Glo in jou visie

2021-12-31
Joël 2:29 NLV

God het deur die profeet Joël gepraat en gesê: ‘…Julle oumense sal drome droom. Jongmense sal visioene sien. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort’ (verse 28-29 NLV). God het ‘n visie vir jou om te vervul, ongeag jou ouderdom of geslag. In die musiekblyspel, Man of La Mancha, is daar ‘n toneel waar Don Quixote en sy dienskneg voor ‘n vervalle herberg staan. Toe Quixote sy visie van torings en manjifieke hekke beskryf, het sy dienskneg hard probeer om dieselfde prentjie te sien, maar al wat hy kon sien was ‘n ruïne. Toe hy probeer om die ruïne te beskryf, het Quixote gesê: ‘Stop! Ek sal nie toelaat dat jou feite met my visie inmeng nie!’

Baie keer probeer mense die persoon oortuig dat dit nie gedoen kan word nie – of dat hy of sy dit nie kan doen nie. Dikwels bevestig dit die persoon se diepste vrese oor sy of haar vermoë. Dis die keerpunt! As jy jou kritici kan verontagsaam en bo jou vrese kan uitstyg, sal God jou in staat stel om die visie wat Hy vir jou gegee het, te vervul.

Hou egter in gedagte dat die visie dalk in ‘n oogwink na jou toe kan kom, maar dat dit ‘n leeftyd kan neem om dit te vervul. Habakuk skryf: ‘… Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word… Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie’ (Habakuk 2:3 NLV).

‘n Godgegewe droom weerspreek dikwels die feite, so as jy ‘n visie het, moet jy vir ondersteuners en nie vir kritici nie, uitkyk. Wanneer iemand ook dan sy of haar visie met jou deel, moet jy hulle rasieleier word.

Sielskos: Fil 3:8-14; 2 Kor 5:14-21; Ps 77:11-20; Spr 9:10-12

Jy hoef nie meer weg te kruip nie

2021-12-30
Genesis 3:9 NLV

Wanneer jy nie goed oor jouself voel nie, gebruik jy dinge soos werk, kos, verhoudings, geld en dwelms om ‘n muur te bou om mense sodoende daarvan te weerhou om te naby aan jou te kom. Blywende verhoudings kan egter net gebou word wanneer jy ophou wegkruip. Nog ‘n tegniek wat ons gebruik om weg te kruip, is deur die fokus op ander mense te hou deur te vra: ‘Hoekom het sy ‘n nuwe huis gekry en ek nie?’ of ‘Hoekom het hy daardie werk gekry en ek nie?’ Sulke tipe denke laat jou net ellendig voel.

Wat egter nog erger is as om voor mense voor te gee, is om voor God voor te gee. Toe God vir Adam gevra het: ‘Waar is jy?’ het Hy reeds die antwoord geken. Hoekom het Hy dus die vraag gevra? Omdat Hy wou gehad het dat Adam moet erken waar hy was en wat hy geword het.

Eric Hoffer het gesê: ‘Ons lieg die hardste wanneer ons vir onsself lieg.’ Totdat jy die waarheid oor jouself in die gesig staar, sal jy dit moeilik vind om met God te praat. Jy sal eensaam en geïsoleerd voel. Dis tyd om uit jou wegkruipplek uit te kom, om te kniel en te sê: ‘Vader, ek weet dat U my liefhet. Niks kan dit verander of die vreugde daarvan by my steel nie, behalwe my eie vertwyfelinge en weiering om dit te glo. U was lief vir my voor ek nog gebore was, U het my volgens u plan aanmekaar gesit, U het my verlos en vir my ‘n spesiale doel in die lewe gegee en U werk dag na dag daaraan om my ‘n persoon te maak wat U behaag’ (sien Filippense 2:13).

Die goeie nuus is – jy hoef nie meer weg te kruip nie!

