Gebed en meditasie oor die Skrif kan jou gesondheid verbeter
2022-02-091 Tessalonisense 5:17 NLV
Weg is die dae toe sommige teoloë voor die god van wetenskap gebuig het. Betroubare wetenskaplikes bevestig nou hoe vernuftig God is en hoe sy beginsels onder die deurdringende lig van wetenskaplike ondersoek, steeds van toepassing bly. Die neuro-wetenskaplike, dr Andrew Newberg, wat die verhouding tussen geestelike verskynsels en die brein bestudeer, het gevind dat ons ontwerp is om deur middel van gebed en die Skrif fisies en geestelik met God om te gaan. Dis ‘n alombekende feit dat daar dele in die menslike brein is wat positief op gebed, die lees van en meditasie oor God se Woord, lofprysing en empatie vir ander mense, reageer.
Dr Newberg glo ook dat die uitoefening van ‘n persoonlike godsdienstige geloof die kragtigste manier is om ‘n gesonde brein te handhaaf. Die brein se frontale lob word vir rasionele denke en besluitneming gebruik en om jou aandag te fokus. Dit reageer op gebed en meditasie deur te help om stres te verminder, ons immuunstelsel te versterk, ons geheue te verbeter en ons kapasiteit vir medelye te vergroot. Dit help ons om ouderdomsverwante breinverswakking af te weer en langer te leef! Newberg se navorsing dui aan dat om vir ten minste twaalf minute ‘n dag te bid, ouderdomsverwante agteruitgang van die brein kan vertraag.
Gebed en Bybelstudie deaktiveer ook areas in die brein wat met woede, skuldgevoelens, angs, depressie, vrees, wrokkigheid en pessimisme geassosieer word. Uiteindelik lyk dit of die een-en-twintigste eeu se wetenskap by die antieke Skrif aansluit en die Psalmdigter eggo: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar…’ (Psalm 139:14 NLV). Kan jy dink aan ‘n beter rede om die boodskap van Christus in sy volle rykdom in jou te laat bly? (Sien Kolossense 3:16).
Sielskos: Jes 17-21; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13