Leer om te konfronteer (1)

2022-02-12
Spreuke 13:18 NLV

Ons geniet nie konfrontasie nie, maar dis onmoontlik om daarsonder te groei. Gesonde konfrontasie vereis dat ons ‘…in liefde by die waarheid bly…’ (EfesiĆ«rs 4:15 AFR83), teenoor diegene wat ons liefhet. Net soos God ons in areas waar ons nodig het om te groei konfronteer, verwag Hy van ons om dieselfde vir ander te doen. Is dit maklik? Nee.

Hier is egter ‘n paar leidende beginsels om jou te help: 1) Praat met die persoon, nie van hulle nie. Gesonde konfrontasie moet direk wees en waar moontlik, in privaatheid plaasvind. Dit verg deurdagte kommunikasie wat op ‘n ferm, maar genadige wyse oorgedra word. Hanteer mense wat seer het, versigtig.

2) Moenie oordryf of geestelike mooipraatjies gebruik nie. Gee spesifieke voorbeelde. Moenie agter woorde soos: ‘Ek glo dat die Here my gewys het dat jy verkeerd is,’ wegkruip nie. Toe die profeet Natan vir koning Dawid oor sy sonde met Batseba gekonfronteer het, was hy spesifiek. Hou ook jou emosies in bedwang; laat genoeg tyd tussen die oortreding en die konfrontasie toe sodat jy enige woede wat jy voel, met gebed kan ontlont.

3) Moenie hulle skuldig laat voel nie; help hulle. Moenie iemand los om daaroor te tob sonder om vir hulle duidelike aanwysings te gee hoe om te verbeter nie. Dis nie regverdig nie en dis nie konstruktief nie. Jou doelwit is nie om iemand te ontbloot nie, maar om vir hulle ‘n beter manier te wys.

4) Moenie krities wees nie; wees meelewend. As jy alles anders nalaat, moenie hierdie beginsel nalaat nie! As jy dit doen, sal jy jouself bevind waar jy veroordeel, eerder as wat jy konfronteer. As jy eerlik is, sal jy erken dat jou paadjie na sukses ‘n paar slaggate gehad het – benader ander mense dus met liefde en besorgdheid.

Sielskos: Jes 30-33; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22