2021-11-26
1 Timoteus 5:22 NLV
Voor Dawid Israel se koning geword het, het hy vir jare lank na skape in die woestyn omgesien. Dis nie ‘n baie indrukwekkende begin nie. Dis egter daar waar hy sy verhouding met God opgebou het en sy vaardighede as ‘n strateeg en vegter geslyp het.
As jy sukses wil behaal, moet jy hierdie onveranderlike beginsel verstaan: God sal jou op ‘n plek waar daar aan jou swakhede gewerk kan word, waar jou gawes ontwikkel kan word en waar jou foute ander mense nie te veel sal affekteer nie, laat oefen.
Een Bybelonderwyser vertel van ‘n vlieënier wat instruksies van die beheertoring ontvang het: ‘Jy kan tot vyfduisend voet styg.’ Toe hy daar kom, is daar vir hom gesê om sy hoogte te hou tot verdere instruksies. Toe kom die woorde: ‘Jy kan tot tienduisend voet styg.’ Geleidelik het die beheertoring hom tot by dertigduisend voet gebring, van waar hy reg was om tot by sy bestemming te vlieg. Daardie dag het God met hom gepraat en gesê: ‘Ek wens jy wil my ook so vertrou. Jy wil egter met een slag dadelik tot op dertigduisend voet styg!’
God sien die einde van die begin af en Hy het ook reeds jou roete uitgewerk. Hy weet dat indien jy te vinnig opstyg, daar gevare kan wees. Jy mag dalk in die kajuit wees – maar God is in die beheertoring! Vandag sê Hy vir jou: ‘Vertrou my en Ek sal jou veilig by jou bestemming uitbring.’ God se plan vir jou lewe kan nie aangejaag word nie. Wanneer jy te vinnig probeer opgang maak: 1) maak jy duur en pynlike foute, 2) beïnvloed jy die mense wat op jou staatmaak se lewens op ‘n negatiewe wyse, en 3) beland jy in ‘n toutrekkery met God, wat jy gaan verloor!
Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:31-38; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27
2021-11-25
Eksodus 33:21 NLV
God het vir Moses gesê: ‘…Ek sal jou iets van my goedheid laat sien…’ (vers 19 NLV). Om egter hierdie belofte tot vervulling te sien kom, moes Moses reg geposisioneer wees, dus het God gesê: ‘…Kom staan… hier by My.’ Wanneer jy in die plek wat God vir jou aangewys het lewe, kan jy hierdie belofte van Hom opeis: ‘…Ek sal jou iets van my goedheid laat sien…’
Hoekom sou die Verlore Seun sy pa se huis verlaat het as alles wat hy nodig gehad het, daar was? Want: 1) Hy wou sy vader se seën gehad het, maar nie sy gesag nie. Jesus het gesê: ‘Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie?’ (Lukas 6:46 NLV).
Waarom inderdaad! 2) Hy het sy vader se seën as vanselfsprekend aanvaar. God het die Israeliete gewaarsku: ‘wees versigtig om nie die Here te vergeet nie. Dit is Hy wat jou van die slawerny in Egipte gered het’ (Deuteronomium 6:12 NLV). Toe hulle die Jordaanrivier oorgesteek het, het God vir hulle gesê om twaalf klippe, een vir elke stam, saam te neem en ‘n gedenkteken op te rig. Hoekom? Om hulle te herinner wie hulle was, wie Hy was en om hulle aan sy verbond met hulle te herinner.
3) Hy het nie die gevaar besef wat daar buite vir hom gewag het nie. Gevolglik het hy in ‘n varkhok opgeëindig. Die pad wat jou van God af wegneem, mag dalk plesierig begin, maar dit eindig altyd in pyn op. Lewe volgens hierdie Skrifgedeelte: ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Posisioneer jouself om God se seën te ontvang.
Sielskos: 2 Kro 35-36; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 27:20-22
2021-11-24
Psalm 37:33 DB
Wanneer God jou ‘n visie of ‘n belofte vir jou lewe gee, is dit soos ‘n saadjie; dit het tyd nodig om wortel te skiet voordat dit vrugte kan dra. Dis soos die geboorte van ‘n baba. Eers die saad, dan die swangerskap, dan die ontwikkeling in die baarmoeder en uiteindelik die dag van geboorte. Wat doen die ma gedurende hierdie tyd? Sy berei voor! Sy maak haarself vir al die uitdagings en verantwoordelikhede van ouerskap gereed.
Jy mag dalk dink dat jy gereed is, maar God weet wanneer jy gereed is. Alhoewel hy reeds as koning gesalf was, moes Dawid sewe jaar wag totdat God vir Saul van die troon verwyder het. Gedurende daardie jare het hy waardevolle lesse geleer. Hier is een van hulle: ‘Hou die Here se hand styf vas; doen net wat Hy sê. Op die regte oomblik sal Hy jou hoog bo al jou probleme uitlig. Hy sal sorg dat reg aan jou geskied…’ (Psalm 37:33 DB).
Jy moet die verskil tussen wat jy kan doen en wat God kan doen, leer. As jy dit nie wil waag om die vervulling van God se plan vir jou lewe te vertraag nie, moet jy Hom nie vooruitloop nie. ‘…Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word. Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie’ (Habakuk 2:3 NLV).
