Leer om te konfronteer (2)

2022-02-13
Hebreƫrs 12:11 DB

Gesonde konfrontasie verg dat jy die ander persoon se welstand bo jou eie belange plaas. Hoe konfronteer mens dus iemand op die regte manier? Deur hierdie drie dinge te doen: 1) Wees seker. Daar moet ‘n goeie rede wees om te konfronteer. Dit moet ook ‘n rare gebeurtenis wees, nie ‘n alledaagse een nie. Jy moet nie die ervaring geniet nie. As jy dit doen, moet jy jou beweegredes ondersoek. Voel jy meerderwaardig? Rig jy jou woede oor ‘n heeltemal ander kwessie in hierdie persoon se rigting? Hef jy jouself op terwyl jy hulle afkraak? Voor jy iemand konfronteer, moet jy eers hierdie vrae eerlik antwoord.

2) Wees spesifiek. Vaagheid lei tot ‘n onsekere uitkoms, maak nie saak hoe taktvol en genadig jou woorde mag wees nie. Maak seker dat jy die rede vir die konfrontasie verstaan; en maak dit dan duidelik aan die ander persoon.

3) Wees sensitief. Elke situasie is anders, dus moet ‘n seisoen van selfondersoek en gebed enige ontmoeting van aangesig tot aangesig, voorafgaan. Andersins mag jy dalk probleme ondervind en die ander persoon sal die onsekerheid en ongemak in jou woorde agterkom. Moenie daardie risiko neem nie. As jy nie die tyd geneem het om vooraf te bid en raad te kry nie, moenie alleen in die situasie inspring nie. Dit laat altyd verwarring, wrokkigheid en ‘n spoor van gewonde siele agter. Maak seker dat jou woorde en stemtoon in voeling met die persoon wat jy aanspreek, is.

Probeer ook jou persoonlike agenda in bedwang hou; dit gaan nie oor jou nie! Gee spesifiek aandag aan jou tydsberekening, kies jou woorde versigtig en bid natuurlik vir leiding. Onthou, Christusgesentreerde konfrontasie bring elke keer die regte resultate mee.

Sielskos: Jes 9:1-7; Luk 2:1-7; Matt 4:12-16