed en deur te vas op te bou, sodat jy kan seëvier.
Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Ek verseker julle, wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen…’ (Johannes 14:12 NLV). Tog, toe die dissipels met ‘n bose gees wat in ‘n seun met selfvernietigende neigings woon, gekonfronteer word, was hulle teleurgesteld omdat hulle gebid het en daar niks gebeur het nie. Toe hulle vir Jesus vra hoekom, het Hy vir hulle gesê: ‘…Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.’
Toe die Joodse volk met uitwissing bedreig is, kon net die koning hulle red. Dus het Ester gesê: ‘Gaan maak al die Jode wat jy in Susan kan kry bymekaar. Vas ter wille van my… Ek en my diensmeisies sal ook vas. Al is dit in stryd met die wette sal ek na die koning toe gaan…’ (Ester 4:16 NLV). Gevolglik is Haman, wat hulle uitwissing beplan het, aan sy eie galg opgehang en die hele Joodse volk is gered.
Daar is tye in jou lewe wat jy vir jou fisiese behoeftes nee moet sê sodat jy op jou geestelike behoeftes kan fokus. Om te vas verskerp jou fokus in gebed, versterk jou geloof, berei jou vir ‘n uitdaging voor en bring wonderbaarlike resultate mee. Om te vas gaan daaroor om ‘n eensgesindheid in jou soeke na God se hulp te hê – en dit bring groot resultate mee.
Sielskos: 2 Kro 8-11; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 26:23-26
2021-11-15
2 Korintiërs 9:8 DB
As jou sin van selfwaarde van enige ander bron as God – insluitend jouself – af kom, is die kans goed dat jy altyd met onsekerheid sal worstel. Dis hoekom Paulus skryf: ‘Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help…’ Solank as wat jy op jouself of ander mense staatmaak, sal jy met onsekerheid en selftwyfel sukkel.
Sodra jy egter begin om God te vertrou – wat Hy in jou, met jou, deur jou en vir jou kan doen – sal jy anders oor jouself begin voel. Onsekerheid vernietig jou selfbeeld deur jou ongekwalifiseerd en onwaardig te laat voel. Die ergste daarvan is dat dit dikwels beteken dat jy nie geleer kan word nie, nie eerlike kritiek kan aanvaar nie en dat jy as gevolg daarvan, nie kan groei nie.
Dit wat jy die meeste nodig het – goeie insette – word die laaste ding wat jy gewillig is om te aanvaar, omdat jy bang is dat mense sal agterkom dat jy nie perfek is nie. Gevolglik vind jy dit moeilik om uitdagings aan te pak en geleenthede wat oor jou pad kom, aan te gryp. Diep binne-in jou voel jy onbekwaam, onaanvaarbaar, afkeuringswaardig en verwerp. Met dit in gedagte, neem nou eerlik jou lewe in perspektief. Gaan voort; dis veilig, niemand kyk vir jou nie! Die enigste persoon wat hieruit voordeel sal trek, is jy. Draai dan na God toe en sê: ‘Here, alles wat ek in die lewe nodig het om sukses te behaal, het ek in U!’
Sielskos: 2 Kro 5-7; Joh 11:1-16; Ps 83:9-18; Spr 26:17-22