2021-12-13
Efesiërs 4:25 DB
Baie mense het niemand wat lief genoeg vir hulle is om vir hulle die waarheid te vertel nie. Dis omdat dit makliker is om niks te sê wanneer iemand anders droogmaak nie. Dis egter nie die liefdevolle ding om te doen nie! Die Bybel sê: ‘Eerlike antwoorde is soos ‘n soen op die mond’ (Spreuke 24:26 NLV). Gewoonlik weet ons wat ons behoort te sê, maar vrees weerhou ons daarvan om dit te sê. As jy egter weet dat die remme van ‘n motor nie behoorlik werk nie, sou jy ‘n geliefde toelaat om die motor te bestuur? Nie? Wel, Paulus skryf soortgelyk aan ons: ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp…’ (Galasiërs 6:1 NLV). Dis wat ‘geestelike’ mense doen!
Wanneer ‘n kwessie te voorskyn kom wat spanning mag veroorsaak, word dit dikwels oorgesien om die vrede te hou. Ons wil nie ‘n ophef maak nie, dus word dit nooit opgelos nie. Paulus spreek hierdie tipe situasies as volg aan: ‘Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God’ (Efesiërs 4:25 DB).
Laat ons egter duidelik wees. Openhartigheid is nie ‘n goedkeuring om onbeskof te wees of net wat jy wil, te sê nie. Onnadenke woorde kan mense seermaak. ‘Moet nooit onbeskof met ‘n ouer man praat nie, maar benader hom met respek asof hy jou eie pa is. Praat met die jonger mans soos wat jy met jou eie broers sou praat. Behandel die ouer vroue soos jou ma, en behandel die jonger vroue met eerbied soos jou eie susters’ (1 Timoteus 5:1-2 NLV). Wanneer ‘n moeilike kwessie opduik, beteken omgee dat jy op ‘n eerlike en liefdevolle manier daarby betrokke raak.
Sielskos: Neh 11-13; Joh 19:1-16; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9
2021-12-12
Filippense 1:9 NLV
Wanneer jy jouself in ‘n krisis bevind, sal die regte houding die verskil tussen wanhoop en vasberadenheid maak. Dr Jeffrey Rossman stel die volgende ses stappe voor: 1) Soek maniere om betekenis in jou ervaring te vind. Veerkragtige mense gebruik hulle ervarings om ander mense te help. ‘In al ons swaarkry bemoedig Hy ons… sodat ons ook in staat sal wees om mense… by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het’ (2 Korintiërs 1:4 NLV).
2) Ondersoek jou prioriteite. ‘Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom’ (Psalm 90:12 NLV). Hoe wil jy tans jou dae anders deurbring? Met wie wil jy dit die graagste deurbring? As jy net een jaar oorgehad het om te lewe, watter gesprekke sou jy wou hê? Wat se tipe mens sou jy wil wees?
3) Glo dat jy kan terugspring. ‘n Belangrike aspek van veerkragtigheid in geloof, is jou vermoë om dinge te kan hanteer. Selfs al het jy die praktiese vermoë om die kwessie te hanteer, sal jy struikel as jy nie in jou emosionele buigsaamheid glo nie.
4) Begin beweeg. Fisiese oefening verbeter jou energie en bui. Dit versterk jou vermoë om beheer van jou gesondheid en welstand te neem.
5) Klim uit jou gemaksone uit. Leer ‘n nuwe taal of rekenaarprogram; begin ‘n nuwe projek by die huis of werk. Wanneer jy die onbekende omhels, versterk dit jou selfvertroue en kapasiteit om nuwe situasies te hanteer. Hoe meer jy van jouself verwag, hoe meer veerkragtig sal jy word.
6) Verwyder die onkruid wat jou optimisme versmoor. Wanneer jy pessimistiese of siniese gedagtes begin dink, neem ‘n tree terug en wysig jou perspektief deur vir konkrete stappe om jou probleem op te los, uit te kyk.
Sielskos: Pred 11:7-12:1; Ps 39:4-13; 2 Tim 4:6-8
2021-12-11
Psalm 142:4 NLV
Hoe jy ‘n krisis hanteer, sal bepaal of jy oorweldig voel of sterker anderkant uitkom. Dr Jeffrey Rossman stel vyf maniere voor om dit te doen: 1) Erken jou gevoelens. Dawid het gesê: ‘Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad…’ God weet reeds hoe jy voel en as jy jou emosies probeer onderdruk, mors dit net jou energie, maak jou gespanne en depressief en vertraag die genesingsproses.
2) Neem iemand in jou vertroue. Dit beteken nie dat jy jou hart teenoor almal en enigiemand moet uitstort nie; dit beteken dat jy jou hart teenoor diegene wat vir jou lief is en vir jou omgee, oopmaak. Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV).
3) Begin ‘n dagboek. Om oor ‘n traumatiese gebeurtenis te skryf, is ‘n manier om ontlading daaraan te gee. Hoe meer jy daaroor skryf, hoe meer sal jou negatiewe reaksies aan die herinnering daarvan, verminder.
4) Weier om die blaam rond te skuif. ‘Dis die ander persoon se fout,’ of ‘Die dokter het die prosedure opgemors,’ of ‘Die baas het my nooit ‘n kans gegee nie.’ Wanneer jy die blaam skuif, maak jy ander mense vir jou pyn verantwoordelik en dikwels veroorsaak dit blywende wrokkigheid, wat jou ellende verleng. Laat toksiese bitterheid en veroordeling gaan.
5) Vergewe jouself. Verrassing – jy is menslik, net soos almal anders! Erken dat jy ‘n fout gemaak het, vra God vir vergifnis, vergewe dan jouself en beweeg aan. God se Woord sê dat wanneer Hy vergewe, Hy nie weer aan jou sondes dink nie (sien Jesaja 43:25). Jy moet dit ook nie doen nie.
Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:25-40; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4
2021-12-10
1 Kronieke 16:41 NLV
Daar is ‘n goeie kans dat jy nog nooit van hierdie twee mans gehoor het nie; hulle is twee van die meer onopsigtelike karakters in die Bybel. Hulle is aangestel om in die wonderlike aanbiddingskore van koning Dawid as dankseggers op te tree. Hulle het ‘…direk aan die koning gerapporteer’ (2 Kronieke 25:6 NLV). Dit was letterlik hulle werk om dank aan die Here te bring.
Dis ook jou werk! Jy rapporteer aan die Koning van Konings wat jou die volgende beveel: ‘…wees dankbaar’ (Kolossense 3:15 NLV), ‘Offer dankoffers aan God…’ (Psalm 50:14 NLV), ‘Laat ons met lofsange voor Hom kom…’ (Psalm 95:2 NLV), ‘Gaan sy poorte in met dankliedere…’ (Psalm 100:4 NLV), en ‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag’ (1 Tessalonisense 5:18 NLV).
Was jy al ooit so ontroer dat jy spontaan begin lofprys het? Niks is meer opwindend as dit nie. Jy sal nooit weet wat jy misloop as jy nie jou Skepper met alles in jou aanbid nie. Sing, lig jou hande op, huil, lag, wat ook al… as jy dit in die gees van lofprysing, danksegging en dankbaarheid doen, sal dit God behaag. Danksegging lei ook tot beter fisiese, emosionele en geestelike gesondheid. Die Skepper van jou siel is ‘n meester sielkundige. Hy weet dat danksegging nie net toepaslik nie, maar ook terapeuties is. Dis moeilik om terseldertyd dankbaar en knorrig, krities of in ‘n slegte bui te wees.
Sielskos: Neh 5-7; Joh 18:12-24; Ps 150; Spr 29:22-27
2021-12-09
Psalm 89:16 NLV
Die Psalmdigter skryf: ‘Geseënd is hulle wat U met vreugde dien, wat lewe in die lig van u teenwoordigheid, Here.’ Lofprysing is nie net ‘n reaksie daarop om in God se teenwoordigheid in te gaan nie; dit doen baie meer. Dit maak die deur oop waardeur God jou lewe binnegaan en namens jou aan die werk spring. Met ander woorde, lofprysing bring God se teenwoordigheid, sowel as sy direkte ingryping, mee.
Die naam Juda beteken: ‘Prys die Heer,’ en toe die twaalf stamme van Israel gereis het, het Juda hulle gelei (sien Rigters 20:18). Op een geleentheid, toe Israel se vyande teen hulle opgetrek het, het Josafat ‘n koor na die voorste linies gestuur om met lofprysing eer aan God te bring. Dit mag dalk soos ‘n vreemde strategie klink, maar dit het ‘n bonatuurlike oorwinning meegebring. Die Bybel sê: ‘Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg. Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig’ (2 Kronieke 20:22-23 NLV).
Lofprysing is ‘n uitdrukking van geloof; ‘n bevestiging dat jy glo dat God in beheer van die situasie is. Die Bybel praat van ‘n ‘lofoffer’ (Hebreërs 13:15 NLV). Dit beteken dat jy God moet prys, selfs wanneer jy nie lus is om dit te doen nie. Wanneer dit nie natuurlik kom nie, moet jy kies om dit in elk geval te doen. Nehemia het gesê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Lofprysing kan jou emosies genees en die gewig van negatiwiteit wat op jou druk, oplig. Toe, probeer dit!
Sielskos: Neh 1-4; Joh 18:1-11; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21
2021-12-08
Spreuke 29:18 ABA
Robert Woodruff was van 1923 tot 1955 die president van die Coca-Cola maatskappy. Hy wou die koeldrank vir elke Amerikaanse dienspligtige regoor die wêreld vir slegs vyf sent beskikbaar maak, maak nie saak hoeveel dit die maatskappy sou kos nie. Dit was ‘n gewaagde doelwit! Dit was egter beskeie in vergelyking met die groot prentjie wat hy in sy gedagtes gesien het. Woodruff wou gehad het dat almal in die wêreld tydens sy leeftyd, Coca-Cola moet proe.
Let drie dinge op: 1) ‘n Visie begin binne jou. Wanneer jy inwaarts kyk, wat sien jy? Jy kan nie ‘n visie koop, bedel of leen nie; jy moet in jouself kyk en krag uit jou innerlike gawes en begeertes put. Waaroor voel jy passievol? Waaraan dink jy aanhoudend? Waaroor bid jy? Waarvoor sal jy bereid wees om alles op te offer? Jou hardnekkigste begeerte sal jou in die rigting van jou visie stuur.
2) ‘n Visie maak gebruik van jou geskiedenis. ‘n Visie is nie een of ander mistieke eienskap wat uit ‘n vakuum realiseer nie; dit is met jou verlede en die geskiedenis van die mense rondom jou, verweef. As jou visie uit God gebore word, sal dit nie net tot jou eie voordeel wees nie, maar ook tot die voordeel van ander mense wees.
3) ‘n Visie trek hulpbronne aan. Een van die unieke eienskappe van ‘n visie is dat dit soos ‘n magneet is – dit trek mense aan, daag hulle uit en verenig hulle. Dit maak finansies en ander hulpbronne bymekaar. Hoe meer uitdagend die visie is, hoe harder sal die deelnemers baklei om dit ‘n realiteit te maak.
Vra dus vandag vir God om jou ‘n visie vir jou lewe te gee, en kyk hoe dit alles bymekaar kom.
Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:13-26; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15