Sielskos: 1 Kor 15-16; Matt 3:1-10; Ps 116; Spr 31:30-31

Jou hart moet besny wees

2021-12-29
Deuteronomium 30:6 NLV

Hebreeuse babaseuntjies is volgens kerkgebruik besny. Dit het aangedui dat hulle in ‘n verbondsverhouding met God is waarin Hy beloof om hulle te beskerm, te lei en te seën. In die Nuwe Testament, het Paulus hierdie kerkgebruik ‘vergeestelik.’ ‘…die ware besnydenis… is die besnydenis van jou hárt wat deur die Gees van God verrig word…’ (Romeine 2:29 NLV). Geestelik gesproke beteken besnydenis dat ons enigiets wat verkeerde impulse en optredes in ons bevorder, ‘afsny.’

Jesus het gesê: ‘Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien’ (Matteus 5:8 NLV). Wanneer jou hart rein is, sal jy God kan sien waar ander mense nie kan nie en Hom kan hoor wanneer ander mense nie kan nie. Die woord ‘rein’ kan ook as ‘sonder besoedeling’ verstaan word. Dis die verskil tussen ‘n helder stroom en ‘n besoedelde stroom. Dit beteken dat jy jou selfgesentreerde denke agterlaat en jou vleeslike natuur kruisig.

Die verskil tussen vergifnis en reiniging is soos die verskil om ‘n onkruid teen die grond af te sny, of dit met wortel en al uit te trek. Vergifnis hanteer die ‘resultaat’ van sonde – dis maklik om te identifiseer. Reiniging hanteer die ‘oorsaak’ van sonde – wat nie so maklik is om te identifiseer nie, omdat dit jou natuurlike eienskappe en karakterfoute insluit. Vergifnis word deur belydenis meegebring, terwyl jy in die lig moet wandel om gereinig te word. ‘As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is… en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV).

Vra jy oor en oor vir God om dieselfde sondes te vergewe? Dis omdat jy ware reiniging moet ervaar. Jou hart moet besny word. Dis ‘n werk vir die Heilige Gees.

Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 2:16-23; Ps 139:13-24; Spr 31:28-29

Vermy gewoontes wat jou kan verslaaf

2021-12-28
1 Korintiërs 6:12 ABA

Paulus het gesê: ‘Ek weet julle sê ‘n mens mag alles doen. Maar julle moet onthou: Alles is nie goed vir ‘n mens nie. Julle sê ‘n mens mag alles doen, maar ek sê jy mag nie iets so belangrik laat word dat dit oor jou regeer nie.’ As jy ernstig oor geestelike groei is, moet jy vir geleenthede uitkyk waar jy vir jouself in klein areas nee kan sê. Jy sal dan een dag wanneer dit regtig saak maak, dit ook kan sê.

Daniël het begin deur nee vir die koning se kos te sê en kon later weier om voor die koning se afgode te buig. Fokus op die ongedissiplineerde areas in jou lewe; die areas waarvoor jy aanhou verskoning maak, rasionaliseer en aanhou uitstel om dit te hanteer. Paulus het sy optrede as volg geoordeel: ‘Is dit voordelig? Het dit die potensiaal om my te beheer?’ (sien 1 Korintiërs 6:12).

Jy het die volste ‘reg’ om elke aand ‘n bak roomys op te eet. Dis toelaatbaar – maar dis nie ‘voordelig’ nie, veral nie as jy ‘n klein middellyf, die vermoë om ‘n marathon te hardloop, of selfs net om by jou kinders en kleinkinders te kan byhou, wil hê nie. Jy het die ‘reg’ om jou geld soos jy wil te spandeer, maar dan moet jy nie kla as skuld ‘n houvas op jou kry nie. Jy het die ‘reg’ om na enigiets op televisie of die internet te kyk, maar blootstelling aan verkeerde invloede sal onvermydelik jou karakter verswak, jou selfrespek steel en jou verslaaf maak.

Jou karakter is die somtotaal van die keuses wat jy elke dag maak. Wanneer dit daarby kom om slegte gewoontes met goeie gewoontes te vervang, is die enigste persoon wat dit kan doen, jyself!

