2021-12-25
Hosea 14:8 DB
Die woord ‘vier’ beteken om te verbly, te verlustig en te waardeer. Jack Hayford skryf: ‘Daar is so baie wat in die naam van Kersfees gedoen word wat Christus nie verbly of eer nie. Desondanks bevind ek myself waar ek teen godsdienstige mense wat glo dat amper elke Kerstradisie verkeerd is, stry. Hulle is teen versierings, kersbome, of sommer net pret, asof sulke deelname iets heiligs besoedel. Sulke harde sienings is egter onnodig. ‘n Kersboom is ‘n spesifieke stelling. Deur middel van hierdie boom sê ons dat ons in die viering van Kersfees glo. Ons dien ‘n God wat ‘…aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet’ (1 Timoteus 6:17 NLV), en wat deurgaans in die geskiedenis deel van sy volk se feesvieringe is: ‘Hulle het in die Here se teenwoordigheid feesgevier en gedrink en was daardie dag vol vreugde…’ (1 Kronieke 29:22 NLV).
Alhoewel niemand kan sê dat die Bybel ons beveel om kersbome te hê nie, kom ons met vreugde rondom ons bome bymekaar. Ons sien sy lewendige takke as ‘n simbool van die ewige lewe wat Jesus se dood aan die kruis vir ons gegee het. Hy het vir ons vergifnis en ewige hoop gegee. Die kersliggies is ‘n getuienis van sy lig in die wêreld en van sy heerlikheid. Die ornamente reflekteer die dekoratiewe prag waarmee sy goedheid ons lewens versier. Die ster straal hoop uit en herinner ons dat die Here weer sal kom om ons te ontvang.’
Soos julle hierdie Kersfees om die boom bymekaarkom, moenie vergeet om die Een wat: ‘…Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’ (Johannes 8:12 NLV), gesê het, te vier nie.
Sielskos: Jes 9:1-7; Matt 1:18-25; Miga 5:2-5a; Jes 7:14
2021-12-24
Lukas 2:10 NLV
Vir baie mense is Kersfees met vrees, in plaas van plesier, gevul. Jon Walker skryf die volgende: ‘Ek sit in ‘n kitskos restaurant en sien ‘n jong meisie wat ‘n vroeë Kersfees met haar ma vier. Haar geskenke is oor die tafel versprei en sy sê eenvoudig: ‘Ek verlang na Mammma.’ ‘Ek mis jou ook, my kind,’ sê haar ma. Agter die tafel sit daar ‘n vrou wat hulle versigtig dophou. As joernalis, pas ek die legkaartstukke bymekaar. Die vrou wat hulle dophou, is ‘n maatskaplike werker wat oor ‘n gestruktureerde besoek tussen ma en kind, wat hulle bes doen om Kersfees te vier, toesig hou. ‘n Paar minute later daag die pleegouers op om die dogtertjie huis toe te neem. Die ma verlaat die restaurant alleen.
Daar is ‘n donkerder kant aan Kersfees wat ons selde erken. Ons skep hierdie fantasie wat selde met die realiteit ooreenstem, selfs in die beste van huise. Baie herinneringe aan Kersfees is vol spanning, nie blink liggies nie. Die vakansiedae is net nog ‘n verskoning vir Ma om dronk te word, of vir Pa om by sy nuwe familie te wees. Die selfdoodsyfers skiet oor Desember die hoogte in. Depressie is algemeen.
Vir diegene wat moeg vir die leë hoop van Kersfees is, is die goeie nuus dat God by ons is. Jesus het aarde toegekom om ‘…goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou’ vir ons te bring. Ongeag jou situasie, is Kersfees die beste geskenk wat jy ooit sal kry, want: 1) dis die duurste geskenk wat jy ooit sal ontvang, omdat dit Jesus sy lewe gekos het; 2) dis die enigste geskenk wat vir ewig sal hou; 3) dis die enigste geskenk wat jy die res van jou lewe kan geniet.’
