Laat hulle kritiek jou versterk

2021-12-02
Rigters 7:11 NLV

Word jy gekritiseer? Het dit jou selfvertroue beïnvloed? God het vir Gideon gesê: ‘As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan. Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry’ (verse 10-11 NLV).

Hoekom het God vir Gideon en sy helper na die vyand se kamp toe gestuur? Om te hoor wat hulle sê en om Gideon te bemoedig. Toe hulle daar aankom, was een van die soldate besig om sy vriend van sy droom te vertel: ‘…’daar kom ‘n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ‘n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.’ Sy maat het geantwoord: ‘Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon… nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.’ Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die Here gedank…’ (verse 13-15 NLV).

Soms wanneer jy aanmoediging nodig het, is dit goed om aandag te gee aan wat jou kritici sê. Jy is besig om ‘n verskil te maak – andersins sou hulle jou nie eers opgemerk het nie. God het vir elke geveg ‘n strategie. Moet dus nie net vir oorwinning bid nie; vra God om vir jou die wen-strategie te wys. Die Bybel sê: ‘As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs…’ (Psalm 127:1 NLV). As God dus, soos met Gideon, met jou praat en jy is te bang om daarvolgens aksie te neem, staan op hierdie belofte: ‘Ek is dan saam met jou!.. Jy sal al die [vyande] verslaan asof jy net teen een man veg’ (Rigters 6:16 NLV).

Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 28:17-20

Die redes vir jou ontevredenheid

2021-12-01
Jeremia 2:13 NLV

Kom ons neem ‘n oomblik en probeer om die redes vir ons ontevredenheid te verstaan: 1) Ons soek geluk op die verkeerde plekke. God het gesê: ‘My volk het twee sondes gedoen: Hulle het My verlaat, die fontein wat lewe gee, en hulle het vir hulle bakke uitgekap, bakke wat nie water hou nie’ (vers 13 NLV). Daar is ‘n leegheid binne jou wat slegs God kan vul. Hy sal dit doen, mits jy Hom innooi.

2) Ons staan nie in diens van ander nie. Hoe ons ander mense behandel, is dikwels ‘n refleksie van hoe ons oor onsself voel. Die filosoof en digter Eric Hoffer het gesê: ‘Die merkwaardige ding is dat ons werklik ons naaste liefhet soos onsself; ons doen aan ander soos ons aan onsself doen. Ons haat ander wanneer ons onsself haat. Ons is verdraagsaam teenoor ander wanneer ons onsself verdra. Ons vergewe ander wanneer ons onsself vergewe. Ons is geneig om ander mense op te offer, wanneer ons gereed is om onsself op te offer. Dis nie net self-liefde nie, maar ook self-haat wat die wortel is van die probleme wat ons wêreld teister.’

3) Ons vergelyk onsself met ander. Paulus het geskryf: ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle…’ (Romeine 12:15 NLV). Wanneer jy oor iemand anders se prestasies of seëninge wrokkig is, sypel vreugde soos deur ‘n sif uit jou lewe uit. Die Bybel sê: ‘Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam… Ons het gawes wat van mekaar verskil… Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:4-6 NLV).

Sielskos: Jos 11-13; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 28:13-16

Jy word getoets

2021-11-30
Psalm 105:19 DB

God mag dalk nie presies wanneer jy dit wil hê reageer nie, maar Hy is altyd betyds. ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Dis moeilik om toe te kyk hoe God ander mense seën, terwyl jy gedwing word om te wag. God se plan vir Josef was om in ‘n paleis te woon, maar tog het hy vir jare in die tronk as gevolg van misdade wat hy nooit gepleeg het nie, gebly. Dit was egter in die tronk wat hy die skinker ontmoet het aan wie die farao goedgesind was. Deur hierdie vriendskap is Josef tot tweede in bevel van Egipte bevorder. Wanneer jy met God ‘n pad stap, word jou geleenthede vir bevordering deur sy plan, nie deur iemand ander se aksies nie, gereguleer. Voorbereiding vind altyd voor bevordering plaas.

Toe Elia vuur uit die hemel by Karmelberg laat neerkom het, het almal hom bewonder en toegejuig. Hy het egter daarna vir jare deur ‘n hongersnood gelewe, waar sy enigste vriend ‘n arm weduwee was. Saam moes hulle God vir elke ete vertrou. Dis daar wat Elia belangrike lesse oor nederigheid, goddelike leiding en vertroue op God in tye van nood, geleer het – dinge wat nie noodwendig natuurlik tot ons kom nie.

Wanneer God iets groots gaan bou, neem Hy die tyd om ‘n sterk fondasie te lê. ‘En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; en Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het’ (Lukas 2:52 NLV). Gee jouself tyd om te groei. Laat Hom toe om ‘n fondasie onder jou te bou wat jou en die seëninge wat Hy in die komende jare vir jou in gedagte het, sal kan ondersteun.

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:26-15:4; Ps 146; Spr 28:9-12

Neem die inisiatief (3)

2021-11-29
Spreuke 29:25 NLV

Vierdens, verander jou ingesteldheid. Maak risiko’s jou bang? Voel jy mismoedig as gevolg van mislukkings in die verlede? Sien jy nie die potensiaal wat geleenthede bied raak nie? Jy sal nie in staat wees om vorentoe te beweeg, totdat jy uitvind wat jou terughou nie. ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is. Jy beveilig jou lewe as jy op die Here vertrou.’