God het ‘n tyd beplan om twee dinge in jou lewe te laat geskied: sy beloftes en jou visie. Daar is groot vrede in die wete dat niks wat die vyand doen, hierdie twee dinge kan vooruitloop nie. Wanneer jy dus ongeduldig raak, onthou die volgende: ‘My lewe kan nie eindig voordat hierdie plaasgevind het nie. God het so gesê en Hy sal dit doen!’
Sielskos: 2 Kro 32-34; Joh 13:1-17; Ps 95; Spr 27:17-19
2021-11-23
Matteus 13:28 NLV
Jesus het gesê: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ ‘Dis ‘n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit… Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word…'” (verse 24-30 NLV).
Daar is twee belangrike lesse hieruit te leer: 1) Jy moet God se Woord so goed ken dat leuens, maak nie saak hoe oortuigend dit voorgehou word nie, jou nie kan mislei nie. Paulus het die leiers van die kerk in Efese gewaarsku: ‘Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom: Wakkerloop!..’ (Handelinge 20:30-31 NLV).
2) Jy moet geestelik wakker en op jou hoede wees. Let op dat die sade wat daardie aand gesaai is, eers baie later as onkruid opgekom het. As jy, geestelik gesproke, vir lank genoeg op die verkeerde baan bly, sal jy ver van waar God jou wil hê opeindig en sal jy besef: ‘Dis ‘n vyand se werk!’ Wat is dus die antwoord? ‘Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede’ (Handelinge 2:42 NLV).
Sielskos: 2 Kro 29-31; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16
2021-11-22
2 Konings 12:15 NLV
Ons lees in die Ou Testament dat toe koning Joas die tempel herstel het, is: ‘Die geld wat na die tempel toe gebring is… aan die werksmense betaal om die tempel te herstel. Daar is nie boekgehou van die geld wat aan die toesighouers van die bouery gegee is nie, want hulle was eerlik en getrou’ (verse 13-15 NLV). Omdat integriteit beoefen was, was Israel voorspoedig.
James Madison, een van die ondertekenaars van die Amerikaanse Grondwet, het geskryf: ‘Die doel van elke politieke grondwet behoort te wees om wyse mense met groot deug te identifiseer om die gemeenskaplike welsyn van die samelewing na te streef; en om in die tweede plek die mees effektiewe maatreëls te tref om hulle deugsaamheid aan te moedig, terwyl hulle openbare vertroue bou.’
Deesdae wys die meeste opnames dat ons vertroue in ons politieke en besigheidsleiers die laagste ooit is. Ons glo dat hulle net twee dinge in gedagte het: om ryk te word en aan bewind te bly. Ongelukkig word goeie leiers ook oor dieselfde kam geskeer. Wat moet jy dus doen?
1) Bid vir diegene in gesag. Gebed is die kanaal waardeur God se mag op aarde geopenbaar word. As jy dit glo, sal jy bid.
2) Stem vir godvrugtige leierskap. Die Bybel sê: ‘Regverdigheid maak ‘n volk sterk. Sonde bring skande oor ‘n volk’ (Spreuke 14:34 NLV). As jy nie stem nie, gee jy jou reg prys om kritiek te lewer.
3) Raak persoonlik betrokke. Edmund Burke het glo gesê: ‘Al wat nodig is vir die bose om te triomfeer, is dat goeie mense niks doen nie.’ Een persoon, plus God, kan dinge verander. Strewe dus daarna om daardie persoon te wees!
Sielskos: 2 Kro 25-28; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12
2021-11-21
Spreuke 15:26 NLV
Soms sê ons grappenderwys vir mense: ‘Gedra jou en as jy nie kan nie, wees op jou hoede!’ Die idee daaragter is dat indien jy besluit om jou nie te gedra nie, jy seker moet maak dat jy slim genoeg is om nie uitgevang te word nie.’ Ons gebrek aan goeie, morele gedrag is egter in realiteit geen grap nie.
In die woorde van Robert Fitch: ‘Ons lewe in ‘n tyd waar etiek uitgedien geraak het. Moraliteit word deur wetenskap vervang, deur filosofie verwyder en as emosioneel deur die sielkunde afgemaak. Dit verdrink in medelye, verdamp in estetika en eindig kort voor relativisme. Die gewone morele onderskeid tussen goed en sleg word bloot gebaai in sentimentele emosies waardeur ons meer simpatie vir die moordenaar as die vermoorde en vir die egbreker as vir die verraaide toon. Ons begin eintlik glo dat die werklike skuldige party – die een wat dit op die een of ander manier veroorsaak het – die slagoffer en nie die oortreder is nie.’
Dit is ontnugterende gedagtes. Dinge wat eens op ‘n tyd as wit en swart gesien is, word nou as grys gekategoriseer. Goeie, morele gedrag, wat altyd aan ‘n universele standaard voldoen het, is nou ‘n saak van persoonlike interpretasie en voorkeur. Jy mag dalk op die oomblik dink: ‘Ek lees elke dag hierdie dagstukkies om iets daaruit te kry wat my beter laat voel en dit doen nie vandag die werk nie.’ Dit is die hele punt! Om goed te kan voel, sê die Bybel dat jy moet oefen om goed te doen en goed te wees, om sodoende God te behaag.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3; 2 Kor 9:15