Sielskos: 1 Kor 10-11; Matt 2:9-15; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27

Hoe om jouself te vergewe

2021-12-27
Jesaja 43:25 NLV

God sê in sy Woord: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie. Dink saam met My oor die verlede. Laat ons hierdie saak uitpraat. Stel julle saak en regverdig julleself’ (verse 25-26 NLV). Indien jy vandag jouself veroordeel omdat jy dink dat jou sondes te groot is om God se genade te verdien, gaan terug en lees hierdie Skrifgedeeltes weer aandagtig deur. Hoekom het God gesê Hy sal jou sondes vergewe? ‘…ter wille van Myself…’ Wat moet jy dus doen? ‘…Stel julle saak en regverdig julleself.’ Hoekom vind ons dit so moeilik om God se vergifnis te aanvaar?

1) Omdat ons in sekere gevalle voel dat ons maai wat ons gesaai het.

2) Omdat ons al iemand anders vir presies dieselfde ding wat ons self gedoen het, veroordeel het.

3) Omdat ons dink dat God daarvan hou om ons aan ‘n lyntjie te hou, sodat ons twee keer sal dink voor ons weer dieselfde sonde pleeg.

4) Omdat ons ouers, toe ons ongehoorsaam was, sekere voorregte weggeneem het totdat ons onsself weer bewys het.

5) Omdat ons dink dat ons God se genade moet verdien.

Wanneer jy egter weier om jouself te vergewe, gee jy te kenne dat jou oortredings buite die bestek van God se genade val. Trots is ‘n groot sonde! Hier is nog ‘n gedagte. Wanneer jy altyd ‘n probleem met ander mense het, mag jy dalk iemand soek wat jou aanstoot kan gee. Op hierdie manier kan jy uitwys hoe sleg die ander persoon is en beter oor jouself voel. Wanneer jy egter ‘n nederige houding inneem en daaraan werk om jouself te vergewe omdat God jou vrygespreek het, is dit makliker om ander mense se foute te vergewe.

Sielskos: 1 Kor 7-9; Matt 2:1-8; Ps 97; Spr 31:22-24

Vier Kersfees! (2)

2021-12-26
Nehemia 8:10 AFR53

Die woord ‘holiday’ kom van die ou Engelse woord ‘haligdæg’ af, wat ‘heilige dag’ beteken. Dus, toe Nehemia verklaar het: ‘…Hierdie dag is heilig…’ het hy verklaar dat dit ‘n feesviering is; hulle het ‘…dié dag geëet en gedrink voor die aangesig van die Here met groot blydskap…’ (1 Kronieke 29:22 AFR53). Deesdae het oormatigheid en oorbesteding sinoniem met Kersfees geword, wat Christene huiwerig maak om dit te vier.

Jack Hayford skryf egter: ‘Dikwels is dit diegene wat onlangs gered is wat hulleself toelaat om – miskien vir die eerste keer – die wonder en volheid van Kersvreugde en vieringe binne te gaan. Kersfees is meer as net vrolikheid. Kersfees is magtig. Feesviering – die ongebonde genieting daarvan, liefde, lag, geskenke en om geskenke te gee, kersbome en versierings, kersliedere en klokke – alles daarvan, het ‘n inherente potensiaal om magtig te wees.

Die enigste faktor wat teenwoordig moet wees, is die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Wanneer Hy teenwoordig is, kan die tradisies van Kersfees mense seën, versterk, genees en herstel. Wanneer Hy afwesig is, klink Kersliedere hol. Kerswense en glimlagte is dan oppervlakkig. Ligte en versierings laat mens verlate voel. Waar die Heilige Gees egter teenwoordig is, is daar mag om verskanste gewoontes te verander, om harte te transformeer, om griewe en verwagtinge te laat gaan en om die skaduwees weg te jaag.

Laat Hom hierdie Kersfees toe om jou te besoek. Verwelkom die Heilige Gees om in jou lewe te beweeg. Veroorloof jouself om verwonderd in die grootsheid daarvan te staan. Reik uit na die mense rondom jou; bemoedig, seën, gee, gaan kuier, nooi uit, deel en hef harte op waar jy ook al gaan. Teen die tyd wat die nuwejaar aanbreek, sal jy agterkom dat Kersfees wonderlik en selfs wonderbaarlik magtig was.’

Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 2:21-38