Sielskos: 1 Kor 4-6; Matt 1:12-17; Ps 117; Spr 31:18-21
2021-12-23
Spreuke 15:27 NLV
J. Paul Getty se boedel het vier biljoen dollars oorskry. Hy was een van die rykste mans op aarde. Die Los Angeles Times het een van Getty se skrywes aangehaal: ‘Ek raak nooit maklik afgunstig nie, behalwe vir die afguns wat ek teenoor mense wat die vermoë het om ‘n huwelik te laat werk, voel. Dit is ‘n kuns wat ek nog nooit kon baasraak nie. My rekord: vyf huwelike, vyf egskeidings. Kortom, vyf mislukkings.’
Die koerantartikel vertel verder: ‘Getty het die herinneringe aan sy verhouding met sy vyf seuns, as ‘pynlik’ beskryf. Baie van sy pyn is saam met sy boedel aan sy nasate nagelaat. Timothy, een van Getty se seuns, het in 1958 in die ouderdom van twaalf aan komplikasies na ‘n operasie gesterf. Hy was die meeste tyd van sy lewe siek en het sy pa wat alewig weg op besigheid was, min gesien. Ander lede van die Getty familie het ook tragiese omstandighede gehad. ‘n Kleinseun, J. Paul Getty III, is ontvoer en vir ‘n losprys van $2.9 miljoen aangehou. Toe Getty weier om die losprys te betaal, het die ontvoerders die seun vir vyf maande aangehou en uiteindelik sy oor afgesny. Getty se oudste seun het onder vreemde omstandighede selfdood gepleeg. ‘n Ander seun, Gordon Paul Getty, se omstandighede was baie moeilik. Sy pa het hom gespot en hy was definitief nie sy pa se gunsteling nie. Soortgelyke droefheid het ander lede van hierdie ongelukkige familie soos ‘n skaduwee gevolg.’
Wanneer jy geld eerste en jou familie tweede stel, maak dit jou niks anders as ‘n ryk mislukking nie. As jy dus besig is om jou familie vir jou loopbaan op te offer, begin veranderinge maak! Moenie eendag terugkyk en besef dat jy vir die verkeerde dinge gelewe het nie.
Sielskos: 1 Kor 1-3; Matt 1:6b-11; Ps 113; Spr 31:14-17
2021-12-22
Deuteronomium 8:18 NLV
Nadat jy jou kinders geleer het hoe om met God die pad te stap, is die belangrikste lewensles wat jy hulle kan leer hoe om hulle geld met wysheid te hanteer.
Dr James Merritt skryf: ‘Ons het vroeg reeds ons kinders die beginsels van werksaamheid, eerlikheid en verantwoordelikheid begin leer. 1) Gee vir jou kinders van vroeg af werkies wat hulle sonder vergoeding moet doen, soos om hulle beddens op te maak, hulle speelgoed op te tel en hulle kamers skoon te maak. Inspekteer hulle kamers elke keer, moedig hulle soveel as moontlik aan, maar laat hulle weet dat jy ‘n sekere standaard van hulle werk verwag (daar moenie speelgoed op die vloer wees, die bed moet mooi opgemaak wees ens.). Dit sal hulle oor die waarde van werk, die vervulling oor ‘n werk wat goed gedoen is en die dissipline om die bevele van iemand in outoriteit te volg, leer.
2) Soos jou kinders ouer word, kies werk wat hulle in staat is om te doen (die kar te was, die vloer te stofsuig ens.), en besluit dan op billike vergoeding. Dit sal hulle die waarde van geld begin leer en die idee van beloning vir werk wat goed gedoen is, versterk. Weereens moet jy sekere standaarde van hulle werk verwag en hulle nie betaal totdat die werk heeltemal voltooi is nie.
3) Moenie jou kinders sakgeld gee of hulle leer om dit te verwag nie. Leer hulle eerder dat mens geld ontvang deur daarvoor te werk. Daar is niks daarmee verkeerd om vir jou kind geld uit liefde of as ‘n beloning (soos byvoorbeeld vir ‘n goeie rapport) te gee nie, maar kinders moet die verhouding tussen eerlike werk en regverdige vergoeding leer.’
Hierdie is drie beginsels wat hulle dwarsdeur hulle leeftyd, goed te pas sal kom.
