2021-12-19
1 Konings 3:9 DB
‘Daardie nag het die Here met Salomo in ‘n droom gepraat en vir hom gevra: ‘Wat kan Ek vir jou gee?’ (vers 5 DB). Salomo het geantwoord: ‘…Gee vir my die insig om regverdig te wees en tussen goed en kwaad te kan onderskei…’ (vers 9 DB). Volgende lees ons: ‘Die Here was baie gelukkig met wat Salomo gevra het…’ (vers 10 DB). Die Here was egter nie klaar met Salomo nie: ‘Boonop gee Ek jou ook alles wat jy nie gevra het nie. Jy sal baie ryk wees en die mense sal jou eer. Geen ander koning sal so ryk en so geëerd wees soos jy nie’ (vers 13 DB).
Goeie oordeel het Salomo een van die grootste konings wat nog ooit geheers het, gemaak. Jy het seker al gehoor dat mense sê: ‘Vertrou jou instink!’ Goeie oordeel hang egter nie net van intuïsie, intellek of ervaring af nie. Ons lees in Spreuke: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal vir jou die regte pad wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).
Daar is twee soorte goeie oordeel: natuurlike oordeel en geestelike oordeel. Een soort kan jou in die steek laat – die ander soort sal nie. Wanneer natuurlike oordeel jou nie ‘n tree verder kan bring nie, stel geestelike oordeel jou in staat om met geloof en selfvertroue voort te gaan. Hoe sal jy die verskil herken?
Jakobus sê vir ons: ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg’ (Jakobus 3:17 NLV). Kan jy jou so ‘n lewe indink? Die goeie nuus is dat jy so ‘n lewe kan hê!
Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13; 2 Kor 3:1
2021-12-18
1 Kronieke 12:32 NLV
Wie het gesê: ‘Wellington is ‘n slegte generaal, die Engelse is slegte soldate; ons sal die kwessie teen middagete opgelos hê’? Napoleon Bonaparte, net voor die slag van Waterloo in 1815. Wie het gesê: ‘Ek dink daar is wêreldwyd ‘n mark vir omtrent vyf rekenaars’? Thomas J. Watson, die voorsitter van IBM, in 1943. Wie het gesê: ‘Ek het nie lyfwagte nodig nie’? Jimmy Hoffa, ‘n maand voor sy verdwyning in 1975.
Wat het al hierdie mense in gemeen? ‘n Gebrek aan goeie oordeel – wat hulle duur te staan gekom het. Jy het goeie oordeel nodig om die lewe se geleenthede raak te sien en die lewe se probleme op te los. As jy die ware oorsaak van ‘n probleem kan raaksien, sal jy ‘n baie groter kans hê om dit op te los.
Dit beteken dat wanneer jy in die area van jou kerngawe bly, jou oordeel sterker sal wees. As jy dus goeie oordeel aan die dag wil lê, moet jy in areas waar jy sterk is te werk gaan. Doen egter meer as dit. Bid vir goeie oordeel. Dis een van die nege ‘vrugte van die Gees’ wat in die Skrif aan ons belowe word (sien 1 Korintiërs 12:7-10).
Sommige van Israel se grootste oorwinnings het plaasgevind toe Dawid koning was. As ons kyk na die mans wat sy weermag opgemaak het, lees ons: ‘…Hierdie manne [van Issaskar] het die tye verstaan en geweet wat vir Israel die regte pad is.’ Goeie oordeel help jou om deure van geleenthede te sien waar ander mense net baksteenmure sien. Dis sal jou van die lewe se slaggate red en jou wys wat ‘die regte pad’ is – bid dus vir goeie oordeel.
Sielskos: Sag 5-8; Joh 20:19-31; Ps 67; Spr 30:29-33
2021-12-17
1 Samuel 30:8 NLV
Toe Dawid en sy manskappe weg was om oorlog te maak, het die Amalekiete hulle huise vernietig en hulle families gevange geneem. Eerstens het Dawid se manskappe gehuil. Tweedens het hulle na Dawid vir leiding gedraai. Derdens het Dawid God se wil gesoek, deur te vra: “…’Moet ek hulle agternasit? Sal ek hulle inhaal?’ En die Here het geantwoord: ‘Ja, agtervolg hulle. Jy sal hulle sekerlik inhaal en alles terugkry wat van jou geneem is.'”
Let vier belangrike punte op: 1) Satan sal jou geliefdes aanval om jou by te kom. Dit mag dalk iets groots wees soos jou man wat sy werk verloor of jou vrou wat ‘n knop in haar bors ontdek, of dit kan kleiner goed soos familiespanning of ‘n gebrek aan bedagsaamheid teenoor mekaar, wees. Jy moet waaksaam bly en Satan se aanvalle kan herken, sodat jy jouself teen hulle kan verdedig.
2) Wees lief vir mense, maar maak slegs op God staat. Die mense rondom Dawid het die een dag nog saam met hom geveg, en die volgende dag hul rug op hom gedraai. Dis hoekom jou krag, strategieë en oplossings van God en nie van ander mense af nie, moet kom.
3) Praat op die regte manier met jouself. As jy moedeloos wil wees, praat oor jou situasie. As jy moed wil skep, praat met die Een wat jou situasie kan oplos – die Here. Die Bybel sê: ‘Vriendelike woorde bring lewe…’ (Spreuke 15:4 NLV). Leer dus om op die regte manier met jouself te praat.
4) Jy kan dit wat jy verloor het, terugkry. God het vir Dawid gesê: ‘…Ja, agtervolg hulle. Jy sal hulle sekerlik inhaal en alles terugkry wat van jou geneem is.’ Wat God daardie dag vir Dawid en sy manne gedoen het sal Hy vir jou ook doen, mits jy sy wil soek.