Vyfdens, moenie vir geleenthede wag om aan jou deur te kom klop nie. Dit gebeur selde; jy moet vir geleenthede gaan soek. Assesseer jou bates, talente en hulpbronne. Deur dit te doen, kry jy ‘n prentjie van jou potensiaal. ‘Maar ek het nie enige spesiale talente nie,’ sê jy. Ja, jy het. ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV).

Sesdens, neem die volgende stap. Dis een ding om ‘n geleentheid raak te sien; dis iets anders om iets daaraan te doen. Iemand het een keer geskerts: ‘Almal het ‘n goeie idee in die stort. Net ‘n paar mense klim egter uit, droog hulself af en gaan doen iets daaromtrent.’ Kies die beste geleentheid wat jy sien, bid daaroor, doen die beste daarmee wat jy kan en hou aan totdat jy alles moontlik gedoen het om dit te laat gebeur. Wanneer jy jou beste gedoen het, vertrou op God om die res te doen.

Winston Churchill het gesê: ‘Moed word tereg as die eerste van menslike eienskappe geag… want dit is die eienskap wat alle ander waarborg.’ Waar kom hierdie moed vandaan? Van God af! Die Psalmdigter het gesê: ‘Vertrou deurgaans op die Here, want die Here God is vir altyd ‘n veilige toevlug’ (Jesaja 26:4 NLV).

Sielskos: Jos 5:1-8:29; Joh 14:15-25; Ps 118:19-29; Spr 28:5-8

Neem die inisiatief (2)

2021-11-28
Jeremia 17:7 NLV

Tweedens, neem aksie. Inisieerders wag nie vir ander mense om hulle te motiveer nie. Hulle weet dis hulle eie verantwoordelikheid om vorentoe buite hul gemaksone te beweeg, en hulle maak dit ‘n gewoonte. President Theodore Roosevelt het gesê: ‘Daar is niks briljant of uitstaande in my rekord nie, behalwe miskien hierdie een ding. Ek doen die dinge wat ek glo gedoen moet word. En as ek besluit om iets te doen, doen ek dit.’ Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veilige weiding’ (Psalm 37:3 NLV).

Derdens, leer uit jou foute en hou aan vorentoe beweeg. Die goeie nuus vir inisieerders is dat hulle dinge laat gebeur. Die slegte nuus is dat hulle baie foute langs die pad maak. Hoe groter jou potensiaal, hoe groter is jou kans op mislukking. Senator Robert Kennedy het gesê: ‘Slegs diegene wat dit waag om baie te misluk, kan baie bereik.’

Is jy aanhoudend op die uitkyk vir geleenthede, of wag jy vir dit om na jou toe te kom? Is jy gewillig om te bid en ‘n tree in geloof te gee, of analiseer jy alles eindeloos? Die voormalige voorsitter van Chrysler, Lee Iacocca, het gesê: ‘Selfs die regte besluit is verkeerd wanneer dit te laat geneem word.’

Wanneer laas het jy iets wesenlik in jou lewe geïnisieer? As jy nie onlangs vorentoe uit jou gemaksone beweeg het nie, moet jy dalk jou inisiatief aan die brand skop. Die Bybel sê: ‘…Hy is julle helper, Hy is julle skild’ (Psalm 115:11 NLV). Dit beteken dat God jou sal help om sukses te behaal. Hy sal jou ook beskerm wanneer jy misluk en jou weer op die regte pad bring.

Sielskos: Gen 14:18; Ps 110; Heb 5:5-11

Neem die inisiatief (1)

2021-11-27
Deuteronomium 31:7 NLV

Wanneer God vir jou ‘n onvoorwaardelike belofte gee, is al wat jy moet doen om daarop te wag. Wanneer Hy egter ‘n voorwaardelike belofte maak, moet jy jou deel in die vervulling daarvan doen. Soms vereis dit dat jy die inisiatief moet neem.

Vir Israel het dit beteken dat hulle bereid moes wees om teenkanting te trotseer en die ander nasies uit die Beloofde Land te verdryf, sodat dit aan hulle kon behoort. “Toe het Moses vir Josua geroep. In die teenwoordigheid van die hele Israel het hy vir Josua gesê: ‘Wees sterk en hou moed! Jy sal hierdie volk die land inlei, die land wat die Here aan hulle voorvaders beloof het. Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie'” (verse 7-8 NLV). In wese het God gesê: ‘Wanneer jy die inisiatief neem, sal Ek namens jou optree.’

Hy sê vandag dieselfde ding vir jou. Hier is wat dit beteken om die inisiatief te neem: 1) Jy weet wat jy wil hê. Die humoris en pianis Oscar Levant het een keer geskerts: ‘Sodra ek tot ‘n besluit gekom het, is ek baie besluiteloos.’ Ons glimlag, maar dis hartseer genoeg die manier waarop baie van ons optree. Die feit bly staan dat jy nie tegelyktydig besluiteloos en effektief kan wees nie.

2) Jy is gewillig om risiko’s te neem. Die verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige is dit: as gelowige, het God belowe om voor jou uit te gaan en die omstandighede in jou guns te reël. ‘Maar ek is bang!’ sê jy. Geloof in God elimineer nie vrees nie – dit oorkom dit. Neem dus die inisiatief.

Sielskos: Jos 1-4; Joh 14:1-14; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4