Sielskos: Maleagi 1-4; Matt 1:1-6a; Ps 128; Spr 31:10-13
2021-12-21
Spreuke 10:22 NLV
Daar is ongeveer vyfhonderd Bybelverse wat oor gebed handel en meer as tweeduisend verse wat handel oor hoe om geld en besittings te hanteer. Dit is nie verrassend om te hoor dat kwessies oor geld dikwels die rede is hoekom mense skei nie. Daar is ook ‘n goeie rede hiervoor: geld en stres gaan dikwels met mekaar gepaard. Die Bybel sê: ‘Dit is die Here se seën wat rykdom bring…’
Nie net verwag God van ons om geld te maak nie, maar wanneer ons Hom eer, sal Hy ons help op meer te maak. Daar is egter ‘n regte en ‘n verkeerde manier om dit te doen. Die Bybel leer ons dat geld deur harde werk bekom moet word. ‘Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk’ (Spreuke 10:4 NLV). ‘Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik. Wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, het naderhand baie’ (Spreuke 13:11 NLV).
God verwag van ons om te werk, net soos Hy van diegene in bestuursposisies verwag om ‘n goeie dagloon te betaal. Werkers help die bestuur om ‘n wins te maak, terwyl die bestuur werkers help om ‘n salaris te ontvang. ‘n Wins wat deur harde werk verdien is en ‘n salaris wat eerlik verdien is, behaag die Here. Jou geld moet egter deur eerlike werk bekom word. ‘Wie arm mense veronreg om homself te verryk, of vir die rykes geskenke gee, sal self in armoede verval’ (Spreuke 22:16 NLV). Dit is ‘n waarskuwing aan diegene wat mense indoen deur buitensporige rentekoerse te hef. Die Boodskap parafraseer dit as volg: ‘Die Here haat dubbele standaarde. Besighede wat mense kul of minderwaardige produkte verkoop, is vir die Here ‘n gruwel’ (Spreuke 20:10 DB).
God stel dit duidelik: Wenners kul nooit, en Hy sal seker maak dat verkullers nooit wen nie!
Sielskos: Sag 12-14; Joh 21:15-25; Ps 47; Spr 31:6-9
2021-12-20
Hebreërs 5:14 NLV
In die 1940’s het Switzerland 80 persent van die wêreld se horlosies vervaardig. Toe ‘n uitvinder in die 1960’s ‘n konsep vir ‘n nuwe tipe horlosie aan die leiers van ‘n Switserse maatskappy voorgelê het, het hulle dit verwerp. Al die ander Switserse maatskappye wat die uitvinder genader het, het dieselfde gedoen. Die uitvinder het egter geglo dat daar meriete aan sy ontwerp is en het dit aan ‘n maatskappy in Japan gaan voorlê. Die naam van daardie maatskappy was Seiko, die ontwerp van die horlosie was digitaal en raai wat? Vandag is 80 persent van die horlosies wat wêreldwyd verkoop word, digitaal van aard.
Een besluit wat deur goeie oordeel gedryf word, kan die koers van jou lewe verander en ander mense seën. Een kundige sê: ‘Slim leiers glo net die helfte van dit wat hulle hoor. Leiers met goeie oordeel weet watter helfte om te glo.’
Hier is twee dinge wat jy van Godgegewe oordeelsvermoë moet weet: 1) Dit word deur die Skrif gevorm. ‘Mense wat nog van melk leef, kan nie werklik saampraat oor die Christelike lewe nie… Vaste kos is bedoel vir grootmense [geestelik volwasse mense] – vir hulle wat in die skool van die lewe ingeoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei’ (verse 13-14 NLV).
2) Dit word deur gebruik ingeoefen. Hoe meer jy dit gebruik, hoe meer gesout word jy daarin. Sal jy soms oordeelsfoute maak? Ja, maar soos enige spier sal dit sterker word hoe meer jy dit oefen. Hier is nog ‘n gedagte. Die Bybel verwys na die vermoë om onderskeid tussen geeste, houdings en motiverings te kan tref (sien 1 Korintiërs 12:10). Wat ‘n wonderlike voordeel om in die lewe te hê!
Sielskos: Sag 9-11; Joh 21:1-14; Ps 12; Spr 31:1-5