Sielskos: Sag 1-4; Joh 20:10-18; Ps 57; Spr 30:24-28
2021-12-16
Handelinge 26:16 NLV
‘n ‘Dienskneg’ fokus daarop om sy meester se wil te doen. ‘n ‘Getuie’ getuig van dit wat hy of sy persoonlik ervaar het. As verloste kind van God, word jy geroep om beide te doen. Kom ons kyk na elkeen.
1) Jy is God se dienskneg. Dit beteken dat jou ore daarop ingestel moet wees om te luister na wat Hy wil hê jy moet doen, wanneer Hy wil hê jy dit moet doen en hoe Hy wil hê jy dit moet doen. Om sy wil te doen, moet die belangrikste item op jou daaglikse agenda wees.
2) Jy is God se getuie. Die waarde van ‘n getuie hang af van hoe naby hulle aan ‘n gebeurtenis was en wat hulle daar geobserveer het. Johannes skryf: ‘…[Hy] is die Een wat ons gehoor en met ons eie oë gesien het… ons het dit gesien en getuig daarvan…’ (1 Johannes 1:1-2 NLV).
Die geselskap waarin jy jou bevind, beïnvloed jou. Wanneer jy elke dag tyd met Jesus bestee, sal ander mense deur jou lewe beïnvloed word. Die Bybel sê: ‘…’n Mens wat wys is, red ander se lewens’ (Spreuke 11:30 NLV). Wanneer jy jou geloof deel, moet jy wysheid, takt en genade aan die orde van die dag lê. Die kans is goed dat baie mense wat jy teëkom, reeds ten minste een slegte ervaring met Christene en die kerk gehad het, dus moet jy ‘wys’ wees.
Hoe doen mens dit? Deur hulle te vertel dat Jesus die Groot Geneesheer is wat gebroke harte weer heel maak. Dat die kerk ‘n hospitaal is waar sommige mense gesond is terwyl ander nog in intensiewe sorg is. As jy dit behoorlik verduidelik en mense dit verstaan, sal hulle na Jesus toe aangetrek word. Wat is dus jou opdrag? Om sy dienskneg en getuie te wees!
Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23
2021-12-15
Efesiërs 1:11 NLV
God kan die verkeerde besluite van die mense rondom jou in jou guns laat werk. In plaas daarvan om dus iemand te soek om te blameer, probeer om die hand van God aan die werk in jou situasie te soek.
Josef het drie dinge ontdek: 1) Wanneer God jou in ‘n paleis wil hê, kan niemand jou in die tronk hou nie. 2) Jou toekoms is nie in ander mense se hande nie; dis in God se hande. 3) Jou Godgegewe lewensopdrag het nie ander mense se samewerking of goedkeuring nodig nie, maar dit verg wel die samewerking van een persoon – jy.
Josef se broers het die verkeerde besluit geneem deur hom kwalik te neem. Potifar se vrou het die verkeerde besluit geneem deur hom vals te beskuldig. Die bakker het die verkeerde besluit geneem deur sy rug op hom te draai. God het dit egter nie gedoen nie! Hy het elke tree wat Josef geneem het bepaal, al die pad tot by die troon toe. Jare later het Josef van aangesig tot aangesig met diegene wat hom so sleg behandel het, gekom en gesê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV).
God se doelwitte sal altyd mense se planne oorkom. Niemand kan God daarvan weerhou om jou te gebruik, te seën en vir jou sukses te gee nie, behalwe jyself. Maak dus seker dat jou hart en houding reg is! Paulus skryf: ‘Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie volk geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het’ (Efesiërs 1:11 NLV). Soek dus God se hand in alles.
Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:30-42; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19
2021-12-14
Hebreërs 2:1 NLV
Jou hoogste prioriteit moet altyd jou verhouding met God en die vervulling van sy wil vir jou lewe wees. Moenie toelaat dat hierdie prioriteit ‘gly’ nie. Daar is ‘n ontnugterende illustrasie hiervan in die Ou Testament. ‘n Soldaat moes toesig oor ‘n belangrike gevangene hou. Daar is vir hom gesê: ‘…Pas hierdie man op. As hy om enige rede ontsnap, sal jy doodgemaak word of jy moet ‘n boete van 30 kilogram silwer betaal’ (1 Konings 20:39 NLV). Ten spyte van hierdie waarskuwing, het hy toegelaat dat sy gevangene ontsnap. Hoe het dit gebeur? Deur agtelosigheid en omdat hy met ander dinge besig was. “‘Maar terwyl ek met iets anders besig was, het die gevangene weggekom!’ ‘Nou dan is dit jou fout,’ antwoord die koning van Israel. ‘Jy het die oordeel oor jouself gebring'” (vers 40 NLV).
Dis jou verantwoordelikheid om jou geestelike prioriteite in plek te hou. As jy dit nie doen nie, sal jy ‘n hoë prys betaal. ‘Maar ek bid elke oggend,’ sê jy. Dis goed, maar neem jy die tyd om na God te luister en leiding te ontvang voor jy jaag om jou dag te begin? Daar is tans werk in jou lewe aan die gang. Jy mag dalk nie heeltemal daarvan bewus wees nie, maar daarsonder sal jy nooit gereed wees om dit wat God vir jou in gedagte het, te hanteer nie. Die Bybel sê: ‘Maar Jesus het Hom gereeld in ‘n verlate plek afgesonder om te bid’ (Lukas 5:16 NLV). Om tyd met God te bestee, is die prys wat jy moet betaal om Hom te hoor en sy wil te doen. Geestelik gesproke, is daar geen kortpaaie om by enige plek wat dit werd is om heen te gaan, uit te kom nie.
Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:17-30; Ps 105:16-22; Spr 30:10-14