2021-12-07
Handelinge 10:3-4.NLV
Wanneer God die status quo wil verander, begin Hy dikwels deur iemand ‘n visie te gee. Dis hoe ‘n eeue-oue grens oorgesteek is en die heidene toegelaat is om die evangelie vir die eerste keer aan te hoor. Het jy geweet dat jy ‘n Christen kan wees en steeds bevooroordeeld kan wees? Jy kan inderwaarheid ‘n gelowige wees en bevooroordeeld teenoor mense wees wat jy nie ken of verstaan nie, omdat jy hulle jou hele lewe lank vermy het en hulle geoordeel het.
Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom’ (Matteus 24:14 NLV). Petrus was by toe Jesus dit gesê het. Hy het egter nie geluister nie, of nie gehou van dit wat hy hoor nie. In daardie dae was die skeiding tussen die Jode en die heidene so groot soos die skeiding tussen swart en wit mense voor die burgerregtebeweging.
God het vir Petrus gesê om na die huis van Kornelius, ‘n heiden – iemand wat Petrus as onrein geag het, te gaan en die evangelie daar te preek. Hoe het God dus Petrus se hart verander? Dit het nie net een nie, maar twee visioene geverg! God het vir Kornelius ‘n visioen gegee waarin Hy vir hom gesê het om ‘n Joodse prediker genaamd Petrus na sy huis toe te nooi om die evangelie daar te preek. Terselfdertyd het hy vir Petrus ‘n visioen gegee waarin Hy vir hom gesê het: ‘As Ek iemand aanvaar, mag jy hom nie durf verwerp nie!’
Die waarheid is dat wanneer God dinge wil verander, Hy die proses aan die gang sit deur iemand ‘n visie te gee – en daardie iemand kan jy wees!
Sielskos: Kol 1-2; Joh 17:1-12; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10
2021-12-06
Handelinge 9:10 DB
Miskien dink jy dat God nooit ‘n visie vir iemand soos jy sal gee nie, veral omdat jy nog nooit ‘n teologiese seminaar bygewoon het nie. Jy sal egter verkeerd wees om dit te dink.
Die Bybel sê die volgende: ‘In Damaskus was daar ‘n volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het in ‘n visioen met hom gaan praat: ‘Ananias!’ ‘Ja, Here, hier is ek,’ het hy geantwoord. Toe sê die Here vir hom: ‘…Gaan soek die huis waar ‘n man met die naam Judas bly. Vra dan vir hom of jy Saulus te sien kan kry. Hy is op die oomblik besig om te bid. Ek het reeds in ‘n gesig vir hom gewys dat jy op pad is na hom toe om jou hande op hom te sit sodat hy weer kan sien’… Ananias het toe gedoen wat die Here vir hom gesê het. In Judas se huis het hy sy hande op Saulus gaan sit. Hy sê toe vir hom: ‘Saulus, my broer, die Here het my na jou toe gestuur. Dit is Hy, Jesus, wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was. Hy het my na jou toe laat kom sodat jy weer kan sien en sodat jou lewe vervul kan word met die Heilige Gees.’ Ananias het skaars klaar gepraat, toe val daar iets soos skille van Saulus se oë af. Daarna kon hy weer sien. Hy is ook gedoop…’ (verse 10-12, 17-19 DB).
God het Ananias gebruik om die apostel Paulus na Christus toe te lei. Wat egter interessant is, is dat Ananias nooit weer verder in die Skrif genoem word nie. Hy was ‘n ‘niemand’ wat ‘n sleutelrol in God se plan gespeel het. As God vir Ananias ‘n visie kon gee en hom vir groot dinge kon gebruik het – sal Hy dieselfde vir jou doen.
Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:19-33; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5
2021-12-05
Handelinge 9:6 AFR53
Paulus het geglo dat hy besig was om God se wil te doen deur Christene gevange te neem en dood te maak. Toe hy egter sy ware roeping ontdek het, het dit op ‘n dramatiese wyse plaasgevind. ‘Toe hy op sy sending naby Damaskus kom, het daar skielik ‘n lig uit die hemel hom omstraal! Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ het hy toe gevra. ‘Ek is Jesus,’ antwoord Hy. ‘Dis vir Mý wat jy vervolg! Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan’ (verse 3-6 NLV). Daardie dag het sy bediening begin; een wat bestem was om die wêreld te verander! Soos sy lewe tot ‘n einde gekom het, kon hy sê: ‘…ek [was] nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam… nie’ (Handelinge 26:19 NLV).
Jou visie moet nie uit jou behoefte om ander mense te beïndruk of soos hulle te wees, ontstaan nie. Jy is geroepe om God se wil, nie jou eie of iemand anders s’n nie, te doen. Die Bybel sê: ‘Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel’ (Hosea 5:11 AFR53). Jou visie moet die resultaat van goddelike leiding wees, nie as gevolg van ‘die gebod van mense’ nie. Jy moet die volgende kan bid: ‘Here, U het my hierdie visie gegee en ek vertrou dat U my van alles sal voorsien wat nodig is daarvoor.’ Die apostel Johannes skryf: ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister’ (1 Johannes 5:14 NLV).
Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Tim 2:1-13; 1 Kor 16:1
2021-12-04
Jeremia 23:16 NLV
Jy kan nie God se doel vir jou lewe besluit nie, jy ontdek dit. Hoe doen jy dit? Deur gebed. God sê: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het…’ (Jeremia 29:11 NLV). Jou ouers mag dalk nie jou koms beplan het nie, maar God het. Jy mag dalk deur probleme oorweldig wees, maar God sien jou potensiaal raak.
Dawid se familie het nie gedink dat hy veel sou bereik nie. Waar hulle ‘n skaapwagter gesien het, het God egter ‘n koning gesien. Toe hy daarop terugkyk het, het Dawid geskryf: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!.. As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal U nog by my wees’ (Psalm 139:16-18 NLV).
Jy is uniek – en so ook God se plan vir jou. Dis bemoedigend om stories te lees en na groot presteerders te luister en te dink: ‘As hulle dit kan doen, kan ek ook!’ Die geheim is egter om by ander te leer, sonder om hulle te probeer na-aap. Dis nie genoeg om ‘n goeie idee te hê nie; dit moet ook die wil van God wees. Jy kan nie besluit wat jou visie moet wees nie; jy ontdek dit deur na God vir leiding te draai. Sy Woord sê dat Hy dit vir jou sal gee: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs'” (Jesaja 30:21 NLV). Dis hoe jy weet dit kom van die Here af!
Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:12-18; Ps 2; Spr 28:25-28
2021-12-03
Psalm 101:2 DB
Na koning Dawid se owerspel met Batseba, het die profeet Natan gesê: ‘Van nou af sal die swaard ‘n permanente bedreiging vir jou familie inhou…’ (2 Samuel 12:10 NLV). Dit het ook so gebeur. Nadat sy seun, Amnon, sy halfsuster Tamar verkrag het, het Dawid niks daaraan gedoen nie, omdat hy sy morele outoriteit by die huis verloor het. Sy ander seun, Adonia, het ‘n staatsgreep uitgevoer. ‘Sy pa… het hom van kleins af nooit berispe of selfs gevra: ‘Wat doen jy?’ nie…’ (1 Konings 1:6 NLV).
As leier het Dawid Israel verenig, oorloë gewen en die verbondsark terug na Jerusalem gebring. Binne sy eie familie het hy egter misluk. Geen wonder hy het: ‘…teen die Olyfberg opgegaan… [en] die hele tyd gehuil…’ nie (2 Samuel 15:30 NLV). Toe hy van sy seun Absalom se ontydige afsterwe te hore gekom het, het hy uitgeroep: ‘…As ek maar in jou plek kon sterf!..’ (2 Samuel 18:33 NLV). Toe hy self op sterwe gelê het, het sy slawe ‘n jong meisie gaan soek om hom te versorg en te bedien, in plaas daarvan om dit van sy vrou of kinders te verwag (sien 1 Konings 1:1-4).
Dis te laat om Dawid se verhaal te verander – maar nie te laat om joune te verander nie! As jy sukses in jou loopbaan behaal, maar by die huis misluk, sal jou prestasies leeg wees. Behalwe vir jou verhouding met God, moet jou eerste prioriteit wees om jou maat lief te hê en jouself aan die kinders wat jou naam dra, toe te wy. Dawid het geskryf: ‘…Daar by my huis wil ek so leef dat U daarop trots kan wees.’ Ongelukkig was Dawid se beste nie goed genoeg nie. Deur God se genade, kan jou verhaal egter anders wees!
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 16:1-11; Ps 130; Spr 28:21-24
2021-12-02
Rigters 7:11 NLV
Word jy gekritiseer? Het dit jou selfvertroue beïnvloed? God het vir Gideon gesê: ‘As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan. Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry’ (verse 10-11 NLV).
Hoekom het God vir Gideon en sy helper na die vyand se kamp toe gestuur? Om te hoor wat hulle sê en om Gideon te bemoedig. Toe hulle daar aankom, was een van die soldate besig om sy vriend van sy droom te vertel: ‘…’daar kom ‘n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ‘n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.’ Sy maat het geantwoord: ‘Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon… nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.’ Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die Here gedank…’ (verse 13-15 NLV).
Soms wanneer jy aanmoediging nodig het, is dit goed om aandag te gee aan wat jou kritici sê. Jy is besig om ‘n verskil te maak – andersins sou hulle jou nie eers opgemerk het nie. God het vir elke geveg ‘n strategie. Moet dus nie net vir oorwinning bid nie; vra God om vir jou die wen-strategie te wys. Die Bybel sê: ‘As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs…’ (Psalm 127:1 NLV). As God dus, soos met Gideon, met jou praat en jy is te bang om daarvolgens aksie te neem, staan op hierdie belofte: ‘Ek is dan saam met jou!.. Jy sal al die [vyande] verslaan asof jy net teen een man veg’ (Rigters 6:16 NLV).
Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 28:17-20